Dis nie dat jou hele lewe (regtig) uitmekaarval nie, maar jy weet ‘n tikkie organisasie kan jou lewe verbeter. Wat kan jy doen om meer georganiseerd te wees? Ons vind uit
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
- Maak lysies vir net mooi als en stel vir jouself ‘n skedule en spertye op.
- Kry toeps en stelsels om die lewe makliker te maak, toeps soos Evernote en Apple se kalender kan dinge beter laat vloei. Selfs net ‘n gewone dagboek werk! Kry ‘n witbord vir die muur waarop almal hul aktiwiteite kan neerskryf. Mens kan ook deesdae “notes” op jou selfoon met familielede deel (soos met iPhones), dan kan elkeen in die gesin byvoorbeeld op dieselfde inkopielys items byvoeg.
- Kry ‘n roetine wat vir julle werk. Almal moet weet wanneer is wasdag, skoonmaakdag en dies meer.
- Hou ‘n klein notaboekie en pen by jou sodat jy dinge kan neerskryf soos jy onthou of gebruik jou foon se Notes.
- Kry klotter onder beheer. As als by die huis of by die werk deurmekaar is, is mens se lewe geneig om net so deurmekaar te voel. Ruim op en bêre dinge wat rondlê. Kry ‘n laai by die huis vir skoolpos en rekeninge en maak ‘n punt daarvan om dit een keer per week uit te sorteer.
- As jy die dag uitsorteer, moenie ‘n berg aanpak nie. Begin dalk met die linnekas en die volgende Saterdag jou klerekas en dies meer. Rome is nie in een dag gebou nie en ‘n mens moet darem ook ‘n naweek hê.
- Fokus op een ding op ‘n slag. Mense laat dit klink asof multi-tasking ‘n wonderlike ding is, maar dis eintlik beter om jou energie net op een ding te fokus en daardie taak te voltooi.
- Doen maaltydbeplanning sodat jy nie elke dag by ‘n winkel hoef te stop nie. As jy eers teen vieruur aan aandete begin dink, gaan jy vir seker onnodige stoppe maak.
- Sorg dat julle ‘n oggend- en aandroetine in plek het. Kinders se tasse en skoolklere kan byvoorbeeld in die aand uitgesit word.
- Maak kinders deel van takies. Ons praat nie hier van slawe-arbeid nie, maar jy kan hulle van kleins af begin leer om hul eie skottelgoed kombuis toe te vat en klere in die mandjie te gooi.
- Plak jul weeklikse skedule iewers op waar almal dit kan sien.
- E-posse en foonboodskappe kan vinnig ophoop. En as jy admin verpes, kan joune gou soos ‘n onoorkomelike berg voel. Probeer om elke dag aan jou inboks te werk.
- Wees rustig. Ons almal vergeet dinge en soms laat mens die balle val. Wees gaaf met jouself.
Lees nog op:
www.defineyourhustle.com
www.amuminprogress.com