Dis vakansie, maar soms voel dit in Januarie asof jy ’n vakansie nodig het. Hoe kan jy die meeste van jou vakansie maak en regtig uitgerus werk toe kom? Ons het ’n paar wenke gekry.
Begin jou dag rustig
‘n Bietjie alleentyd elke oggend is belangrik om jou daai nodige hupstoot vir sosialisering te gee. Begin jou dag rustig en kry ‘n oggendritueel om jou kop skoon te kry.
Haal asem as jy kwaad raak
Om soveel tyd saam met jou mense deur te bring, en veral familie wat jy nie baie sien nie, kan heerlik wees, maar ook struwelinge beteken. As iemand iets sê wat jou lont korter maak, kry ‘n tegniek wat jou kalmeer. Haal diep asem en dink aan iets positiefs.
Wees dankbaar
Vakansietyd is ook tyd om verhoudings te verstewig. Gee vir iemand ‘n drukkie en sê vir hulle hoe dankbaar jy vir hulle in jou lewe is. Stuur e-posse vir geliefdes en maak tyd om bande te verstewig.
Kry lug
As die weer dit toelaat, gaan buitentoe. Die natuur is soos ‘n tonikum, dit verlaag jou stresvlakke en maak jou selfs kreatiewer.
Vermy stressnellers
Wat ontstel jou en krap jou om? Probeer om dit ten alle koste te vermy.
Moenie te veel beplan nie
Sekere struktuur aan jou vakansie werk, maar moenie oorbeplan en oororganiseer nie. Dit gaan jou net moeg maak.
Beperk skermtyd
Dis nou die tyd om werklik kop skoon te maak en te laat gaan en skermtyd vreet daardie tyd op.
Vat ‘n blaaskans van jou blaaskans
Maak tyd om net mooi niks te doen nie en regtig te ontspan.
Geniet die somer
Die lekkerte van ons land is om in Desember heerlike weer te geniet. Eet buite en bring tyd in die buitelug. Maak die beste van die somer.
Kry genoeg slaap
Gewoond daaraan om vroegdag vir werk op te staan? Sit die alarm af en probeer om in te lê.
Bederf jouself
Pamperlang jouself ‘n bietjie. Jy het die heeljaar hard gewerk.
Vergeet van die kantoor
Probeer om nie in die versoeking te kom om na jou e-posse te kyk nie. Los dit vir Januarie!