Dis die tyd vir ontspan, maar dikwels voel ’n mens ná die Kerstyd of jy nog ’n vakansie nodig het. Ansja Ferreira gee raad
Ná ’n besige jaar is die feestyd uiteindelik hier en almal sien daarna uit om te ontspan en die rustyd te geniet. Baie van ons het hierdie jaar hard gewerk om ons finansiële asook gesondheid- en fiksheidsdoelwitte te behaal en wil dit nie tot niet sien gaan nie. Hier is ons toptienwenke:
1. Wees slim met aankope
- Bly by jou begroting
- Samel ekstra geld in deur addisionele werk te doen
- Besnoei op jou geskenklys
- Gebruik die “Geheime Kersvader”-idee vir ’n groep vriende sodat jy net een geskenk hoef te koop
2. Moenie geld bestee wat jy nie het nie
Izak Strauss, ’n welvaartsafrigter, sê die goue reël wat steeds geld, is: Kontant is koning. “As daar geen kontant is nie, behoort niks te vloei nie. Moenie geld spandeer wat jy nie het nie.”
Volgens Izak is ’n derde van mense wat gedurende die eerste drie maande van die jaar insolvent verklaar word deur oormatige Kersspandering “oor die afgrond” gedryf.
“Jou inkomste behoort gebruik te word om vir noodsaaklikhede en uitgawes te betaal. Slegs daarna kan die oorblywende gedeelte vir spaar en beleggings gebruik word. Spaar is ’n beskermingsmaatreël – geld wat jy vir spesifieke doelwitte soos ’n noodfonds, vakansie of Kersinkopies wegsit. Beleggings is vir persoonlike welvaart – jy wil dit laat groei.”
Begin in 2016 reeds vroeg spaar deur ’n spaarrekening oop te maak en gereeld daartoe by te dra. Begroot hoeveel jy wil spaar aangesien dit ook met die grootte van bydraes sal help. Wanneer Desember aanbreek, kan jy slegs dit wat in die rekening is, bestee.
3. Stel ’n gesonde kersspyskaart op
Die meeste mense glo dat familiebyeenkomste oor uitspattige spyskaarte en kuier gaan, sê Mariana Muller, ’n lewensafrigter.
“As ’n mens met heimwee op jare se Kersfeeste terugkyk, dink jy aan die mense wat nie meer daar is nie en is die spyskaarte skoon vergete. Sien dit as ’n uitdaging om ’n gesonder spyskaart op te stel as vorige jare.
Nuwejaarsvoornemens hou gewoonlik nie lank nie, so moenie wag om iets omtrent jou eetgewoontes en oefening te doen nie. Begin dadelik en moenie die feestyd as ’n struikelblok vir jou eetgewoontes sien nie. Sien dit eerder as ’n uitdaging om gesonde, lae-kilojoule-disse voor te sit. Dit is ’n persoonlike oorwinning om ná die vakansie op die skaal te klim en geen toename te sien nie.
“Daar is gewoonlik baie gesellighede in die paar weke voor Kersfees en ’n mens het ’n keuse om net moedeloos te besluit daar is te veel gesellighede, jy gaan in elk geval gewig aansit of om te besluit jy gaan elkeen op sy eie hanteer en die beste daarvan maak,” sê Mariana.
4. Drink genoeg water en berei vir ’n gesonder jaar voor
Een van die goedkoopste, gesondste toevoegings wat jy tot jou lewe kan maak, is om water te drink, sê Mariana. “Die liggaam benodig water vir baie prosesse, selfs al begin jy met twee glase op ’n dag en vermeerder dit stelselmatig.”
Hou gerus die volgende in gedagte: Voldoende veselinname per dag beheer jou eetlus, balanseer bloedsuikervlakke en voorkom siektes, sê Mariana. Sluit genoeg groente by al jou etes in. Groente is hoog in vesel en laag in kilojoules. Neem ook in ag dat restaurantporsies tot dubbel die normale porsiegrootte kan wees.
Daar is ’n verskil tussen honger en aptyt. Honger is as jou bloedsuikervlakke daal. Aptyt kan deur reuke en sosiale geleenthede aangewakker word. Identifiseer of jy regtig honger is voor jy eet.
5. Werk aan jou verhoudings
Verhoudings is kosbaar, selfs al is jy baie jare getroud. Wys vir jou maat dat jy hom of haar waardeer, sê Mariana.
