As julle soos ek voel, is julle net so moeg en moedeloos vir slegte nuus. Hier is ’n paar brokkies Covid-19-nuus wat jou positiewer kan laat voel
Ons almal weet dat Covid-19 die wêreld lamgelê het en ons sien in ons eie land die vernietigende gevolge daarvan. Ons weet ook dat hierdie probleem nog ’n ruk met ons gaan wees en dat daar nog moeilike maande voor ons lê. Gelukkig is daar ook silwer randjies en is daar ook positiewe dinge wat gebeur.
Ons weet nou baie meer oor die virus en hoe om verspreiding te keer
Wêreldwyd doen wetenskaplikes navorsing oor die virus en die publiek word voortdurend ingelig oor hoe om te keer dat hulle die virus versprei. Ons kennis daaroor verbreed by die dag en Livescience.com berig dat daar byvoorbeeld nou nog simptome by die bestaande lys gevoeg is. Die Sentrum vir die Voorkoming en Bekamping van Siektes het simptome soos verlies aan smaak en reuk, kouekoors en spierpyn by die lys gevoeg.
Wetenskaplikes werk onverpoosd om ’n entstof te ontwikkel
BBC.com berig dat daar op die oomblik verskeie proewe regoor die wêreld aan die gang is om ’n entstof te ontwikkel. Die Bill Gates-stigting het byvoorbeeld ’n groot klomp geld vir navorsing bewillig. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê daar word aan nagenoeg 20 entstowwe gewerk. Daar is onder meer proewe in Amerika, Brittanje, Australië en China en selfs een hier in Suid-Afrika aan die gang. Sommige mense beweer dat ons selfs hierdie jaar al ’n entstof kan sien, maar die meeste kenners glo dat die middel van volgende jaar ’n geloofwaardiger tyd is.
Covid-19 is in baie lande onder beheer
Volgens prof Ian Boyd, verbonde aan die Universiteit van St Andrews, was die waarde van R0 (die gemiddelde aantal mense wat deur iemand besmet word) ongeveer drie toe die pandemie afgeskop het. Nou is dit in baie lande al onder een. Dit beteken die siekte is in baie lande onder beheer en aan die afneem. Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Adern, het byvoorbeeld aangekondig dat hul land die stryd teen die virus gewen het. Gevalle daar verminder al sedert 5 April. Die Washington Post berig dat dinge in Spanje ook al beter lyk waar kinders onder 14 darem nou weer buitenshuis mag beweeg. In Wuhan, China, is daar volgens die New York Times ook tans geen Covid-19-pasiënte nie.
Mense word wel gesond
Ja, daar is mense wat aan die virus sterf, maar daar is ook massas mense wat beter word. Cnet.com sê dokters in Indië het groot sukses met pasiënte behaal en medikasie gebruik wat gewoonlik varkgriep en malaria behandel. Ons weet ook van ’n 106-jarige vrou in Brittanje, ’n 102-jarige man in Italië en ’n 103-jarige vrou in China wat van die siekte herstel het.
Toetse verbeter
Daar word internasionaal aan koronatoetse gewerk om die proses vinniger te maak. Die Amerikaanse administrasieliggaam vir voedsel en medikasie het byvoorbeeld noodmagtiging vir ’n splinternuwe toets aan Abbot-laboratoriums gegee, wat in slegs minute resultate kan lewer.
Loer na: https:// abbott.mediaroom.com/
Die wêreld vat hande
Internasionaal sien ons hoe lande na mekaar uitreik en mekaar ondersteun. Die globale reaksie op die virus is ongelooflik. Duitsland het byvoorbeeld gesondheidstoerusting vir buurlande geskenk, Frankryk het maskers geskenk en Luxemburg het pasiënte van Frankryk ingeneem. Talle lande bied finansiële ondersteuning aan ander en dit toon dat ons globaal wel die vermoë het om wesentlike probleme te oorkom.
Regerings ondersteun hul mense
Mense is baie bekommerd oor werksekerheid en ’n onsekere ekonomie, maar wêreldwyd is regerings daartoe verbind om hul mense te help. Ook in Suid-Afrika het president Cyril Ramaphosa onlangs ’n omvattende plan bekendgestel om verligting te bring. Banke reageer ook positief en bied verskeie opsies om hul kliënte te help.
Suid-Afrika vaar goed in die stryd
Die WGO het Suid-Afrika onlangs geloof vir ons pogings om die virus te bekamp. Hulle sê Suid-Afrika se reaksie op die probleem is van die beste in die wêreld en dat ongelooflike werk hier gedoen word.
