Dis asof naweke korter is as wat dit moet wees, nè? As jy weer sien, is dit verby. Hier’s 11 wenke om jou naweek produktief en lekker te maak
Voel dit vir jou asof die naweke verbygaan sonder dat jy iets vir jouself gedoen het? Selfsorg is belangrik en veral naweke is perfek daarvoor.
- Begin jou naweek met ‘n plan. Mens wil altyd niks doen nie, maar daar is tog dinge wat jy moet doen. Skryf dit neer sodat jy weet wanneer jy by wat moet uitkom.
- Naweke is gewoonlik ‘n goeie tyd om by die dinge uit te kom waarby jy nooit uitkom nie, soos om iets te herorganiseer. Kies een projek sodat jy nie jou doodwerk nie. Takel dalk ‘n kombuiskas, maak die yskas skoon of gooi ou goed in badkamerkassies weg.
- Hersien jou begroting. As jy kans sien vir Excel-dokumente, is ‘n naweek ‘n goeie tyd om jou finansies uit te sorteer.
- Gebruik ‘n weekbeplanner om op hoogte van al die aktiwiteite en afsprake te bly.
- Maak ‘n inkopielys en gaan koop wat jy nodig het vir die week. As jy enige kosvoorbereiding kan doen om die week makliker te laat verloop, doen dit nou.
- Doen iets lekkers en prettig sodat dit voel asof jy darem ‘n bietjie oor die naweek ontspan het.
- Detoks van jou slimfoon. Gebruik die naweek om op jouself en jou mense te fokus. Mens kan nie ontspan terwyl jou foon heeltyd afgaan nie.
- Pamperlang jouself met ‘n gesigmasker of lê vir lank in ‘n borrelbad. Koop jou geliefde of die kinders om om vir jou ‘n voetmassering te gee.
- Probeer ook tyd maak om iets lekker saam met jou mense te doen. Speel bordspeletjies saam met die gesin of vat die hond vir ‘n stappie.
- As jy ‘n stokperdjie het wat min aandag kry, is ‘n naweek ‘n lekker tyd om daarby uit te kom. Ons het ‘n skeppende kollega wat dikwels oor naweke ‘n klas bywoon waar sy iets leer maak, of dit nou oorbelle of ‘n potplanthouer is.
- Moenie dat ‘n Sondagaand-depro jou beetpak nie. Sorg dat jy iets lekkers oorhou om die aand te doen wat jou sommer in ‘n goeie bui vir Maandag sal plaas.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.