Die jaar het skaars begin en jou meter sit reeds in die rooi! Voel jy negatief? Probeer hierdie uitdaging saam met ons
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Die politiek maak jou depressief, die misdaad laat jou nog slegter voel, jou tiener dink jy’s ‘n vloermat en dan irriteer ‘n kollega jou ook nog. Jy is op die punt om dit heeltemal te verloor! Wat is daar nog in die lewe om oor positief te voel? Beslis nie jou salaristjek nie, nè? Klink dit bekend?
Jy’s nie alleen nie. Die meeste van ons het nie elke dag ‘n huppel in die stap nie, maar dis goed om nou en dan weer aan die goeie dinge in jou lewe herinner te word. Hier’s ‘n 30-dae-positiwiteitsuitdaging om weer die wêreld rooskleurig te bekyk.
Dag 1
Vir elke baie slegte scenario wat jy jou kan indink, dink aan die beste ding wat kan gebeur.
Dag 2
Bestee vyf minute om aan jou droomlewe te dink. Kan jy dit bereik? Wat moet jy doen om dit te bereik? Skryf die stappe neer.
Dag 3
Drink ‘n koffie saam met ‘n vriendin of gaan eet iets saam ‘n geliefde. Die idee is om iets lekkers te doen saam met iemand van wie jy hou.
Dag 4
Doen drie dinge om negatiwiteit uit jou lewe te sny. As sekere nuuswebwerwe jou nog slegter laat voel, moenie dit volg nie, ontvriend mense op Facebook wat jou mismoedig maak. Die drie dinge is: Unfollow, delete en remove!
Dag 5
Kies ‘n positiewe mantra vir jou dag. As jy nie een kan uitdink nie, google een of loer na Vroukeur se motiverende aanhalings
Dag 6
Gee vandag ‘n opregte kompliment vir minstens drie mense.
Dag 7
As jy in die verkeer is of in ‘n ry by ‘n winkel staan, gebruik die tyd om aan die beste dinge in jou lewe te dink.
Dag 8
Skryf jou waardes vandag neer. Wat in die lewe is vir jou belangrik?
Dag 9
Haal drie keer diep asem.
Dag 10
Kry jou endorfiene vir minstens vyf minute aan die gang. Spring trampolien saam met die kinders, dans, draf of gaan stap.
Dag 11
Doen iets onverwags gaaf vir iemand anders.
Dag 12
Reik uit na ‘n vriendin of vriend en gesels ‘n bietjie oor goeie tye saam.
Dag 13
Leer vandag iets nuuts by iemand anders.
Dag 14
Onthou dat ander mense se menings meer oor hulle as oor jou sê.
Dag 15
Doen vandag een goeie ding vir jouself.
Dag 16
Maak vandag oogkontak met mense wat verby jou loop en glimlag.
Dag 17
Maak vandag ‘n punt daarvan om lekker te lag. As iets jou irriteer, lag daaroor.
Dag 18
Mediteer of sit vir vyf minute stil.
Dag 19
Wat is die uitdagings in jou lewe? Wat dink jy kan jy daaruit leer?
Dag 20
Bevraagteken vandag negatiewe gedagtes. Kan die teenoorgestelde ook waar wees?
Dag 21
Doen vandag een eenvoudige ding wat jou hart bly maak – of dit nou verf, sing of tyd saam met jou mense is.
Dag 22
Leer meer oor ‘n saak wat jou na aan die hart lê en kyk hoe jy kan help.
Dag 23
Vul jou Facebook of Instagram vandag met ‘n positiewe plasing. Volg iemand of ‘n organisasie wat jou inspireer.
Dag 24
Gaan stap en kyk regtig na die dinge om jou.
Dag 25
Druk ‘n positiewe aanhaling vir jou uit en sit dit iewers waar jy dit kan sien.
Dag 26
Luister na lekker musiek. Skep vir jou ‘n positiewe speellys op jou foon en luister daarna as jy af voel.
Dag 27
Bel iemand met wie jy lanklaas gepraat het.
Dag 28
Skryf vir jouself ‘n nota. Wat waardeer jy van jouself? Wat is fantasties oor jou?
Dag 29
Sê vandag dankie vir iemand wat jy baie waardeer.
Dag 30
Verander vandag iets aan jou voorkoms. Trek iets aan wat jy lanklaas aangehad het, koop vir jou ‘n nuwe serp of laat jou hare sny. Kikker jouself op!
BRON: lesnaly.com