Die omgewing haal weer asem
Lugbesoedeling het in baie lande ’n rekordlaagtepunt bereik. Die Good News Network vertel van IQAir se studies wat wys dat lugbesoedelingsvlakke in tien groot stede tydens die inperkings met soveel as 60% gedaal het. Volgens CNN kan mense in die Punjab-gebied in Indië as gevolge van verlaagde vlakke van lugbesoedeling vir die eerste keer in dekades die Himalajasgebergtes sien. Ons sien ook groot verbeterings in riviere en damme wat waterbesoedeling betref. Die Ganges-rivier in Indië is een voorbeeld en vir die eerste keer in jare is die kanale in Venesië helder.
Diere geniet die inperking
Ons het al verskeie video’s en artikels gesien van diere wat in stil strate, parke en op strande baljaar. In Thailand het ’n raar skilpadspesie nou weer te voorskyn gekom. ’n Pandapaartjie in ’n dieretuin in Hongkong wat in 13 jaar nie gepaar het nie, het die stilte nou so geniet dat hulle uiteindelik gepaar het. Reuters vertel van die Yellowstone Nasionale Park in Amerika waar baie meer diere as gewoonlik gesien word.
Nuwe uitvindsels word gebore
Hierdie is ook ’n tyd waar ons nuwe uitvindsels sien. Daar is al oulike nuwe gesigmaskers gemaak en een wetenskaplike aan die Universiteit van Minnesota het blitsvinnig ’n nuwe tipe (baie goedkoper) ventilator ontwikkel omdat daar nou so ’n tekort daaraan is. In Italië werk ingenieurs aan 3D-dele vir respirators.
Mense is weer goed vir mekaar
Van oraloor is daar positiewe nuus van gemeenskappe wat na mekaar uitreik en mekaar ondersteun. Ek het al gehoor van mense wat vir bejaardes hul inkopies gaan doen, van mini-biblioteke wat in buurte geskep word, van naaldwerkers wat gratis maskers vir behoeftiges maak en van mense wat kospakkies maak en gaan aflaai waar daar nood is. Oral om ons is daar goeie stories. Topsjefs van vyf restaurante in die Kaapse wynlande het byvoorbeeld hande gevat om voedsame maaltye vir talle gesinne voor te berei. Wilna Wolmarans en Heleret Visser van Bloemfontein sny bejaarde mense in hul kompleks se gras vir hulle. Anelle Roux van Krugersdorp het 25 jaar se dinge wat sy gekoop en opgegaar het, soos wol en legkaarte, in kratte gepak en by minderbevoorregtes gaan aflaai.
Gesinne bestee gehaltetyd saam
Ons leef in ’n gejaagde tyd en tyd saam met jou mense bly dikwels agterweë. Nou is jy noodgedwonge die hele tyd saam met jou gesin en vir baie mense is dit ’n kosbare tyd. “Ons gaan so ’n tyd seker nooit weer ervaar nie,” sê Andri du Toit van Roodepoort. “Ek en my man werk albei voltyds en ons sien gewoonlik die kinders net in die aande en naweke is so gejaag om als in die huis gedoen te kry dat ons ook dan by mekaar verbyleef. Nou is ons heeltyd saam en dis vir my baie spesiaal. Ons ontdek weer nuwe dinge van mekaar en ja, daar is soms konflik, maar ons leer om dit te hanteer.” Baie ouers dink allerlei slim planne uit om hul kinders te vermaak soos Duan en Jessica de Beer van Pretoria wat ’n restaurantaand vir hul kinders gehou het. Ma en Pa het soos wafferse kelners hul kinders bedien en dis ’n aand wat die gesin vir lank sal onthou. Jacques en Marilie de Villiers van Johannesburg het hul eie inperkingsuitdaging gehou en saam met die kinders 10 km om die tennisbaan afgelê. Hulle het tot vir die kinders medaljes gemaak.
Vermaak raak innoverend
Met die dat niemand nêrens kan gaan nie, sien ons hoe daar nuut oor vermaak gedink word, soos rockers wat op hul huisdakke konserte hou en operasterre wat arias van hul balkonne af sing. Van gratis operas, simfoniekonserte en Shakespearetoneelstukke tot kindervermaak, orals is daar mense en organisasies wat hierdie vermaak beskikbaar stel. Meer as 2 000 museums en galerye bied in hierdie tyd gratis virtuele toere en uitstallings aan. Kunstenaars gebruik ook die internet om hul nuwe werke bekend te stel.
Kennis word verbreed en kreatiwiteit blom
Die inperking het vir ons baie tyd gegee en baie mense gebruik die tyd heel produktief, soos om hul kennis via aanlyn kursusse te verbreed en om kreatief te wees. Van ons lesers vertel van lappieskomberse wat hulle maak, van serpe en handskoene wat vir die winter gebrei word en klere wat vir kleingoed gestik word. Mense leer via YouTube hoe om sekere stokperdjies te beoefen, webinare word gevolg en aanlyn oefeninge word gedoen.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.