Ouers het tydens die inperking hul hande vol met kinders en hul skoolwerk, maar pasop dat jy nie nou te veel druk op hulle plaas nie
Deur WIETSKE BOON
Die “vakansie” is verby en die kinders (en hul ouers) moet weer aan skoolwerk begin aandag gee. Ons slaan ‘n nuwe rigting in met aanlyn klasse en maak meer as ooit tevore op internetdienste en -hulpbronne staat. Ouers en kinders voel heel waarskynlik onseker en oorweldig. Almal ervaar die druk van die inperking op verskeie vlakke. Dit spoel ook oor na ons kinders toe. Wanneer ouers druk op hul kinders plaas, is dit nie doelbewus negatief nie.
Ouers wonder wat van hul kinders gaan word as hulle agter raak of nie die jaar kan voltooi nie. Daarmee saam is die samelewing konstant in kompetisie met “toptien” of “my kind is beter as jou kind”. Baie van dié vrese het te make met ouers se angstigheid dat hul kind nie eendag kan gaan studeer, dalk nie ‘n werk gaan kry of ‘n sekere beroep sal kan volg nie.
Kinders word op skool toenemend gedwing om al hoe vroeër sekere vaardighede baas te raak. Dis baie moeilik om vaste reëls neer te lê om te voorspel op watter punt ‘n spesifieke kind te veel druk ervaar. Een kind kan ‘n spesifieke soort druk hanteer en ‘n ander nie.
Die gevolge van te veel druk
Terwyl ‘n gesonde mate van druk kinders kan aanmoedig en motiveer om aktiwiteite uit te voer, het te veel druk ‘n negatiewe uitwerking op kinders. Kinders word angstig wanneer die druk net te groot is. Baie kinders wat onder druk voel, het ‘n lae selfbeeld of ‘n gevoel van “ek is nie goed genoeg nie”. Hulle voel hulle word nie aanvaar nie.
Kinders word emosioneel uitgeput omdat hulle nie die druk kan hanteer nie. ‘n Voorbeeld hiervan is kinders wat “onnodig” of vir geen rede nie in trane uitbars. Baie kinders word as “stout” of “hiperaktief” bestempel as hulle net buite wil speel of dit doen wat hul lyfies eintlik wil doen. Ongelukkig word daar baie keer van klein kinders verwag om by ‘n tafel te sit en werk terwyl hulle wil hardloop en speel. Hul mis dikwels basisvaardighede wanneer hulle vir skool “reggedruk” word. Kinders voel dat as hulle aan iets deelneem, hulle moet presteer. Ouers fokus soms meer op die perfekte uitkoms in plaas van die proses. Kinders voel hul kan nie iets doen net vir die plesier daarvan nie.
Vermy te veel druk
Dit kan uitdagend wees om ‘n balans tussen genoeg en te veel druk te handhaaf. Hier is ‘n paar riglyne:
- Vertrou jou instink. Jy ken jou kinders se vermoëns, wat hulle in staat is om te doen en wat hulle gelukkig maak.
- Pak saam ouderdomsgepaste aktiwiteite aan en fokus op wat jou kinders se behoeftes is. Moenie hulle druk om die volgende stap te bereik as hulle nog nie gereed is nie.
- Fokus eerder op die proses as die uitkoms deur meer plesier uit die proses te kry en minder op die eindresultaat te fokus.
- Kinders moet weet dat almal foute maak. Jy kan ook jou eie foute vir jou kind uitwys en sê: “Kyk, Mamma maak ook foute.”
- Bevestig vir jou kinders dat hulle goed genoeg is.
- Maak tyd en gee onverdeelde aandag aan elkeen van jou kinders. Dit gee ook vir jou kinders die boodskap dat hulle belangrik is.
- Maak genoeg tyd vir ontspanning. Almal se skedules is vol. Ontspanning val soms laaste in die ry.
- Kinders moet soms sonder reëls en verwagtinge net kan speel en wees.
- Haal asem. Ontspan. Probeer ‘n goeie balans tussen werk, speel en ontspan handhaaf.
Wietske Boon is ‘n spesialisberader in speelterapie en ouerleiding. Vir meer inligting, besoek www.childtherapist.co.za