Die dinge wat ons vir ons kinders sê bou of breek hulle. Hier is ‘n paar idees om hul selfbeeld te bou
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
’n Mens sê so maklik dinge vir jou kinders sonder om twee keer te dink, maar woorde het mag. Die dinge wat jy vir jou kinders sê (of nie sê nie) het ‘n impak op hul menswees en selfs toekoms.
Die webwerf www.sheknows.com noem tien dinge wat jou kinders gemotiveerd en geliefd sal voel:
- Ek is lief vir jou
Dit is eenvoudige vyf woorde, maar ons kan maklik in ons gejaagde lewe vergeet om dit te sê. Jy kan ook vir jou kinders sê wat hulle so geliefd maak.
- Ek is so bly om jou te sien
Hoe lyk die aande in jul huis? Kinders kan maklik voel dat hul ouers te besig vir hulle is. As jou kinders tuiskom, vertel hulle hoe bly jy is dat hulle by die huis is. Jou kinders sal meer geliefd en welkom voel.
- Jy maak my trots
As jou kinders na jou toe kom oor iets wat hulle reggekry het, prys hulle en sê: Jy maak my so trots. Dit sal vir seker jou kinders se selfvertroue ‘n hupstoot gee.
- Ek wil graag meer hoor
Jy is besig op jou foon of rekenaar en jou kind wil jou iets vertel en jy sê: “Nie nou nie, ek is besig.” Gebeur dit met jou ook? Dit vat net ‘n paar minute om te hoor wat jou kinders wil vertel. Luister en reageer.
- Ek glo in jou
Kinders werk dikwels baie hard en voel baie teleurgesteld as hulle nie aan hul ouers se verwagtinge voldoen nie. Wat van die keer wat jou kind laaste in ‘n resies kom? Wat van die keer as jou seun die rugbybal mis vang? Wat van die keer as jou kind leer en leer, maar net die paal haal nie? Kinders moet altyd seker van hul ouers se onvoorwaardelike liefde en ondersteuning wees. Moenie deur hulle probeer leef en te hoë eise aan hulle stel nie. Leer hulle ook om in hul eie vermoëns te glo.
- Ek’s beïndruk
Dink net hoe trots sal jou kinders wees as hulle hoor hulle het vir Ma en Pa beïndruk!
- Wat wil jy doen?
Ouers maak gewoonlik keuses namens hul kinders en gee hulle nie altyd kans om te kies wat hulle wil doen nie. Bestee gehaltetyd met elke kind en vra jou kinders wat hulle graag wil doen.
- Ek vertrou jou
Kinders doen soms die presiese teenoorgestelde ding van wat jy verwag. Vertel jou kinders dat jy hulle vertrou en hulle sal hul bes probeer om nie daai vertroue te skend nie.
- Jy is so dapper
Dit vat baie moed om ‘n kind te wees en al die nuwe en vreesaanjaende dinge van die lewe te hanteer. As jou kinders vir hulself opstaan, vertel hulle hoe dapper hulle is.
- Jy maak my gelukkig deur net jy te wees
Kinders verdien om te weet dat hulle “genoeg” vir hul ouers is. Daardie gevoel van behoort kan ‘n kind maak of breek.