Kapings is ongelukkig deel van ons realiteit in Suid-Afrika. Wat maak ’n mens as jy in so situasie beland?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy ry rustig huis toe en sit en wonder wat jy vanaand vir ete gaan maak. Jy stop by die huis en dink dat julle regtig iets aan die tuin moet doen en dan merk jy ‘n beweging op.
En dan skielik is hulle om jou. Kapers.
Dis ‘n nagmerrie waaraan ‘n mens nie eens wil dink nie, maar jy moet weet wat om te doen as jy in so ‘n situasie beland.
Verena Hulme, die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT se distriksbestuurder van Kaapstad-Noord, sê om bewus van jou omgewing te wees, is een van die beste maniere om ‘n kaping te vermy.
Verena gee wenke:
- Maak seker dat jy presies weet wat om jou voertuig aangaan.
- As jy parkeer, doen dit in trurat sodat jy vinnig kan uitry indien nodig.
- Wees baie waaksaam as jy by ‘n winkelsentrum was. Wees bewus van moontlike agtervolgers.
- As jy na jou motor in ‘n parkeerarea loop sorg dat jy reeds jou sleutel in jou hand het.
- Kyk na enige suspisieuse objekte naby jou motor.
- As jy dink jy word agtervolg, sit jou flikkerlig aan en ry stadiger. Kyk of die voertuig by jou verbyry of ook reg maak om te stop.
- As jy in verkeer is, maak seker dat jy die voertuig voor jou se agterwiele kan sien. Dit gee jou kans om te ontsnap indien nodig.
- As jy in jou oprit moet stop om ‘n hek oop te maak, los die sleutel in die aansitter en laat die motor luier tensy jy ‘n kind in die motor het. As dit die geval is, moet jy die sleutel uithaal. Dit kan waardevol in onderhandeling wees – hulle soek jou motor en jy jou kind.
- Probeer jou spoed reguleer as jy naby ‘n verkeerslig kom sodat jy nie dood hoef te stop nie.
- Wissel gereeld jou roete en roetine af.
- As iemand liggies teen jou vasry is dit dalk net ‘n taktiek, wys vir die bestuurder om jou te volg en stop net waar dit veilig is.
- Wees op die uitkyk na mense wat naby jou hek of oprit sit of staan. Maak seker dat die ingang na jou huis belig is.
- Laat weet jou mense as jy laat is en wanneer jy by die huis sal wees.
- Leer jou bure en hul voertuie ken.
LEES OOK: 6 iPhone truuks waarvan jy nie geweet het nie
As jy gekaap word
- Moenie die kapers kwaad maak nie. Wys dat jy nie ‘n bedreiging is nie. Lig jou arms en gebruik jou linkerarm om jou sitplekgordel los te maak en jou voertuig in neutraal te sit.
- Moenie die voertuig afskakel nie en klim stadig uit die voertuig.
- Probeer om jou liggaam sywaarts te hou sodat jy nie reguit in die vuurwapen se loop vaskyk nie. Beskerm ook jou kop met jou arms en vermy oogkontak met die kapers. Probeer egter soveel inligting van hulle as moontlik onthou.
- Probeer om kalm te bly.
Noodnommers
Polisie: 10 111
112 (Vodacom+MTN+Cell C)
147 Vodacom
Ambulans: 10177
Besoek: www.adt.co.za