Pragtige tuin by Helderberg Hospice bring vrede vir pasiënte en hul versorgers. Die tuin spog met pragtige rose – kry hier wenke vir jou eie roostuin
Maryke Roberts
As jy pragtige rose wil hê, kan jy hierdie paar eenvoudige stappe volg
• Met jaarlikse snoei, sal jy nie net mooi rose in die somer in jou tuin sien nie, maar ook verseker dat die bos jonk en groen en soepel bly. Snoei jou rose in die middel- tot laat-Julie sodat dit goed kan rus in die winter en met nuwe prag in die somer sal blom. In dele waar winterryp voorkom, moet tot middel-Augustus gewag word. Sny ook elke drie of vier jaar enige dooie, dik takke af om nuwe lote te verseker.
• Sorg dat jy ’n goeie snoeiskêr het en belê in goeie handskoene sodat die dorings jou nie krap nie. ’n Saag is net nodig waar dik, dooie takke afgesaag moet word. Verwyder eers al die blare en dooie blomkoppe, daarna al die dooie- of besmette takke. Rooskenners glo nou dat ’n reguit snit beter is as ’n snit teen ’n hoek, omdat minder stam blootgestel word wat vog kan lok en dus in siektes kan omskakel.
• Sprinkel ’n bietjie organiese kompos om die roos se stam en maak die grond om die plant met ’n tuinvurkie los voor die grond goed natgemaak word. Sproei jou roosbome met ’n goeie plantluissproei.
• Wag tot laat Augustus of vroeg September voor jy nuwe bas om die plant strooi, want dan sal die grond al effens warmer wees en jy nie hoef te bekommer oor verrotting nie.
SOURCES
Jac Kritzinger