“Willard F Harley Jr skryf in sy boek Sy behoeftes, haar behoeftes dat sekere basiese behoeftes by mans en vroue gereeld na vore kom. Volgens hom het mans die volgende basiese behoeftes: seksuele bevrediging, ’n maat om mee saam te ontspan, huishoudelike sorg en bewondering. Vroue verlang liefdesbetuiging, kommunikasie, eerlikheid, finansiële versorging en toewyding aan die gesin. Dit mag van mens tot mens verskil, maar volgens Willard het hierdie faktore gereeld in huweliksprobleme na vore gekom. Dit is geen wonder dat daar aanpassingsprobleme in ’n huwelik kan wees nie, want mans en vrouens se behoeftes verskil. Volgens hom kan enigiemand in die strik van ’n buiteegtelike verhouding trap as daar nie in ’n persoon se basiese behoeftes voorsien word nie,” sê Mariana.
6. Bly aktief en oefen
Doen as gesin aktiwiteite wat energie vereis, sê Mariana. As jy 15 minute vinnig stap, wat die hartklop opjaag en jou effens moeiliker laat gesels, is dit beter vetverbranding as ’n langer tydperk wat jy stadiger stap en gemaklik kan gesels. Gaan stap in die oggend en/of aand ’n ent teen ’n vinnige pas.
7. Belê in ’n noodhulpkissie
Dit is altyd goed om ’n noodhulpkissie byderhand by die huis en ook in jou voertuig te hou. Dit behoort medikasie vir naarheid, diarree, koors, hoofpyn, verkoue en griep, sooibrand en insekbyte of -steke in te sluit. Jy kan ook vooraf by jou huisdokter vra vir ’n voorskrif vir ’n breëspektrum- antibiotikum om saam te neem as jy dalk na ’n omgewing gaan waar daar nie dokters beskikbaar is nie.
Die meeste mense het ’n oefenapparaat tuis. Doen elke oggend vroeg 10–20 minute se kardiovaskulêre oefening, soos fietsry, stap, draf of swem. Dit het ’n positiewe invloed op jou gemoed as jy weet jy eet nie net saam met kuiergaste nie, jy doen ook iets daadwerkliks om dit af te werk.
Reël lekker uitstappies in die buitelug vir jou gesin. Stap en ervaar terselfdertyd die positiewe uitwerking van vitamien D op die gemoed en geniet gesonde piekniekkos.
8. Pas jouself op
Vind uit oor die gehalte van drinkwater by jou vakansiebestemming en moenie die sonbrandmiddel vergeet nie. Tref ook voorsorg teen insekbyte. As jy by die see vakansie hou, wees versigtig vir bloublasies, seekastaiings, see-anemone en jellievisse. Gaan na die naaste lewensreddingstoring vir raad en hulp as jy deur een toegetakel is. Lewensredders beveel aan dat jy asyn gebruik as jy wel deur bogenoemde gesteek is. Wees veiligheidsbewus in jou voertuig, in groot winkelsentrums en waar skares mense bymekaar is.
9. Moenie van jouself vergeet nie
Tussen die geharwar van mense in die huis, vakansie en feesdae is dit maklik om te vergeet dat jy ook moet rus. Dink ’n bietjie aan jouself in hierdie tyd en bederf jouself met iets. Breek ’n bietjie weg van die gemaal om met ’n boek te ontspan of iets alleen te doen.
10. Maak die beste van jou vakansie
- Maak voor jou vakansie ’n lys van alles wat jy moet inpak en reëlings wat jy moet tref.
- Doen deeglike beplanning. Wanneer jy by jou bestemming aankom, kry brosjures van al die besienswaardighede.
- Rus tussenin. Wissel ’n besige dag met opwindende besoeke aan besienswaardighede met ’n rustige dag af. Om drie besige dae ná mekaar te hê, gaan jou so moeg maak dat jy naderhand nie meer vir enigiets lus is nie. Delegeer take sodat elkeen ’n beurt kry om byvoorbeeld skottelgoed te was.
- Hou die kleintjies in gedagte. As jy met jong kinders vakansie hou, is dit noodsaaklik om die vakansie-aktiwiteite rondom hulle aan te pas. Dit gaan dalk nodig wees om die kinders in die middag ’n kansie te gee om te dut.
- Vergeet van werk. Behalwe as jou werk dit vereis, moet jy nie e-posse en werksoproepe hanteer nie. Jy is met vakansie. Sorg dat ’n verantwoordelike persoon in jou plek is wat dringende sake kan hanteer.
- Sluit belangrike dokumente soos paspoorte en identiteitsdokumente by jou vakansiebestemming in die kluis toe.
- Hou belangrike noodnommers byderhand en bly kalm as daar ’n krisis opduik.
- Kry genoeg slaap, werk so min as moontlik en hou lekker vakansie!
Izak Strauss: [email protected] of www. izakstraus.co.za; Mariana Muller: [email protected]