Ons land se paaie is elke Desember-vakansie ’n slagting. Hoe goed is jý vir die lang pad toegerus?
Deur SHANDA LUYT
Tydens die vorige Desembervakansie het net meer as 1 500 mense op Suid-Afrikaanse paaie gesterf, aldus statistieke van die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC). Die hoofoorsaak? Volgens Arrive Alive se webwerf is menslike foute in sowat 95% van die ongelukke die rede agter die ongeluk. Ironies genoeg dink die meeste bestuurders hulle bestuur beter as hul eweknieë. So wat kan jý doen om hierdie feestyd veilig op die langpad te bly? Mike Braun is die algemene bestuurder van Topgear-bestuursakademie in Johannesburg, terwyl Travis Krause die besturende direkteur van Toyota Advanced Driving is.
Hulle gee wenke
Spring reg weg
Vóór jy ry, stap om jou motor en vra jouself die volgende af:
- Is jou motor se banddruk aangepas by die swaarder vrag wat al jou bagasie en passasiers meebring?
- Hoe lyk jou bande se ryvlak? Is al jou wielmoere stewig vas?
- Werk al jou ligte reg? Werk jou sleepwaentjie of woonwa se ligte?
- Is jou motor onlangs versien en vir enige meganiese probleme nagegaan?
- Werk jou ruitveërs 100% en is jou ruite skoon vir maksimum sig?
- Is daar enige los voorwerpe in die voertuig wat dalk soos missiele kan rondvlieg en beserings tydens ’n ongeluk kan veroorsaak?
- Is jou voertuig oorlaai? Kry liewer ’n waentjie as om jou motor te swaar te laai.
Veilig op die pad
- Maak seker jy sit regop en gemaklik met jou knieë en jou arms effens gebuig. Dit werk moegheid teë.
- Handhaaf deurentyd ’n minimum volgafstand van 3 sekondes – vermeerder dit tot 4-5 sekondes in swakker weersomstandighede of op slegte paaie.
- Maak seker almal in die voertuig se sitplekgordels is vas.
- Werk moegheid en irritasie teë deur te stop die oomblik wat jy ongemaklik, moeg of lusteloos begin voel en eers ’n ruskans te vat.
- Respekteer die spoedperk. Dit is met ’n rede daar.
- Aanvaar dat die paaie besig gaan wees en bestuur doelbewus hoflik, bly kalm en geduldig en moenie onnodige kanse waag nie.
- Maak seker die voertuig voor jou sien jou as jy hom verbysteek – moenie onnodig in sy blindekol ry nie. Ry met jou ligte aan in slegte weer.
- Wees bedag op risiko’s en moontlike gevaarlike situasies. Kyk vir ontsnappingsroetes, dink vir die bestuurder in die ander voertuig. Skep vir jouself genoeg ruimte en tyd op die pad om in ’n noodgeval te kan reageer. Weet altyd waarheen jy in ’n moeilike situasie kan ontsnap.
- Bestuur teen ’n spoed en styl wat by die omgewing en die padtoestande pas.
- Maak die reis deel van jou vakansie. Dit sal die druk van jou afhaal om die maksimum afstand in die minimumtyd af te lê.
Noodsituasies
Mike en Travis beklemtoon albei dat elke noodsituasie uniek is en dat die beste optrede van die omstandighede sal afhang. Daarom is dit belangrik dat ’n mens bewus moet wees van wat om jou aangaan, sodat jy gereed is, vinnig die situasie kan opsom en optree. Tog is daar ’n paar algemene wenke om in gedagte te hou:
Hoe gemaak as ’n dier skielik voor jou in die pad inhardloop?
“Dis nogal ’n moeilike een!” sê Mike. “Dit is belangrik dat ’n mens pro-aktief moet wees, sodat jy verkieslik enige dier op of naby die pad betyds kan raaksien en spoed kan verminder deur jou voet van die versneller af te haal. Daarby kan jy probeer om ’n bietjie ruimte tussen jou en die dier te skep sodat die dier genoeg plek het om te reageer.”
Maar wat as die dier voor jou voertuig inhardloop? “Dit is net menslik om te probeer uitswaai, maar neem in ag dat jou voertuig waarskynlik swaarder as gewoonlik gelaai is. As jy dus probeer uitswaai, is die kanse baie goed dat jou voertuig nie dieselfde gaan reageer as wanneer jy alleen daarin werk toe ry nie,” sê Mike.
“Moet nooit probeer uitswaai sonder dat jy eers spoed verminder nie. Daar is die risiko dat jy voor aankomende verkeer kan inswaai of van die pad af kan ry en ’n boom kan tref.” Mike sê as dit ’n klein diertjie soos ’n hasie of voël is, is dit beter om die voertuig in ’n reguit lyn te hou eerder as om uit te swaai. “Ons is almal lief vir diere, maar soms is dit ’n keuse tussen die dier en jou gesin.” By groter diere soos ’n koedoe is die risiko groot dat die dier deur die voorruit sal kom as jy dit tref, daarom is dit belangrik om te probeer uitswaai, maar eers ná jy gerem het.
