Slim oggend- en aandgewoontes is die resep vir ’n suksesvoller dag en lewe. Shanda Luyt vertel meer
Die oggendstond het goud in die mond, lui die ou spreekwoord – met goeie rede.
Goeie oggendgewoontes is belangrik omdat dit soos musiek die inleidende toon is vir die res van die dag, verduidelik dr Barbara Louw, berader en uitvoerende hoof van InterTrauma Nexus in Pretoria.
“As mens verslaap en in ‘n harwar opspring, voel die hele dag dikwels deurmekaar.” Net so, sê sy, is aandgewoontes ook die afsluiting van ‘n besige dag. “Dit is die inleiding tot ‘n rustige of onrustige nagrus.”
In ‘n artikel op www.artofmanliness.com verduidelik die skrywerspaar Brett & Kate McKay dat ‘n goeie oggend- en aandroetine soos twee knope aan die punte van ‘n tou werk wat keer dat die kraletjies op die tou – wat jou doelwitte, verhoudings en prioriteite verteenwoordig – afgly as die tou na die een of die ander kant kantel. Volgens hulle strek die impak van hierdie twee roetines dus veel wyer as net die dag tussenin, maar kan dit jou hele lewe beïnvloed.
“Ons kan gewoonlik die begin en einde van ons dag beheer. Gebruik hierdie feit deur jou belangrikste take, aksies en gedrag in hierdie tyd te inkorporeer,” sê hulle.
Hoewel jou dag soggens begin, voel lewensgids Rina Vogler van Potchefstroom dat ‘n suksesvolle oggendroetine by ‘n goeie aandroetine begin. Sy verduidelik: “Goeie aandgewoontes en beplanning maak die goeie oggendgewoontes moontlik.”
Slim aandgewoontes
Elke mens se aandroetine sal verskil afhangende van hul lewensfase of ouderdom en die gepaardgaande eise, maar die volgende aandroetines kan jou help:
1 Maak doelbewus tyd vir jou geliefdes
Om tyd te maak vir die mense wat saak maak in jou lewe, behoort altyd ‘n prioriteit te wees as jy ‘n gesonde balans in jou lewe wil hê. Maak dit doelbewus deel van jou aandroetine om met jou gesin of ander geliefdes te bind. Klein kinders is op hul veeleisendste direk ná jy by die huis aangekom het. Sit jou selfoon weg, tel jou kind op jou skoot en bestee ‘n paar gefokusde minute saam voor jy aan ander eise aandag gee. Betrek ouer kinders by die kosmakery of ander aktiwiteite terwyl julle gesels oor die dag wat verby is. Barbara vertel in hul huis is kosmaak ‘n spanpoging waartydens almal lekker kuier. “Dit is die tyd van die dag om al die los rafels van die dag in liefde en saamwees bymekaar te trek. Om saam te eet is dan ‘n natuurlike voortsetting van die kosmaakproses.”
2 Evalueer jou dag
Terwyl die afgelope dag se gebeure nog vars in jou geheue is, neem ‘n paar minute – dit hoef nie meer as vyf minute te wees nie – en evalueer hoe jou dag verloop het. Dit kan jou help om as mens te ontwikkel en ook om jou tyd suksesvoller te benut. Dink oor wat goed gewerk het en wat nie en hoe jy dit in die toekoms anders kan aanpak, oor hoe produktief jy was, wat ongedaan gebly het en waar jy onnodig tyd gemors het, hoe jy oor die algemeen gevoel het en of jy enigiets bereik het waarop jy trots voel. Benjamin Franklin het immers elke dag begin met die vraag: “Watter goeie ding kan ek vandag doen?” en dit afgesluit met: “Watter goeie ding het ek vandag gedoen?”
3 Beplan die volgende dag
Ná die evaluasie, doen ‘n basiese beplanning vir jou volgende dag. “Maak seker dat almal in jul gesin op hoogte is van die verskillende dinge wat moet gebeur,” sê Rina. Rakende werk, is dit slim om jou drie belangrikste doelwitte vir die volgende dag neer te pen terwyl jou werksdag nog vars in die geheue is, sodat jy die volgende dag net daarna hoef te kyk om op die regte plek te begin. Sommige navorsers glo selfs dat dit jou op ander maniere kan help. In hul boek Organize Tomorrow Today, skryf die prestasie-afrigters Jason Selk, Tom Bartow en Rudy Matthew dat om jou belangrikste take die aand voor die tyd neer te skryf, keer dat jy in jou onderbewussyn bekommerd is dat jy nie voorbereid sal wees nie, sodat jy dan beter slaap.
