Hier is wenke oor hoe om jou rekenaar in te span om jou beursie bietjie dikker te maak
Deur JB ROUX
Aanlyn meningopnames
Verskeie maatskappye bied meningsopnames op die internet aan. Kort, eenvoudige opnames gaan jou nou nie ryk maak nie, maar dis ’n seker manier om ’n paar rand te maak terwyl jy in jou pajamas voor die rekenaar sit. Webwerwe soos hierdie stel mense van oor die wêreld aan om duisende verskillende meningsopnames deel te neem. Vergoeding neem die vorm aan geskenkbewyse of kontant aan. Die meeste webwerwe betaal ’n paar rand vir ’n paar minute se werk, maar hoe langer die meningspeiling en hoe meer dinkwerk dit verg, hoe meer word jy betaal. Daar is honderde webwerwe wat sulke meningspeilings aanbied. Loer gerus na die onderste drie (al drie is oop vir Suid-Afrikaners): Mystery Shopper, MOBROG, SurveySavvy
Hoewel aanlyn meningspeilings lonend kan wees, is sommige van hierdie webwerwe ’n skelmspul. Vermy indien jy gevra word om ’n deposito te betaal.
Verkoop goeters
Elke huis is vol “goeters” wat die wêreld vol lê en lankal nie meer gebruik word nie. Volgende keer as jy ’n oorvol kas oopmaak en die helfte van die inhoud tuimel uit, gebruik die geleentheid om die kas reg te pak en net die goed wat jy gaan gebruik terug te pak.
Daar gaan waarskynlik ’n hoop goed agterbly. Dan is daar die kombuiskaste. Jy het nog nooit in jou lewe ’n koek gebak nie en sal ook nooit – wat wil jy met die menger maak wat jy as trougeskenk gekry het? En die speelgoed wat die kinders ontgroei het? Die klere wat jy wéét jy nooit gaan dra nie? En al die onnodige goed wat lankal garage toe verban is? Selfs meubelstukke kom in aanmerking.
Dit gaan jou ’n paar minute neem om dié goed op ’n webwerf te koop aan te bied. Neem ’n paar foto’s van die produkte wat jy wil verkoop en skryf ’n eerlike beskrywing van die produk en die produk se toestand. Gumtree is die gewildste webblad vir dié doel en jy sal waarskynlik daar die beste vaar. Moet net nie dat die gogga jou byt en dinge verkoop wat julle nog nodig het nie. Jy wil nie hê jou man moet na sy splinternuwe boormasjien begin soek nie.
Neem foto’s
As jy goed is met foto’s neem, kan jy foto’s – oor omtrent enigiets – aanlyn verkoop. Daar is maatskappye wat foto’s verkoop wat ánder maatskappye op hul webwerwe en vir ander bemarkingsdoeleindes gebruik. Uitgewers gebruik gereeld sulke foto’s vir boekomslae en tydskrifte plaas dit soms by hul artikels. Selfs stokou familiefoto’s kan werk. As jou man mooi genoeg is vir ’n liefdesverhaalomslag, neem hom af wanneer hy nie kyk nie.
Die
proses is maklik genoeg: Gaan na ’n webblad soos Getty/Gallo Images,
iStockPhotos of Shutterstock, volg die aanwysings en laai jou foto. Jy kry kommissie
elke keer wanneer iemand een van jou foto’s gebruik.
Aanlyn video’s
Dis maklik genoeg om ’n video met jou selfoon op te neem en op YouTube te plaas. Die inhoud moet interessant wees om genoeg intekenare te kry. Humor werk goed, soos jou kat wat per ongeluk in die toiletbak val wanneer sy probeer water drink. As jy goed kan hekel, dink aan ’n video waar jy beginners van die begin af kan leer om artikels te hekel. ’n Reeks video’s wat mekaar byvoorbeeld weekliks opvolg, werk goed. As jy 1 000 intekenare of meer het en kykers altesaam 4 000 uur binne ’n jaar na jou video gekyk het, kry jy ’n persentasie van die inkomste wat Youtube uit advertensies verdien het.
WordPress
As jy ’n diens wil aanbied – soos vryskutskryfwerk of boekhouwerk – kan jy ’n basiese webwerf op WordPress skep. Skryf ’n kort stukkie oor wie jy is en die dienste wat jy aanbied en verskaf ’n voorbeeld van jou werk. Adverteer jou dienste verder op ’n blog of Facebook.
