Moenie wag tot jy eers getroud is voordat jy sekere belangrike vrae aan jou maat stel nie. Maak vóór die tyd seker en vermy moontlike lang trane later
Deur MARETHA BOTES
Daar is ’n rede waarom oumense gesê het “trou is nie perdekoop nie”. Dalk wou hulle volgende generasies waarsku om nie te gou af te haak nie. Hoe ook al, vóór jy enigsins daaraan dink om vir ewig trou te sweer aan die liefde van jou lewe, is daar ’n paar kwessies wat julle saam moet deurwerk. Doen dit en jy kan jouself ’n paar haakplekke en moontlike teleurstelling spaar.
Anri van den Berg is ’n verhoudingsterapeut by Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria. Sy sê: “Dit is so belangrik om ’n paar oop en eerlike gesprekke rondom die ‘ons’ te hê voordat paartjies besluit om te trou. Veral as jy trou as ’n once-off, lewenslange verbintenis sien.”
Geen verhouding val volmaak in jou skoot en die storie eindig “happily ever after” nie. Vir Anri gaan dit oor volhouding en baie werk. “Dit is easy as pie om verlief te wees, maar om getroud te wees en te kies om vir mekaar lief te bly deur al die houe wat die lewe uitdeel, en om te kies om deur dik en dun saam te staan, kos werk en deursettingsvermoë. As jy nie vooraf vir mekaar sekere belangrike vrae vra nie, maak jy net die moontlike slaggate vir jou verhouding soveel meer en soveel groter,” sê sy.
Anri sê die huwelik moet baie ernstig opgeneem word. Ongelukkig sien sy daagliks soveel paartjies wat nie meer kans sien om die pad verder saam te stap nie. Sy sê: “Daarom is dit werklik belangrik om nie hierdie stap in jou lewe ligtelik op te neem nie. Vra jou vrae en wees oopkop. Bespreek jul verhouding, toekoms en verwagtinge. Doen dit in soveel detail as moontlik. Moenie toelaat dat die bril van verliefdheid jou blind maak vir die rooi ligte nie.”
Sy beveel aan dat paartjies wat graag wil trou, by ’n voorhuwelikse berader ’n draai maak. Baie beraders bied omvattende voorhuwelikse kursusse aan wat aan jou net daardie ekstra sekerheid bied voordat jy die groot stap neem.
Daardie belangrike vrae
“Daar is nie ‘regte’ of ‘verkeerde’ antwoorde op vrae wat julle mekaar voor jul troudag vra nie. Onthou net, jy moet met jou antwoord kan saamleef. As jy graag wil kinders hê en hy nie, maak dit nie een ‘reg’ en die ander een ‘verkeerd’ nie. Dit is wel ’n belangrike kwessie,” meen Anri.
“Sal jy vir die res van jou lewe tevrede, gelukkig en oukei wees met die feit dat julle nie kinders het nie? Of is hierdie vir jou ’n onderhandelbare onderwerp? En dít is die kruks van die saak: Wat is jou onderhandelbare en sy onderhandelbare kwessies? Sien jy gevaarligte?” Julle gaan beslis nie altyd oor alles saamstem nie. Daarom, sê Anri, is dit belangrik om jouself te vra waarom jy nie met sommige van sy antwoorde op jou vrae tevrede is nie.
Raak dit aan een van jou ononderhandelbare behoeftes en verwagtinge? “As hierdie einste kwessie dan wel ook een van jou maat se ononderhandelbare behoeftes of verwagtinge is, is daar groot probleme en sou ek voorstel dat julle die idee van trou bietjie op ys sit totdat julle hierdeur gewerk het.”
Moenie daardie rooi ligte ignoreer nie. Besluit saam waar die gevaarsones lê en besluit of dit vir julle die moeite werd gaan wees om berading te kry. Anri waarsku: “Moet asseblief tog net nie die fout maak om te dink alles sal ná die troue ‘regkom’ nie! Soveel mense beland by huweliksberaders omdat hulle geglo het alles sal regkom ‘as ons net eers getroud is’.”
Maak hieroor seker voor jy ‘ja’ sê
Kinders of nie?
- Sal jy graag eendag kinders wil hê?