4 Sit alles reg vir die volgende dag
Aandtyd is die voorbereidingstyd vir die volgende dag se werksaamhede as jy nie in die oggende wil rondskarrel nie,” verduidelik Barbara. Rina beaam: “Sorg dat die klere vir die volgende dag reg is. Die ergste chaos kom as gesinslede hardloop en klere soek.” As jy daarvan hou om volgens jou opstaanbui aan te trek, sit twee stelle klere reg sodat jy net kan kies as jy opstaan. Kosblikke, tasse en ontbytgoed behoort ook die aand vooraf reeds reggesit te word. ‘n Vinnige skoonmaak en regtrek van die woonvertrek en kombuis in die aand help jou ook om die volgende oggend met die regte voet uit die bed op te staan.
5 Doen iets net vir jouself
Neem ‘n halfuur elke aand en doen iets vir jouself wat van jou ‘n gelukkiger mens maak. Vir ‘n moeë nuwe ma kan dit beteken om in die bad te lê en ontspan, terwyl dit vir ander kan beteken om ‘n stokperdjie te beoefen of saam met ‘n maat voor die TV te ontspan. Barbara vertel omdat sy jare lank via afstandonderrig studeer het, was aandtyd vir haar belangrike studietyd. “Dit was nie ‘n opoffering nie, maar ‘n lewenstyl. Noudat my studies afgehandel is, gebruik ek die tyd om te skryf, te teken of net lekker te lees.” Jy is dit aan jouself en jou geliefdes verskuldig om jou menswees te voed deur iets te doen wat jou opbou – elke dag.
6 Wees werklik dankbaar
Raak stil en dink wat deur die dag gebeur het waaroor jy dankbaar kan wees. Daarmee saam kan jy ook die negatiwiteit, twyfel en vrese van die dag agterlaat. Studies toon dat mense wat aktief ‘n houding van dankbaarheid leef, fisiek en sielkundig gesonder is. Dit is maklik om net op die negatiewe te fokus; tog is ons lewe vol wonderwerke. Deur elke aand doelbewus hieroor te dink en dit raak te sien, voeg jy waarde by jou lewe.
7 Af met tegnologie
Tegnologie, so nuttig as wat dit is, steel nie net baie tyd nie, maar kan ook met ‘n goeie nagrus en gesinstyd inmeng. Stel dus vir jouself en jou gesin vaste reëls rondom elektronika in die aand en pas dit streng toe. Rina vertel van iemand wat haar kinders elke aand om agtuur al die elektronika laat inhandig, terwyl ‘n ander vrou weer geen elektronika in die slaapkamers toelaat nie.
8 Skakel af voor slaaptyd
Dis belangrik om ná ‘n besige dag af te skakel, ter voorbereiding van ‘n goeie nagrus. “Word rustig, ontspan ‘n bietjie, neem miskien ‘n lekker bad of stort en gaan betyds bed toe sodat almal die volgende oggend betyds kan opstaan,” raai Rina aan. Barbara beskryf ‘n bad as ‘n goeie manier om die emosionele roet en stof van die dag af te was. Lees ‘n boek om jou brein te help afskakel.
Slim oggendgewoontes
’n Oggendroetine gee die toon vir die hele dag aan en as jy dit elke dag reg doen, sal jy jou hele lewe reg doen, skryf die entrepreneur Cathryn Lavery.
1 Word reg wakker
Die begin van die dag behoort ‘n natuurlike, rustige ontwaking te wees, sê Barbara. “In my navorsing met mense wat met posttraumatiese reaksies stoei, het ek gevind dat as ‘n mens die wakker-skrik-reaksie kan bestuur, die hele dag beter verloop. Die manier waarop ons dit bewerkstellig, is deur van lig gebruik te maak. Dit gee ‘n mense se natuurlike wakker-slaap-ritme die geleentheid om in werking te tree.”