Virtuele assistent
As jy goed is met beplanning en organisering, kan jy dalk ’n virtuele assistent word. Dit beteken jy is vir ’n wye reeks take verantwoordelik, soos algemene boekhouding, die invoer van data, sortering van epos, navorsing en meer. Dis nie net ’n goeie manier om geld te verdien nie, maar ook ’n geleentheid om te netwerk en belangrike mense te ontmoet. Virtuele assistente is besig om baie gewild te word. Baie sake-eienaars gebruik eerder ’n virtuele assistent as om ’n voltydse werker aan te stel. Daar is ’n hele paar webwerwe waar jy jou dienste kan adverteer, soos Fiverr, Upwork en Remote.co, maar dié webblaaie is nog nie baie bekend in Suid-Afrika nie. Bied jou dienste aan deur maatskappye te bel of ’n e-pos te stuur.
Verkoop jou boeke
As jy ’n boekrak het, is die kanse goed dat jy die meeste boeke klaar gelees het – en nie weer gaan lees nie. Takelot bied ’n diens aan waar jy jou ongewenste boeke kan verkoop. By elke boek waarvan daar ’n tweedehandse eksemplaar beskikbaar is, word dit so aangedui. Jy kan self bepaal hoeveel jy vir ’n bepaalde boek wil hê. Die koper bestel die boek en betaal daarvoor. Jy stuur die boek aan die koper en sodra dit ontvang is, stuur Takelot jou geld, minus ’n klein kommissie. Jy sal verbaas wees in watter boeke mense belangstel.
Klasgee
As jy ’n kenner op een of ander vakgebied is – jy is dalk ’n onderwyseres wat wiskunde of Engels gee – kan jy ekstra klasse aan leerders verskaf wat met dié vakke sukkel, natuurlik teen ’n fooi. Dit sal veral goed wees as jy met jou leerders kan Skype. Jy kan selfs ’n hele kursus saamstel en op die internet verkoop. Daar is byvoorbeeld ’n goeie mark vir Engelse klasse en kursusse in China. Gaan loer ’n bietjie op webwerwe soos Udemy, Teachable en Skillshare.
Blogs
Daar is tans meer as 300 miljoen blogs op die internet. Die meeste mense skryf blogs net vir die pret en dis nie lank voor hulle moeg raak daarvoor nie, maar dit is heeltemal moontlik om geld te maak deur gereeld ’n blog te skryf. Met die hulp van ’n program soos Google Adsense, kan webwerf- en blogeienaars geld verdien deur advertensies op die blog te plaas of produkte aan te beveel. Al wat die blogeienaar moet doen, is om op die inhoud van die blog te fokus en lesergetalle te laat groei. Die geldfaktor en advertensies is, as jy Google AdSense gebruik, geoutomatiseer – dit maak alles soveel makliker.
Transkribeer
Dié een is baie maklik: Jy kan klanklêers in geskrewe teks omskep. Sommige maatskappye neem hul vergaderings met ’n klankopnemer op en betaal dan iemand om dit in teks te omskep. Toesprake en selfs preke in ’n kerk word soms getranskribeer. Webwerwe soos Speechpad, Transcribe Me en Rev.Com spits hulle hierop toe. Dié webblaaie is egter in Amerika gesetel en jy sal jou dienste in Engels moet aanbied.
Airbnb
Airbnb’s is ’n betreklik nuwe konsep, maar wen vinnig veld. Die idee is om jou huis – as jy ’n ekstra kamer beskikbaar het – as oornagplek vir reisigers en toeriste beskikbaar stel. Airbnb maak die proses veilig en maklik: besprekings en ander administratiewe werk word aanlyn gedoen. Jy is self in beheer van die beskikbaarheid van die blyplek, tariewe, huisreëls en oor hoe om met jou gaste om te gaan. Airbnb sal jou vergoed vir ongelukke of as jou huis of besittings deur gaste beskadig word. Besoek www.airbnb.com
Dropshipping
Dropshipping is die jongste gonswoord op die internet. As jy reeds ’n winkel of ander onderneming besit, kan jy jou omset drasties vergroot deur jou produkte op die internet óók te verkoop. Readymadestores maak dit maklik: www.readymadestores.co.za
Toets
As jy ’n kenner met tegnologie is – professioneel of as amateur – kan jy ’n lekker geldjie maak deur by Tester Work aan te sluit en webwerwe en toeps op selfone vir virusse te toets. As bonus is jy een van die eerstes om te weet wanneer ’n nuwe produk op die mark gaan kom. Besoek www.testerwork.com