Raak julle moeg vir mekaar se geite? Hier is ʼn paar klein dingetjies wat ʼn groot verandering in jul verhouding teweeg kan bring
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Kyk, julle is lief vir mekaar, maar nou en dan irriteer hy die blou duiwel uit jou uit. En dan begin julle aanmekaar krap en kort voor lank byt julle mekaar se koppe af.
Gelukkig is daar ʼn paar dinge wat julle kan doen om jul verhouding nuwe woema te gee.
Hier is ʼn paar daarvan:
1 Sit jul selfone af
Jy hoef maar net in ʼn restaurant te sit en kyk hoe paartjies op hul fone sit en speel in plaas daarvan om te gesels, om te weet dit is ʼn probleem. Verskeie studies is al gedoen oor die impak van sosiale media en selfoongebruik op verhoudings. Een van di studies het gevind dat daar ʼn negatiewe verband tussen die gebruik van sosiale media en verhoudingsgeluk is. Gesels julle as julle in die bed is of loer julle eers vir oulaas op Facebook?
2 Gaan dieselfde tyd bed toe
Die skrywer dr Barton Goldsmith sê as paartjies saam bed toe gaan, kan dit hul verhouding positiewe verander. Dit is dalk die enigste tyd wat julle alleen is en is baie belangrik vir emosionele en fisieke intimiteit.
3 ʼn Klein gebaar beteken baie
ʼn Vinnige WhatsApp net om te sê: “Mis jou” of “Ek’s lief vir jou” sal jou maat geliefd laat voel. Of ʼn beker warmsjokolade met bedtyd, ʼn glas wyn terwyl sy besig is om kos te maak. Sulke klein dingetjies beteken baie vir verhoudings.
4 Probeer iets nuuts saam
ʼn Nuwe projek kan julle nader aan mekaar bring, sê ʼn studie in die Journal for Personality and Social Psychology. Probeer ʼn nuwe kursus saam of probeer ʼn nuwe resep of verf ʼn vertrek.
5 Pasop vir kritiek
Dit kan ʼn groot verskil in jul verhouding maak as julle ʼn bietjie minder kritiseer. As jou maat jou help met iets, moenie sê wat hy verkeerd doen nie, maar fokus eerder op dit wat hy reg doen. Probeer kritiek weerhou.
6 Wys jou waardering
Moenie net sê dankie vir die sigbare dinge soos ʼn lekker maaltyd nie (al is dit ook belangrik). Sê byvoorbeeld dankie dat jou maat altyd daar vir jou is.
7 Fokus op die goeie
Dis baie maklik om net te fokus op wat fout in jul verhouding is, maar dis belangrik om ook op dit wat reg is te fokus. Maak ʼn lys van goeie vs slegte dinge en kyk wat julle aan die slegtes kan doen.
8 Bestee gehaltetyd saam
Dit klink al geyk, maar dit maak dit nie minder belangrik nie. Dis baie belangrik vir die gesondheid van jul verhouding om saam iets te doen. As julle sukkel met kinderoppassers, vat byvoorbeeld ʼn Vrydag af en doen iets lekkers saam.
9 Gesels
Gesels julle nog of praat julle net oor die kinders en die hond se inspuitings? Dr Marelize Swart, ‘n sielkundige en seksuoloog sê paartjies moet dalk kyk na ‘n vaste roetine soos geselstyd ná aandete. “Die belangrikste geskenk wat julle vir jul kinders kan gee is ‘n gelukkige verhouding.”
BRON: www.bustle.com