2 Staan vroeër op
Menige suksesvolle entrepreneur, onder andere Richard Branson, se resep vir sukses begin by die eenvoudige raad: Staan vroeër op. Jy kan hierdie ekstra tyd gebruik om belangrike besluite te neem terwyl jou brein nog vars is, om produktief te werk sonder enige onderbrekings, of om stil te word en jouself te oriënteer vir die dag wat voorlê. Rina sê om betyds op te staan, laat jou genoeg tyd toe om sonder enige gejaag rustig te wees. Barbara stem saam: “Ek hou daarvan om vroeg genoeg op te staan om vir uitdagings soos swaar verkeer en ander gebeurlikhede te begroot. As jy belangrike dinge tot op die laatste los, kan iets soos ‘n kragonderbreking groot drama veroorsaak.”
3 Stilwordtyd
Maak stilwordtyd alleen of saam met jou gesin, beveel Rina aan. “In plaas daarvan om die dag in ‘n warrelwind te begin, word jy rustiger. “Ons gesin het byvoorbeeld elke oggend saam ‘n kort Bybelstudie gehou. Die kinders het almal in ons bed ingekruip ons het ‘n stukkie gelees en daar was dan dikwels baie sinvolle gesprekke.” Studies het getoon meditasie kan ook jou kreatiwiteit bevorder.
4 Maak jou bed op
Die video waarin ‘n Amerikaanse admiraal, William McCraven, mense aanmoedig om die wêreld te begin verander deur hul beddens op te maak, is oral op sosiale media versprei. Sy argument is eenvoudig: deur jou bed op te maak, voltooi jy jou eerste taak van die dag suksesvol. Dit gee ‘n sin van trots en moedig jou aan om nog ‘n taak aan te pak, en nog een. Verder beklemtoon dit dat die klein dingetjies in die lewe saak maak, sê hy. As jy nie die klein dingetjies in die lewe kan regkry nie, hoe gaan jy die groot dinge regkry? En, sê hy, as jy ná ‘n moeilike dag tuiskom en jou bed is opgemaak, voel jy onmiddellik beter en sien jy meer kans vir die volgende dag.
5 Doen oefening
Oefening is dalk die laaste ding waarvoor jy vroegoggend lus voel, maar ‘n oefensessie voor ontbyt kan jou gewig onder beheer hou, sal jou energievlakke verhoog en jou gesondheid verbeter. Dis ook ‘n uitstekende teenvoeter vir depressie en angstigheid. Een Finse studie het selfs ‘n korrelasie met groter rykdom gevind. As jy nie kans sien om vroegoggend ‘n marathon te hardloop nie, begin met strekoefeninge.
6 Eet ‘n rustige ontbyt
Ontbyt is die grondslag waarop die dag gebou word, sê Rina. “Proteïen soos ‘n eier saam met mieliepap is baie beter as kitspap met te veel suiker.” Deur rustig as gesin saam te eet, kry julle ook kans om vir oulaas reëlings te tref, mekaar op te bou vir die dag wat voorlê en net lekker saam te lag. As jy ‘n alleenloper is, sit jou ontbyt rustig en eet, verkieslik op die stoep waar jy die dag kan sien ontwaak.
7 Kry jou dag in fokus
Neem ‘n paar minute om jou planne vir die dag te hersien. Kyk na jou doenlysie van die vorige aand, maak die nodige kopskuiwe of aanpassings en visualiseer jou dag. Maak seker jou doelwitte vir die dag is in lyn met jou lewensdoelwitte. Om vroeg soggens jou dagplanne te hersien, sal jou help om die dag reg geklee aan te pak, dit met die regte ingesteldheid in te gaan en te prioritiseer sodat jy vanuit die staanspoor jou energie produktief kan aanwend en jou tyd optimaal kan bestuur.
8 Kry inspirasie
Soek bewustelik om vir jou inspirasie en motivering vir die dag te kry deur byvoorbeeld ‘n inspirasiestukkie te lees of mooi musiek te luister om jou gou in die regte stemming te kry. Dis ‘n uitstekende wegspringplek vir ‘n suksesvolle dag.
Onthou dat gewoontes nie oornag gevorm word nie. Soos die entrepreneur Cathryn Lavery sê: “Suksesvolle mense is die somtotaal van die goeie gewoontes wat hulle aanleer. Magtige mense – as hulle ‘n doelwit wil bereik – vestig vir hulself ‘n gewoonte wat dit moontlik maak om daardie doelwit te bereik.”