Sal jy jou kind ’n muis laat eet sodat hy ophou om sy bed nat te maak? Dis net een van die vreemde boererate wat ons voorsate gebruik het, vertel Luisa van der Linde
Elkeen van ons ken ’n paar boererate. Jou ma sweer dalk daarby of jou ouma glo eerder haar boek met rate as die dokter. En is daar interessantes! Een van die boererate is vir bles mans. Jy moet glo elke dag vir ’n kwartier ’n pasta van olyfolie, kaneel en heuning aan jou kop smeer om jou hare te laat groei.
Ouma se raat vir seer keel of jou oom se tannie se niggie se hoesmengsel word dalk al van geslag na geslag oorgedra sonder dat jul familie te veel daaroor nadink. Soms gebeur dit ook dat verskillende volke onafhanklik van mekaar oor die jare byvoorbeeld iets soos die medisinale waarde van suurlemoensap of sekere soorte kruie ontgin.
Marisa Engelbrecht sê haar tannie sit geskilde aartappel op brandwonde en gebruik uie op ’n bysteek. “Ek self spuit my rose met waspoeier in water opgelos omdat dit vir plantluise help.” Anso Green sê sy het gelees as jy ’n liggaamsdeel brand moet jy dit vir tien minute in koekmeel hou. Yolande du Preez van Centurion sê sy glo weer aan heuningtee vir hoes en om ’n naeltjie teen tandpyn te kou. “My ouma maak weer ’n mengsel van sout, koeksoda en lou water vir sinus aan. Sy sê ook koeksodawater of ’n stuk steenkool neutraliseer reuke in ’n yskas.”
Altyd ’n plan
Kenners op die gebied van volksgeneeskunde meen plaaslike boererate het ontstaan toe mense op afgeleë plase gebly en van kombuisartikels, kruideniersware, troeteldierprodukte en natuurlike kruie en speserye gebruik gemaak het om hulself te dokter. Soms is daar selfs kennis met plaaslike toordokters uitgeruil!
’n Blogger wat ’n artikel oor volksgeneeskunde geskryf het, sê dat van die Afrikanerpioniers soms diere bestudeer het en só nuwe boererate “ontdek” het. Hulle sou byvoorbeeld waarneem dat ’n springbok aalwyn eet om van vlooie ontslae te raak of dat bobbejane wildeals eet as hulle hardlywig is.
Gewilde bestanddele in tuisapteke was veral witdulsies, boegoe, heuning, kasterolie, laventel, versterkdruppels en kaneel. Dan was daar ook ’n aantal boererate wat uit bygeloof gespruit het. Só sou die walms van vrot gebrande appels die wurms wat iemand se tande vrot maak, uit hul mond lok en hy gesond word …
Die radio-omroeper en akteur Danie Smuts, wat meer as 30 jaar die program Dagbreekdeuntjies aangebied het, het selfs in die laat jare tagtig ’n boek oor boe rerate geskryf. Baie van sy luisteraars het ingebel en hul familieresepte en raad gedeel. Van die wenke in dié boek sluit in: ’n Lourierblaar in pasta hou miet weg, jy moet spek natmaak voor jy dit gaarmaak om te keer dat dit omkrul en 1 t sout in ’n warmwatersak sal die water langer warm hou.
LEES OOK: Kan ‘n gesonde lewenstyl jou regtig teen kanker help?
Kombuiskonkoksies
Verskeie Afrikanerfamilies was destyds glo suinig om geheime rate en wenke uit te deel. Baie van hierdie wenke vir byvoorbeeld hoeskonkoksies het min of meer dieselfde bestanddele soos heuning, kamfer, gemmer en suurlemoen.
- Een internetgebruiker beveel die volgende vir ’n hees stem aan: ’n ¼ k warm melk, 2 e heuning, ’n mespunt gemmer, en ¼ t borrie. Die mengsel moet glo drie keer per dag gedrink word.
- ’n Outydse bloekompleister vir wonde is met gestampde bloekomblare, ’n stukkie geel was en ’n stukkie bokvet gemaak. Dit is uitgebraai, deur ’n sif gegooi en daarna is ’n bietjie soetolie en harmansdrup bygevoeg.
- ’n Ander gewilde hoesmengsel wat van geslag tot geslag aangestuur is, is: een potjie heuning, een botteltjie borsdruppels, een botteltjie pepermentdruppels en die sap van twee suurlemoene. Drink 1 t hiervan op ’n slag.
- Baie van die tradisionele resepte vir lae bloeddruk of bloedarmoede het met beet te make. ’n Outydse resep is: Rasper 2 groot rou bete en giet ’n bottel port daaroor. Voeg ’n botteltjie versterkdruppels daarby. Laat staan dit oornag. Gooi die vloeistof deur ’n doek, bêre in die yskas en drink daagliks ’n kwart koppie hiervan. Jy kan ook gereeld ’n lemoen met sout op of rou uie eet.
- Psoriaseraad wat van geslag tot geslag aangestuur word, is onder meer om ’n botteltjie gliserien, ’n botteltjie pers spiritis en koeimelk aan te smeer en oornag te laat.
