Volgens die AA, is die meerderheid van die meer as 11 miljoen geregistreerde voertuie in Suid-Afrika – tussen 60 en 70% – nie verseker nie. Hier is 9 wenke om jou nuwe ryding te verseker
Die onlangse BTW-verhoging het daartoe gelei dat baie verbruikers gehaas het om nuwe voertuie te koop voor middernag op die 31ste Maart. Volgens die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika, het verkope van nuwe voertuie met 1.1% gestyg in Maart 2018 tot 49233 eenhede, teenoor die 48698 eenhede wat in Maart 2017 verkoop is.
Wanneer ‘n voertuig gefinansier word, is omvattende versekering verpligtend. Dis egter kommerwekkend dat sommige motoriste, veral in uitdagende tye, hul versekering kanselleer sodra hulle die voertuig-vertoonkamer verlaat. Volgens die AA, is die meerderheid van die meer as 11 miljoen geregistreerde voertuie in Suid-Afrika – tussen 60 en 70% – nie verseker nie.
Dit beteken dat baie van hierdie nuwe voertuie binnekort op die land se paaie sal wees, sonder enige dekking teen ongelukke, diefstal of derde party skade sal wees.
“Deur dit te doen loop motoriste ‘n reuse finansiële risiko indien iets met hulle voertuie gebeur”, sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Hulle sal nie alleen die finansieringsmaatskappy die uitstaande gefinansierde bedrag skuld nie, maar as daar derdeparty skade is, sal hulle hulself in ‘n selfs dieper finansiële verknorsing bevind.”
Met inagname hiervan, bied Virseker die volgende slim wenke om jou nuwe wiele te verseker:
- Snuffel rond – sou jy dink dat jy nie die beste waarde vir geld gekry het ten tye van jou aankoop nie, snuffel rond vir alternatiewe kwotasies wat spesifiek vir jou behoeftes en risikoprofiel aangepas is.
- Maak verantwoordelike skuiwe – moenie jou huidige versekering kanselleer voordat jou nuwe versekering in plek is nie. Maak seker dat jy die nuwe kwotasie aanvaar het en ‘n formele bevestiging van jou nuwe versekering het voordat jy enigiets kanselleer.
- Neem ingeligte besluite – doen jou huiswerk voordat jy ‘n versekeraar kies om seker te maak dat jy die beste waarde vir geld en die korrekte dekking kry. Indien jy ‘n voertuig finansier, sal jy vereis word om omvattende versekering uit te neem, maar jy kan kies by watter versekeraar om dit uit te neem. Kyk na watter waarde-toevoegings elke versekeraar bied en gaan hulle bepalings en voorwaardes na voordat jy ‘n kontrak onderteken. Dit is van kritieke belang om te weet waarteen jy gedek word en waarteen nie, veral wanneer dit by die eisproses kom. Oorweeg ook die opsie om vir krediettekortversekering aansoek te doen op ‘n gefinansierde voertuig, wat die verskil tussen die versekerde bedrag en die totale afbetalingsbedrag dek.
- Verstaan jou versekeringstaal – daar’s ongetwyfeld baie brabbeltaal in versekering wat jou kan verwar. Indien jy nie sekere bepalings en voorwaardes verstaan nie, kontak jou versekeraar en vra hulle om dit te verduidelik. Dit kan jou oor die langtermyn heelwat geld en frustrasie spaar. Belê tyd daarin om versekering vrae en antwoorde te lees om seker te maak dat jy goed ingelig is.
- Ken jou bybetalings – ‘n bybetaling is die eerste bedrag betaalbaar deur ‘n kliënt wanneer hulle eis en word nie deur versekering gedek nie. Hoe laer jou premie, hoe hoër sal jou bybetaling waarskynlik wees, en omgekeerd. Daar mag ook addisionele bybetalings deur jou versekeraar gehef word, so maak seker dat jy deeglik bewus is daarvan en weet watter op jou van toepassing is.
- Prioritiseer jou versekeringspremies – ons weet dat, in swaar tye, versekering menigmaal die eerste uitgawe is wat besnoei word. Hoewel dit ‘n mate van verligting in die korttermyn kan bring, kan dit jou eindelik heelwat meer kos indien jy in ‘n ongeluk betrokke is of jou voertuig gesteel word. Die geld wat jy elke maand bespaar het sal nie eers vergelykbaar wees met die tien- of honderde duisende rande wat jy moontlik uit jou sak sal moet opdok nie.
- Kombineer om te spaar – baie versekeraars bied afslag indien jy beide jou motor en huisinhoud deur hulle verseker en selfs meer wanneer jy geboueversekering ook insluit. Vind uit oor kombinasie-opsies waar jy dalk kan spaar en jou premies verlaag.
- Hou jou persoonlike besonderhede op datum – onthou dat dinge soos waar jy woon en jou voertuig parkeer kritieke faktore is vir jou versekeraar om jou vlak van risiko te bepaal en jou premie uit te werk. Om jou versekeraar op hoogte te hou van veranderinge verseker nie alleen dat jou dekking geldig bly nie, maar kan selfs jou premies verminder.
- Verhoog jou sekuriteit – maak seker dat jy ‘n nasporingstoestel laat installeer, berg jou voertuig oornag in ‘n toesluit-motorhuis en parkeer jou voertuig op ‘n veilige plek gedurende werksure. Al hierdie sekureitsmaatreëls sal in jou guns tel wanneer dit by die onderhandeling van ‘n meer gunstige versekeringspremie kom.