Antieke meubels vier hoogty by die Boshoffs
DEUR: MARYKE ROBERTS
FOTO’S: JAC KRITZINGER
Patrys en Dave Boshoff van Strand Trading Post in die Strand buite Kaapstad, is mal oor oudhede, maar benodig steeds moderne geriewe. In hul huis huisves ’n ou werksbank hul ketel, mikrogolfoond en ’n houthouer met messe en vurke in. Binne-in die messe-en-vurke houer is daar ’n houthouer met teelepels, suikerpot, koffie en tee in. Handig byderhand vir ’n vinnige tee of koffie.
Patrys sê sy is absoluut gaande oor ou houtboksies met ou geskrif en prentjies op.
Ander gebruike vir oudhede:
- Sit al jou brood- en kaasborde en houtlepels op die eiland of werksoppervlak vir elke dag gebruik.
- Soek ’n oulike houtkrat om Italiaanse en Franse glaskraffies in te bêre. Jy kan jou sjerrie, port en wyn daarin gooi en net so opdien dat gaste hulself kan help.
- Stoor jou kruideniersware, kerse en lappe in jou kaste in houtboksies. Dis nie net netjieser nie, dis makliker om iets te kry en lyk pragtig as jy die kas oopmaak.
- Gebruik die outydse glas “paddas” wat voorheen in blompotte voorgekom het. Gebruik dit om klein teelepels of koekvurkies in te stoor. Sit dit saam met die teekoppies op jou skinkbord as vriende kom kuier.
- Ou emalje-emmers is ideale asdrommetjies of houers vir toiletpapier vir jou badkamer.
Ou emaljebekers is lekker vir messegoed by die braai en ou draadmandjies ideaal vir servette of eiers of suurlemoene vir jou tafel.