Die nuwe skooljaar het afgeskop en ná een baie lang vakansie, is die kinders genadiglik weer terug by die skool
My oudste is vrek opgewonde oor die nuwe skooljaar en kon nie wag om terug te wees nie terwyl die jongste net na een ding uitsien, en dis die volgende vakansie. Ek wonder of iemand anders in die geskiedenis al so oor skool gekla het soos hy…
Die jaar het skaars afgeskop en dis ouervergaderings, redenaars (SOS!), hordes boeke om oor te trek en hope huiswerk vir kinders wat reeds vergeet het hoe om huiswerk te doen … Dis ‘n gekners van tande, maar ons gaan voort.
Sterkte vir julle vir die skooljaar!
Die nuwe skooljaar het my laat dink aan ‘n paar dinge wat ek wil hê my kinders moet hierdie jaar onthou.
- Jy is genoeg. Altyd.
- Moenie te veel hooi op jou vurkie sit nie – jou skoolwerk bly die eerste prioriteit.
- Kies jou maats versigtig. Hulle sê ook baie van jou.
- Die wêreld bestaan uit veel meer as net dit wat op jou selfoonskerm is. Lees en observeer.
- Luister na ander mense. Mens leer so baie.
- Glo in jou drome en stel vir jouself doelwitte.
- Jy gaan een of ander tyd met iets sukkel. Dis maklik om dit net te los, maar dit gaan veel lekkerder wees as jy deurdruk.
- Jy is verantwoordelik vir dit wat jy by die skool inneem, vir jou huiswerk, vir jou leerwerk, vir al jou eiendom. As jy iets verloor, weet ek waar jou spaarblikkie is …
- Als wat jy doen, het ‘n impak. Wat jy sê, kan seermaak. Dink voor jy praat.
- Jy het net een reputasie. Hoe wil jy hê ander mense moet jou sien?
- Jy is belangrik vir mense.
- Onthou, skool moet ook pret wees. Doen lekker dinge!
- Wees goed en gaaf met almal met wie jy in aanraking kom.
- Almal kan nie altyd van jou hou nie en jy gaan nie altyd van almal anders hou nie. Wees steeds respekvol en moenie lelike goed oor ander mense sê nie.
- Daar gaan kompetisies wees en soms gaan jy wen en ander keer weer verloor. Dis oukei. Staan weer op en hou jou kop hoog. Mens kan nie altyd wen nie.
- Eerlikheid is ononderhandelbaar. Wees eerlik met ons, wees eerlik met jouself, jou maats, onderwysers. Doen die regte ding.
- Ek maak jou groot om vir jouself te dink en vir jou regte op te staan. Doen dit.
- Foute kan vergewe word, maar erken eerstens as jy iets verkeerd gedoen het.
- AA Milne het geskryf: Jy is dapperder as wat jy glo, sterker as wat jy lyk en slimmer as wat jy dink. Glo dit.
- Ek en jy gaan vassit. Dis ‘n gegewe. Niks kan my liefde vir jou verander nie. As ek druk, onthou ek wil altyd die beste vir jou hê. Onthou, ek maak ook foute en sê soms dinge wat ek nie bedoel nie. Jammer, as jou ma soms soos die heks van Endor klink.
- Laastens, jou keuses is baie belangriker as wat jy dink. Dumbledore het vir Harry gesê: “Dis ons keuses, Harry, wat wys wie ons is …” Onthou, wie jy is.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.