Travis sê as dit kom by die vermyding van ’n botsing, is dit eerstens belangrik om te weet of jou voertuig ABS-remme (sluitweerremstelsel) het of nie. “Wanneer jy jou motor aansit, sal daar ’n ABS-indikator wees. ABS-remme gee jou normaalweg die vermoë om terselfdertyd te rem en te stuur. As jy nie ABS-remme het nie en jy rem hard vir ’n bok of ander dier in die pad, kan jou remme sluit en jou voertuig begin gly. Met ABS-remme sal dit egter rem en laat los, rem en laat los, al is die rem vol ingetrap. Dit kan vir jou voel of die rem onder jou voet klop. Moenie skrik en jou voet van die rempedaal afhaal nie. Dit is juis ’n teken dat jou ABS-remme reg werk.”
Hy verduidelik dat met ’n voertuig sonder ABS-remme die bestuurder hierdie proses van rem en laat los moet naboots deur kort hard te rem, vinnig die rem te los, kort hard te rem, vinnig te laat los, tot die motor uiteindelik tot stilstand kom sonder om te gly. Dit is egter baie moeilik om te doen omdat die meeste mense instinktief in so ’n situasie hard rem. Hy beklemtoon verder dat jy nie in ’n motor sonder ABS-remme gelyktydig kan rem en uitswaai nie.
“As jy móét uitswaai, rem en laat los en draai effens, rem en laat los en draai effens. Doen dit soveel moontlike kere in so ’n kort moontlike tyd tot jy kan stop.” Met ABSremme is dit wel moontlike om uit te swaai en tegelyk te rem, sê Travis, maar dit is belangrik om waar moontlik ’n reguit lyn te hou. “Moenie ’n 90°- draai probeer maak nie, want dan gaan jy jou kar omgooi. Swaai net effens uit – nie meer as 10 tot 15 grade nie – en rem terselfdertyd om spoed te verminder.” Jou eerste prioriteit bly om ’n botsing te vermy, sê Travis, maar as daar aankomende verkeer is, ry liewer die bok raak.
Wat as jou voertuig se band bars?
Die belangrikste is gewoonlik watter wiel bars, sê Travis. “As ’n voorwiel bars, kan die voertuig dalk na die een kant toe trek aangesien die voorwiele verantwoordelik vir draai is, maar ’n agterwiel sal baie mense nie eens voel nie. Hoe jy gaan reageer, sal baie van die omstandighede afhang. Jy moet gewoonlik probeer om jou voertuig in ’n redelike reguit lyn te hou terwyl jy dit so gou moontlik tot stilstand bring.”
Mike sê: “As jou motor se band bars, kan die kar soms ’n bietjie onstabiel raak. As jy dan skerp rem, kan dit dalk gebeur dat die voertuig selfs meer onstabiel raak, veral as dit ’n voorwiel is. ’n Beter opsie is om net jou voet van die versneller af te haal, en dan deur middel van jou ratte die spoed van die voertuig te verminder tot jy kan stop. As jy wel rem, moet dit baie liggies wees.” Mike sê die meeste nuwer motors sal egter relatief stabiel bly as ’n band bars. Travis sê sou die voertuig drasties in ’n ander rigting gaan, is dit belangrik om net te probeer om niks te tref nie. “Moenie met die stuurwiel baklei nie. As jou motor se agterkant aan die een kant begin verbykom, stuur in daardie rigting en probeer die voertuig reguit hou terwyl jy spoed verminder.”
Wat doen jy as jou woonwa of sleepwaentjie begin swaai?
“As ’n waentjie of woonwa begin swaai, is dit dikwels omdat dit oneweredig gelaai is of omdat die gewig na een kant in die waentjie geskuif het, of omdat die bande nie ewe hard gepomp is nie, of daar dwarswinde is,” sê Mike. “As ’n mens dan skerp rem, kan die swaaiende waentjie ook die motor destabiliseer. Die enigste manier om so iets te stabiliseer, is om te versnel en die waentjie te trek dat dit ophou swaai en reguit loop. Daarna kan jy op ’n veilige plek stop en ondersoek na die oorsaak instel.”
Travis reken egter een van die grootste redes hoekom ’n waentjie of woonwa begin swaai, is juis omdat mense te vinnig daarmee ry, en dan help dit nie jy versnel verder nie. “Jy sien nie ’n woonwa teen 5 km/h swaai nie. As spoed die rede is hoekom die waentjie swaai, moet jy stadiger ry deur jou voet van die versneller af te haal. Moenie oorreageer en hard rem nie. Bly kalm, ry geleidelik stadiger en hou jou voertuig se wiele so reguit moontlik. As jy stadig ry en jou waentjie swaai, gaan die wiele na, want dan is dit gewoonlik waar die fout lê.”
Hoe gemaak as jy ’n pap wiel kry en daar is nie veilige aftrekplek nie?
Bestuur baie stadig met die noodligte aan tot jy ’n veilige aftrekplek kry, al beskadig dit dalk die band of velling, sê Mike. “As jy op ’n onveilige plek stop, is daar ’n risiko vir ’n botsing. ’n Mens moet jouself dus afvra of jy bereid is om daardie kans te waag net sodat jy ’n wiel kan red.”
Travis sê die eerste prioriteit is om jou band so gou moontlik te ruil, maar dit is belangrik om die rooi driehoek minstens 50 meter agter die voertuig uit te sit sodat ander motors kan sien daar is fout. “As jy op ’n blinde hoogte staan, probeer liewer baie stadig aanry tot op ’n veiliger plek en trek sover moontlik van die pad af.”
Veilig reis en lekker vakansie hou!