- Hoe belangrik is dit vir jou om kinders te hê of dan nie kinders te hê nie. Dus, is hierdie onderwerp vir jou ’n moontlike “deal breaker”?
- Waarom is dit vir jou so belangrik of dan nie so belangrik nie? As albei graag wel eendag ’n ekstra lyfie of twee in die huis wil hê, is dit belangrik om te gesels oor hoeveel kinders sowel as om albei se rolle rondom ouerskap ook op die tafel te plaas vir bespreking.
- LEES OOK: Dié ses dinge moet kinders nie hoor nie
- s die verwagting van een of albei se kant af dat Mamma werk of tuisbly terwyl die kinders klein is?
- Hoop Pappa dalk om die primêre versorger te wees?
- Hoe voel elkeen van julle oor die rol van jul groter, eksterne families in jul kinders se lewens, soos oupas en oumas, ooms en tannies?
- Wat is jul verwagting rondom werksure, vriende en roetine wanneer die kinders hul opwagting maak?
Geloof
Het julle dieselfde geloof?
Indien wel
- Wat is die rol wat geloof in jou lewe speel?
- Hoe betrokke is jy by jou geloofsgemeenskap?
- Wat voel jy is die rol van ouers rondom geloof en die kinders?
Indien nie
- Kan jy hiermee saamleef? u Hoe gaan dit jul lewens vorentoe beïnvloed?
- Indien julle sou kies om met hierdie verhouding voort te gaan, wat gaan julle doen wanneer julle kinders het? Hoe gaan julle hulle grootmaak?
Finansies
- Hoe voel julle oor die rol wat geld in jul lewe speel?
- Hoe gaan julle jul geldsake hanteer?
- Gaan julle een gemeenskaplike bankrekening hê of gaan julle jul finansies apart bestuur?
- As julle twee aparte rekeninge gaan hê, wie is vir watter uitgawes verantwoordelik?
- LEES OOK: 10 Geldwenke om jou spesiale dag binne begroting te hou
- Wat is jul korttermyn- en langtermyn- finansiële verwagtinge of doelwitte?
- Hoe deursigtig gaan julle wees wat geldsake betref?
- Is dit ’n private saak of is dit ’n “ons”- saak?
Vriendskappe buite die verhouding
- Hoe belangrik is vriendskappe buite die verhouding vir julle?
- Hoe voel julle oor die ander persoon se huidige vriende en die rol wat hierdie mense in sy/haar lewe speel?
- Wat is die verwagting rondom hierdie vriendskappe en die invloed daarvan nadat julle getroud is?
- Hoe gaan julle nuwe vriendskappe hanteer?
- Hoe voel julle oor ou en nuwe vriendskappe wat mense van die teenoorgestelde geslag betref?
Koflikhantering
- Hoe het julle tot dusver konflik hanteer?
- Voel albei van julle gemaklik met jul manier van konflikhantering?
- Waarom het julle “ja” of “nee” op die vorige vraag geantwoord?
- LEES OOK: Dít kan tot skei lei
- Wat kan julle doen om hierdie patrone van konflikhantering te verander?
- Is julle bereid om moeite te doen om hierdie patrone te verander en om verantwoordelikheid vir jul rolle binne hierdie situasies te neem?
Moenie daardie rooi ligte ignoreer nie. Besluit saam waar die gevaarsones lê en besluit of dit vir julle die moeite werd gaan wees om berading te kry
Wat beteken dit vir jou om getroud te wees?
- Dit is ontsettend belangrik om te weet hoe jou potensiële lewensmaat daaroor voel om getroud te wees.
- Wat is jou definisie van liefde? Is dit ’n gevoel of is dit ’n keuse en ’n manier van lewe?
- Is getroudwees ’n “kom ons gee dit ’n kans en kyk”?
- LEES OOK: Ons gaan (weer!) trou
- Is getroudwees ’n “lewenslange” belofte wat julle maak?
- Hoekom voel julle soos wat julle voel oor die definisie of omskrywying daarvan om getroud te wees.
- Wat was jul onderskeie voorbeelde van die getroude lewe in jul ouerhuise?
- Watter lesse kon jy uit jou voorbeelde leer?
- Watter foute sou jy graag vanuit jou voorbeelde wou vermy?