- Baie ma’s is ook bekend met Ouma se raad om brandboudjies met eiergeel te smeer en mielieblom (Maizena) oor te sprinkel om ’n lagie te vorm.
Neem maar elke stukkie boereraat wat jy kry met ’n knypie sout …
’n Paar moderne planne
Dit lyk asof die moderne geslag Afrikaners nie vir hul boerevoorgeslagte se vernuftigheid hoef terug te staan nie. Soos wat die jare aanstap en moderne produkte die mark betree, is daar verskeie nuwe planne en raad wat kwistig in die kuberruim uitgedeel word. Op een so ’n forum word die volgende aanbeveel:
- Spuit insekdoder op hardnekkige kolle op klere of om gom van glasbotteltjies af te kry.
- Leilanie van Schalkwyk meen malvalekkers help beslis vir sooibrand.
- Suretha Swart beveel aan dat mense All Gold-tamatiesous gebruik om koperware mee skoon te maak.
- Wasgoedversagmiddel word nie net vir klere gebruik nie, maar aanbeveel om aanbrandsels in gebrande potte te verwyder en klerekaste en motors te laat lekker ruik.
- Nog ’n mengsel wat uit verskillende oorde ontvang is, is om Grand-Pa-poeier met groen kamferroom te meng en dit vir spierpyne of geskeurde ligamente aan te smeer.
LEES OOK: Resep om van kokkerotte ontslae te raak
Moenie dit probeer nie
- Van die oorspronklike boererate was nogal grillerig en kenners meen hoe ernstiger die siekte was, hoe meer desperaat en verregaande was die raad soms.
- Vir ’n slangbyt is daar voorgestel dat die persoon die gif uitsuig en dan sy mond met petrol uitspoel! Daarna moes ’n dooie skilpad se bloed oor die wond gesmeer word.
- Karkatjies is met urine behandel en mense glo vandag nog dat jy ’n baba se eerste oggenddoek oor jou oog moet vryf!
- Vir slapeloosheid moes ’n mens ’n groot hoender slag en die bloed opvang. As die bloed amper droog is, moet dit met petrol en beenmeel gemeng en in die hoender se vet gebraai word.
- Neem maar elke stukkie boereraat wat jy kry met ’n knypie sout, word daar gemaan, want om byvoorbeeld knoffel vir aambeie te gebruik, kan rampspoedige gevolge hê … ’n Mens wonder tog of dit sal help om vir dae aanmekaar aartappel te eet as jy ’n speld ingesluk het? Dis tog baie makliker om maar net ’n dokter te gaan spreek en die regte raad en medisyne te kry!
Toeka se rate
- Tandpyn – Byt ’n knoffelhuisie stukkend, eet rou uie of spoel jou mond met soutwater uit.
- Koorsblare – Probeer vanieljegeursel, samboksalf, poliodruppels of smeer avokadopeer aan of drink ’n sinkaanvulling.
- Diarree – Neem ’n opskeplepel met brandewyn, steek dit aan die brand en as die vlam dood is, drink dit wat oorbly. Jy kan ook gerasperde appel, oorryp piesang of vars suurlemoensap inneem. Nog raad is om mielieblom met water te meng en te drink.
- Hiperaktiewe kinders – Droplekkers, hawermoutpap en kamilletee help glo.
- Blaasinfeksie – Probeer bruindulsies, drink bessiesap, of suurlemoensap in louwarm water saans en soggens.
- Opgeblaasde maag – Drink water met bietjie bakpoeier in, gebruik pepermentgeursel of gemmer. Jy kan ook kort voor etenstyd louwarm appelasyn in water drink.
- Oorpyn – Sit fyn knoffel in ’n wattetjie en plaas in jou oor. Moenie dat die knoffelstukkies in jou oor ingaan nie. Jy kan ook rooipeper in warm water drink. Sny ’n ui oop, maak een helfte warm en hou dit teen jou oor.
- Hoofpyn – Vryf ’n oopgesnyde aartappel op jou slape, drink roosmaryntee, sluk heel knoffelhuisies of sit gemengde mosterd en asyn tussen twee lappies op jou voorkop.
- Droë hande, voete, hakskene en elmboë – Probeer speensalf of hou jou voete in warm soutwater tot dit afkoel. Maak goed droog en smeer dan witdulsies aan. Jy kan ook rooibosteesakkies op wintershande of -voete laat lê.
- Ekseem – Probeer speensalf of was die seer dele met rooibostee. Jy kan ook ’n mengsel van babapoeier, gliserien en petroleumjellie aansmeer.
- Verloor gewig – Eet baie papaja, pynappel en pers kosse soos rosyntjies, pruime en bessies. Drink groentee en ruik aan vanieljegeursel as jy lus is vir sjokolade. Jy kan ook brandrissies, gemmer en mosterd eet om jou metabolisme te versnel. Nog ’n ou boereraat is om 1 k water met heuning en kaneelpoeier te kook en dit soggens en saans op jou nugter maag te drink.