Hierdie kas kom uit ’n vorige lewe en die laaste laag verf het lankal sy doel gedien. Dit was tyd vir ’n Franse plattelandse voorkoms. Hier is die stappe om ’n kas te verf en stensil
Deur: Eldaleen Hugo
Ek wou die verlede toeverf en nuut maak met ’n voorkoms wat my gelukkig maak. Oor Europa is ek gaande en in my kop het ek ’n Franse linnekas met skakerings van grysgroen en laventel gesien. Moenie dink hierdie is ’n naweekprojek nie! Om die eindresultaat te kry, verg geduld, tyd en moeite, maar die eindproduk is vir my mooi.
Voor
Granny B’s Old Fashioned Paint se kleure gebruik:
- Daisy (een laag oor die hele kas)
- Mushroom (twee lae oral)
- Hurricane (bo-op, basis, kante en raampies op die panele)
- Overcast (op die buitenste raam, panele en die binnekant van die deure)
- Teacup Green (stensilwerk, deurknoppe, panele en hartjies) Die binnekantse rakke, die basis en die bokant is laastens met ’n mengsel van al die oorblywende verf geverf.
- Behalwe vir die onderlaag met Daisy, het ek oral die onderskeie kleure verf met Granny B se Armour gemeng (2/3 verf en 1/3 Armour). Die hele kas is laastens binne en buite twee keer met Armour geseël.
Tegnieke
- Bo-oor die panele se dun raampies (Hurricane) het ek Mushroom gedroogborsel.
- Die panele het eers ná die laag Daisy, twee lae Mushroom en toe ’n laag Overcast gekry.
- Daarna het ek met ’n klam lap blertse Hurricane ingevryf om die gewenste effek te kry.
- Die stensilwerk met Teacup Green het ek doelbewus op elke paneel anders gedoen en nie oral ewe duidelik nie. Ek het ook Teacup Green op die dun raampies gebruik en plek-plek ingevryf en ook gedroogborsel.