Wie gaan iets wil pienk verf, het ek gewonder? Totdat ek hierdie skakering gesien het. Hier is die stappe om ’n laaikas pienk te verf
Deur: Eldaleen Hugo
Voor
Dié laaikas van dennehout was al verskeie kleure en die blou-engeel- kombinasie het ook nou ’n vervaldatum bereik. Ons het besluit om Granny B’s Old Fashioned Paint se splinternuwe kleur, Sweet Sylvia, op die proef te stel.
Voorbereiding
Gebruik spiritus en ’n kombuisopwassponsie se growwe kant om die kassie en laaie skoon te maak sodat die vuil en vetkolle afkom. Vee die kassie daarna goed skoon met ’n nat lap. Haal die handvatsels af, stop die skroefgate met houtvuller en skuur die oppervlak glad wanneer dit droog is (dit word baie gou droog). Sit strokies hout aan die boonste en onderste voorkant van die kas met houtlym en klein spykertjies (panel pins) vas om dimensie aan die kas te gee. Houtblokkies dien as pote (met skroewe vasgesit) en strokies hout aan die voorkante van die twee voorste pote se rondings gee ’n Art Deco-effek.
Kas
Verf eers die kas voor jy die laaie takel. Die geel is ’n sterk kleur en het daarom meer as een laag pienk verf nodig om die ware pienk skakering te kry. Aanvanklik skyn die geel steeds deur, maar ná nog twee lae is dit glad nie meer sigbaar nie. Meng Granny B se Armour (Matt) met die laaste laag verf om die oppervlak solank te seël. Droogborsel Hurricane daarna liggies op die houtstrokies om dimensie te gee.
Droogborsel Beach Sand ’n paar keer om die regte effek te verkry en om by die nuwe verskillende laaiknoppe se agtergrondkleur te pas.
Laaie
Die laaie se oppervlakke is doelbewus nie perfek glad geskuur nie om ’n effense verweerde effek te behou om by die kleur en verftegniek van die laaie te pas. Die gestopte gaatjies van vroeëre handvatsels is dus nie heeltemal glad nie en werk saam met die swartbordvoorkoms van die laaie. Verf die laaie se voorkante (en die kas se agterkant) met ’n mengsel van 2/3 Hurricane en 1/3 Black Betty (twee lae en voeg Armour by die laaste laag). Gebruik Beach Sand om ’n raam om die laaie se voorkante te verkry. Droogborsel die Beach Sand ’n paar keer om die regte effek te verkry en om by die nuwe verskillende laaiknoppe se agtergrondkleur te pas. Verf die binnekant en kante van die laaie ook met Beach Sand waarby Armour gevoeg is.
Afronding
Verseël die hele kas en die laaie se buite en binnekante met Armour (twee lae) – maak seker die verf is behoorlik droog voor jy hierdie lae seëllaar aansit. Smeer Cobra-vloerpolitoer met ’n stuk ou T-hemplap oraloor aan en wag sowat 10 minute voordat jy die kas en laaie (ook die kante en binnekante) met die sagte kant van ’n opwassponsie opvryf om ’n gepoleerde effek te kry.
Die pote is eenvoudige houtblokkies met houtstroke vooraan om ’n Art Decoeffek te gee.