Vroue kla pal oor mans wat nie genoeg in die huis help nie en nou is dit deur ’n studie bevestig …
Kyk as daar nou een stryery is wat die meeste paartjies ken, is dit die een oor wie wat in die huis doen. My man sê niks maak my gelukkiger as om hom in huis te sien werk nie en hy het nogal ‘n punt beet …
Vroue wêreldwyd weet al lankal dat hulle die meeste met huistakies insit, maar nou is dit deur navorsing bevestig.
Vroue in Amerika bestee ongeveer twee uur meer per dag met huistake as mans. Dit is volgens ‘n verslag deur Oxfam en die Instituut vir Vrouebeleidsnavorsing.
Vroue tussen die ouderdom van 15-24 bestee 54% meer tyd aan huiswerk as mans en vroue van 25-34 bestee 51% meer tyd aan huistakies.
Jy kan dalk dink dis mos logies, want daar is baie tuisblyma’s wat juis by die huis werk, maar hierdie studie het ook werkende vroue ingesluit. Selfs as mans en vroue werk, doen die vroue baie meer by die huis en dan verdien hulle nog volgens die webwerf www.today.com minder geld as hul manlike eweknieë …
Klink nie vir my regverdig nie!
Mans, gryp ‘n besem en ‘n lappie en bewys hierdie navorsing verkeerd.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.