Jou tas is gepak en jy is op pad lughawe toe, maar wat is die lugrederye se bagasieregulasies?
Jou tas is gepak en jy is op pad lughawe toe. Binnekort sal jy in die lug wees saam met jou gunstelinglugredery, op pad na jou vakansiebestemming. Die opwinding bou op, maar Benediction Zubane, hoof van bemarking by Mango-lugredery, sê dinge kan baie vinnig versuur as jy nie van die lugrederye se bagasieregulasies bewus is nie.
“Om ons gaste se reis so veilig en gemaklik as moontlik te maak, moet ons aan ‘n aantal internasionale lugvaartveiligheidsregulasies voldoen. Jy moet daarom weet wat benodig word sodat jou inboek so glad as moontlik kan verloop,” sê Benediction.
Hier is ‘n paar nuttige wenke:
Maksimum in-weeg-bagasiegewig
Mango bied gaste ‘n gemaklike bagasieperk van 20kg gratis aan. Alle bagasie wat meer as dit weeg sal teen ‘n ekstra koste per kilogram per vlug, gehef word. Geen enkele artikel bagasie mag meer as 32 kg weeg nie.
Kajuitbagasie
Elke gas word aan boord toegelaat met een stuk kajuitbagasie en een skootrekenaarsak (nie te dik nie); of een handsak. Die grootte van die skootrekenaar sak word bepaal deur die grootte van die skootrekenaar, uitsluitende enige bykomstighede soos laaiers.
Die kajuitbagasie mag nie meer as 56cm + 36cm + 23cm = 115 cm wees nie en moenie meer as 7kg weeg nie. Jou sak moet of onder die sitplek voor jou of in die oorhoofse kompartemente inpas.
Benediction benadruk dat mense die volgende in gedagte moet hou:
- Vir binnelandse vlugte kan gaste hul toiletware pak. Op ‘n internasionale vlug is daar egter beperkings van 100 ml per item. Dit sluit in mans- of vroueparfuum en skoonheidsmiddels. As jy meer as 100 ml het, sal jygevra word om die oorskot te verwyder. Dit veroorsaak soms baie ongelukkigheid, veral as die inhoud duur is.
- Pak jou ID, geld, juweliersware, sleutels en medikasie in jou kajuitbagasie en hou dit ten alle tye by jou.
- Waardevolle artikels moet by jou gehou word of in ‘n kleiner aparte sakkie gehou word vir in geval die lugredery versoek dat die sak op ‘n ander plek gebêre moet word.
- Pak elektroniese artikels in jou dratas. Moenie dit nie uit sig laat gaan nie.
- Gaste wat met babas reis, kan ‘n klein ekstra sak met bababenodigdhede saamvat.
- Dit is belangrik om daarop te let dat lugrederye jou bagasie mag verwyder om onder in die bagasieruim te laai.
“Die hoofrede waarom ons aan hierdie proses voldoen, is bloot vir gaste se veiligheid. As die oorhoofse kompartemente onbehoorlik met swaar bagasie gevul word, kan hulle in die geval van uiterste onstuimigheid oopmaak en dit kan tot beserings lei,” gesels Benediction.
“Om seker te maak dat jou bagasie aan internasionale spesifikasies voldoen, het elkeen van ons inboektoonbanke gerieflike bagasiegroottes, wat jou sal help bepaal of jouu sak in die oorhoofse kompartement gestoor kan word. ”
Moenie dit pak nie!
Die volgende artikels mag nie in kajuitbagasie wees nie:
- Speelgoedgewere
- Eetgerei
- Messe
- Skêre
- Lemme
- Naelknippers
- Enige skerp voorwerp wat as ‘n wapen gebruik kan word
Waardevolle artikels
“Dit is belangrik om daarop te let dat enige bagasie wat nie aan streng bagasiebeperkings voldoen nie, of om enige ander rede, deur kajuitbemanning verwyder kan word. Hou asseblief alle waardevolle artikels aan jou. Ons wens jou ‘n veilige vlug en gelukkige reis toe!” sê Benediction ten slotte.
Vir meer inligting, besoek Mango se webwerf of kontak 086 100 1234