Die langste maand van die jaar is gelukkig verby, maar nou is dit tyd om jou finansies te bekyk en te beheer …
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
2018 was nie ‘n maklike jaar vir Suid-Afrikaners nie en finansies het ‘n groot rol daarin gespeel. Die petrolprys het wipplank gery, daar was ‘n rentekoerverhoging en van ekonomiese groei was daar nie sprake nie.
Nou word daar nog ‘n BTW-verhoging verwag en die slegte nuus is dat die afwaartse neigings nog tot 2020 kan aanhou. Beslis nie goeie nuus nie … Daarom raai al wat geldkenner ons aan om mooi te begroot en onnodige uitgawes te sny.
Vera Nagtegaal is die uitvoerende hoof van Hippo.co.za. Sy sê dis nou al belangrik om aan 2020 en verder te dink as jy jou begroting en beplanning vir 2019 doen. Mens moet finansiële stabiliteit op die duur verseker, is haar raad.
Sy beveel die volgende aan:
Begroot
Skryf jou inkomste en maandelikse uitgawes neer. Sluit alles in, soos premies vir versekering, mediese fonds, skoolfooie, pensioenbetalings, salarisse vir huiswerkers, kos, verband- en huurbetalings. Elke liewe bedrag wat by jou rekening afgaan, moet ingesluit wees. Sluit ook jaarlikse kostes in wat in sekere maande van die jaar gebeur soos om voertuie te laat diens of deposito’s te betaal. Dink aan jou jaarlikse uitgawes uit ‘n perspektief van 12 maande in plaas van maand tot maand. Dit sal jou help om beter te beplan en nie onverhoeds betrap te word nie. As jy al die uitgawes op ‘n dokument aanteken, sal dit jou help om te sien as jy te veel geld spandeer.
Verminder jou skuld
Met die huidige toename in die repokoers, word die rentekoers op al jou lenings verhoog. Daarom is dit nodig om so gou as moontlik uitstaande skuld te vereffen. Oorweeg dit om of eerste die skuld met die hoogste rentekoers te betaal of eerste die skuld met die kleinste uitstaande balans. Dit sal jou help om jou skuld te struktureer.
Spaar soveel as wat jy kan
Voor mens enige geld spandeer, moet jy eers ‘n sekere persentasie van jou salaris wegsit – of dit nou in ‘n spaarrekening of ‘n effektetrust is. Só sal jy die voordele van groei eerstehands kan beleef. ‘n Noodfonds waarin minstens drie maande se salaris gespaar is, kan jou op kritieke tye red. Kyk ook na langtermynspaarplanne vir die toekoms en aftrede.
Moenie op belangrike uitgawes besnoei nie
Hoewel dit nodig is om die gordel stywer te trek, is daar sekere betalings wat nodig is, soos versekeringspremies. As jy ‘n verlies ly sonder die nodige versekering, sal jy groot uitgawes moet aangaan wat ook ‘n impak op jou finansies sal hê. Kyk na versekering vir jou huishouding, motor, lewe, ongeskiktheid en begrafnis. Doen jou huiswerk en kry vergelykende kwotasies om seker te maak dat jy nie veel op polisse betaal nie.
Besoek www.hippo.co.za vir meer inligting