Jou verhouding met jou liggaam is een wat vir jare moet hou. Versorg jy dit en is jy goed vir jou lyf?
Jou liggaam vat jou waar jy wil wees. Dit moet jou werk toe vat, huis toe vat en gaan jou hopelik nog vir jare en jare hou.
Soos wat jy aan ander aspekte in jou lewe aandag moet gee, moet jy ook na jou liggaam kyk en dit versorg. Ons het ‘n paar idees:
- Probeer om hierdie week iets gesonds by jou ontbyt te voeg. Wat van vars bessies?
- Eet meer groente saam met jou maaltye.
- Fokus daarop om na jou lyf te luister. Is jy regtig honger of net lus vir iets om te eet?
- As jy hou van knibbel, hou gesonde keuses in die laai.
- Moenie jouself uithonger nie.
- Sorg dat jy elke nou en dan darem ‘n lekkerny geniet! Matigheid bly ‘n wagwoord.
- Eet sonder afleidings. Moenie eet voor die rekenaar en TV nie, want dan eet jy nie bewustelik nie.
- Drink genoeg water deur die dag. As jy nie hou van die smaak van water nie, voeg ‘n skyfie suurlemoen daarby.
- Gaan bietjie vroeër bed toe.
- Wat kan jy doen om beter te slaap? Maak jou kamer slaapvriendelik.
- Rus as jy moeg is. Jou lyf gee vir jou seine. Reageer daarop.
- As jy skrikkerig is vir oefening, soek tot jy iets vind wat vir jou en jou lyf werk. Stap, joga, Pilates, Zumba, Parkrun … Daar sal iets wees wat jy geniet.
- Oefen om goed oor jouself te voel – moenie so besorg wees oor kalorieë dat die oefening glad nie lekker is nie.
- Kom in die buitelug. Vars lug is goed vir jou.
- Trek klere aan wat jou goed oor jouself en jou lyf laat voel.
- Kyk na jou liggaam en fokus op dit waarvan jy hou. Moenie dat ander mense se opmerkings jou sleg oor jouself laat voel nie.
- Moenie net fokus op ‘n sogenaamde ideale gewig nie. Fokus eerder op ‘n gesonde liggaam wat jou goed laat voel.
- Moenie jouself afbreek as jy in die spieël kyk nie.
- Hoe praat jy van jouself voor ander mense? Fokus op positiewe gesprekke.
- Skryf 10 positiewe dinge oor jouself in jou dagboek neer. Kyk daarna as jy die dag af voel.
- Vat dinge rustiger. Leef bewustelik.
- Waardeer wat jou liggaam vir jou doen.
- Kry ‘n oggendroetine wat vir jou werk. Doen iets wat jou rustig laat voel, soos om stil te word of in ‘n joernaal te skryf. Strek of joga kan ook werk.
- Detoks elke nou en dan van tegnologie.
- As jy ‘n gesondheidsplan volg, skryf elke oorwinning neer.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.