Ons lewe ongelukkig in ’n wêreld waar tot kleingoed stres ervaar. Help hulle só om dit te hanteer
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1. Leer om diep asem te haal tydens krisisse
Diep asemhaling het ‘n fisiologiese effek op die liggaam. As ‘n mens stres gaan jou liggaam in ‘n veg-, vlug- of vriesmodus en jou asemhaling word vlak. As jou kinders nog klein is, maak dit prettig deur borrels te blaas of diep asem te haal met ‘n beertjie aan die sy.
2. Leer hoe om verbeelding te gebruik
Gesels met kinders oor hul gunstelingplek. Laat hulle vertel wat hulle hoor, sien, ruik en voel as hulle daar is. As hulle stres, vertel hulle hul kan ‘n mini-vakansie hou deur net hul oë toe te maak en aan hul gunstelingplek te dink.
LEES OOK: My kind se brose selfbeeld
3. Vat ’n slukkie water
Soms kan ‘n vinnige blaaskans of om net ‘n slukkie water te vat, vir hulle nuwe energie gee. Deur ‘n strooitjie te gebruik, sal dit ook kan dien as ‘n sensoriese strategie om te kalmeer.
4. Gesels oor die probleem
Vertel vir jou kind dat jy sien hy of sy stres en gesels oor die oorsaak daarvan. Kan ‘n mens die situasie verander? As julle niks daaraan kan doen nie soos as Mamma en Pappa skei, hoe kan julle die situasie hanteer sodat dit makliker vir die kinders is. Byvoorbeeld: “Dalk kan ons reël dat jy en Pappa spesiale tyd het die naweek?”
5. Wees lekker laf
Lag en lawwigheid kan stres verminder. As kinders stres, kan dit help om ‘n snaakse boek te lees wast hulle laat lag en ‘n bietjie laat ontspan. Wat laat jou kind lag? Doen dit dan presies so. Speel ‘n bordspeletjie of bou ‘n legkaart saam en laat jou kind geliefd voel.
LEES OOK: Dié ses dinge moet kinders nie hoor nie
6. Wees geduldig
As ouers wil ons dinge vir ons kinders makliker maak en hul probleme vir hulle oplos, maar ongelukkig kan ons dit nie altyd doen nie. Fokus egter daarop om jou kind met vaardighede te bemagtig sodat hy of sy goed probleme kan oplos.
7. Kry hulp
As jou kind aan ernstige stres ly is dit dalk nodig om professionele hulp te kry. Gesels met ‘n opvoedkundige sielkundige oor jul probleem.
BRON: http://theinspiredtreehouse.com, http://kidshealth.org