Terwyl die wêreld nog hulde aan ʼn besondere sportman bring, wil ek hulde aan ʼn klein vroutjie bring wat diep spore in my lewe getrap het.
Ek het haar so ʼn rapsie meer as agt jaar gelede ontmoet. Ek het op ʼn dag ʼn baba na haar geneem. Ek het die sagtheid in haar oë gesien toe sy na my piepkleine baba kyk en ek het geweet ek en hierdie vrou gaan ʼn pad saamstap. En so het ons mekaar leer ken, in die oggende het ek my baba nog donkernag by haar afgelaai en in die middae het ons land en sand gesels.
Sy het deel van ons lewe geword en sy was veel meer as my kinders se dagmoeder. My oudste het haar eerste tree by haar gegee, my jongste het by haar leer kruip. Haar huis was hul huis. So gemaklik by haar as by hul eie oumas.
Sy was hul ouma. Ouma Chrissie.
Hoeveel koppies tee het sy nie vir my geskink nie, stukke koeke gesny, ek het selfs later presies geweet waar die koekies gebêre was …
Sy het vir ons pannekoek gebak, soms selfs vir ons aandete huis toe gestuur. Sy was ʼn rots.
Soms het ons ook koppe gestamp en sy was dikwels reg. Ek en my google-kennis oor kinders kon nie opweeg teen haar jare van kennis nie. My oudste was so twee en ʼn half jaar oud toe ek besluit sy moet liewer kleuterskool toe gaan. Sy was sielsongelukkig en het ons gesmeek om terug na ouma Chris te gaan. Sy is ná ʼn week terug na haar ouma en kyk, was ouma vies vir my!
So het die jare verbygegaan, die kinders het grootgeword en hulle is skool toe, maar ouma Chrissie het deel van ons lewe gebly. Dan ʼn oproep: “Kom kuier, ek verlang na die kinders en ook na jou” en as die kinders siek was, was hulle altyd welkom by haar.
Sy het veral ʼn besonderse band met my oudste gehad. My eiewyse, hardedop-meisiekind met die sagte hartjie.
En so kry ek die oproep die dag wat Joost dood is. Ouma het ʼn hartaanval gehad. Die aand bid my liefste meisiemens: “Ag, liewe Jesus, asseblief moenie dat my liefste, dierbaarste ouma doodgaan nie.”
Die oggend op pad werk toe bel Oupa: “Zerelda, Ouma is nie meer met ons nie.” Ons huil en ek weet vanmiddag gaan my kinders hul eerste kennismaking met die dood hê, want hulle het veel meer as ʼn dagmoeder verloor. Hulle het ʼn ouma verloor. ʼn Ouma wat ʼn impak op hul lewe gemaak het. ʼn Ouma wat hulle help vorm het. ʼn Ouma wat nie net liefde en koekies gegee het nie, maar hulle ook lesse oor die lewe geleer het. Rus sag, Ouma, en dankie, dankie, dankie. Ons sal nooit vergeet nie.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.