Kyk of jy met hierdie 10 verhoudingsmites deur dr John Demartini saamstem
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dr John Demartini is ‘n menslikegedragspesialis, skrywer en die stigter van die Demartini-insituut. Hy noem die volgende mites:
1. ’n Nuwe verhouding sal jou gelukkig maak
Dit maak nie saak hoe goed ‘n verhouding begin nie, jy sal uiteindelik die persoon regtig leer ken en daar gaan gelukkige en ongelukkige tye wees.
2. As ek my geesgenoot vind, sal ek heel voel
Lewensvervulling gaan nie oor jou geliefde nie, maar eerder oor jouself. Jy moet vir jouself goed wees en besef dat jy jouself gelukkig moet maak.
3. Die regte verhouding hou vir ewig
Die idee van “vir ewig” is onrealisties. Daar is geen waarborge in verhoudings nie. Sit baie in jou verhouding in om die vrugte daarvan te pluk.
4. As ons eers verby hierdie probleme kom, gaan alles reg wees
Alle probleme kan nie geëlimineer word nie. Onthou daar gaan uitdagende tye wees. Dit is realisties.
5 Ek moet iets vir my verhouding opoffer
Verhoudings vra gelykheid. As slegs een party iets moet opoffer, gaan die skaal ongelyk wees en gaan daar wrewel insluip.
6. ’n Mens het net aan die begin van ‘n verhouding goeie seks
Intimiteit kan regdeur ‘n verhouding fantasties wees en dis ‘n belangrike bestanddeel van ‘n gelukkige verhouding.
7. ’n Mens hoef nie aan ‘n goeie verhouding te werk nie
‘n Vervullende verhouding het altyd goeie kommunikasie, prioritisering en assessering nodig.
8. Sonder ’n verhouding sal ek eensaam wees
Jy kan langs iemand slaap en 1 000 km ver weg voel of jy kan 1 000 km van iemand af wees, en steeds naby daardie persoon voel. As ‘n mens openhartig is en iemand regtig liefhet, kan hy of sy kom en gaan soos hy of sy wil en steeds mekaar se teenwoordigheid ervaar.
9. Kinders maak ’n verhouding volmaak
As jou verhouding nie gelukkig is nie, gaan kinders dit nie verbeter nie. Ouerskap het vele uitdagings.
10. Teenoorgestelde mense trek mekaar aan
Wat jy in jou geliefde sien, is ook in jouself. Maksimum groei en ontwikkeling vind plaas as julle mekaar ondersteun en uitdaag.
Besoek www.DrDemartini.com