Het jy al ooit gewonder watter speserye werk saam met wat? Hier is ’n gids
- Komyn Kan fyn of heel gebruik word. Werk goed saam met rooivleis, wild, Indiese en Midde-Oosterse disse.
- Koljander Kan fyn gebruik word saam met rooivleis, wild en groente. Heel saadjies kan gebruik word om biltong te geur of ’n pekelmengsel te maak.
- Kardemom Maak die swart saadjies in die peule fyn en gebruik in kerriemengsels of brood. Gebruik die heel peul om melk te geur vir vla. Dis ook lekker in chai-tee of om koffie te geur.
- Kaneel Word meestal fyn gebruik omdat dit baie moeilik is om self fyn te maak. Gebruik in nageregte, gebak, skaapdisse en kerriemengsels.
- Naeltjies Het ’n baie sterk geur. Gebruik slegs ’n knypie van fyn spesery of een heel naeltjie. Gebruik in gebak, rooivleisdisse, ingelegte disse of souse. Onthou om heel naeltjies uit jou gereg te haal sodat niemand daarin kan byt nie.
- Neutmuskaat Gebruik heel neut deur dit fyn in kos in te rasper. Neut het ondertone van swartpeper en werk goed saam met spinasie, witsous, rooivleis, gebak en nageregte. As dit eers ingerasper is, moet dit nie vir lank kook nie, dit kan sy geur verloor.
- Vinkelsaad ’n Klein saadjie wat heel of fyn gebruik kan word. Baie gewild in Indiese en Chinese disse. Werk goed saam met rooivleis, geroosterde groente, vis, vark, ingelegde disse, brood en gebak.
- Steranys Word meestal heel gebruik om vloeistowwe te geur asook in Chinese geregte. Ook geskik in nageregte en gebak. Steranys is die hoofbestanddeel in die Chinese vyf-speserymengsel.
- Fyn gemmer Gemmer kan vars, gedroog, gepekel of versuiker voorkom. Fyn gemmer word by kerriemengsels, gebak, nageregte en hoenderdisse gevoeg.
- Paprika Word gewoonlik in Spaanse en Oos-Europese disse gebruik. Gebruik saam met hoender, rooivleis, groente en in souse.
- Borrie Ook bekend as Indiese saffraan. Borrie word meestal in Indiese resepte vir geur en ook kleur gebruik.
- Rooipeper Kan fyn of grof gekoop word. Gebruik by vleisdisse, vis of groentedisse.