Groot tuine is ’n uitdaging, maar met goeie beplanning kan hulle ’n lus vir die oog word.
Derrich Gardner
Plaastuine en tuine langs ’n rivier bied seker van die grootste uitdagings aan ’n tuinier. Die ruimte verg honderde plante, kompos en skoffelure asook voltydse aandag en genoeg arbeid om na die grasperk en beddings om te sien. Dié tuin naby Bloemfontein in die Vrystaat is al ’n paar keer tydens vloede erg beskadig, maar die eienaar gebruik die uitdaging om nuwe lewe daaraan te gee.
1 Groot grasperke kan eentonig lyk. ’n Paadjie en fokuspunt in die middel verdeel dit visueel in blokke en lyk beter. ’n Sentrale fokuspunt soos ’n fontein, ornament of bedding wat goed beplan is, gee ’n statige en formele gevoel aan die tuin. Beplan paadjies goed dat ’n mens darem met die grassnyer bo-oor kan sny sonder om die lemme te beskadig. Dit bespaar baie kantsnytyd, veral in groot tuine.
2 Verdeel ‘n groot tuin in temas, elkeen met sy eie identiteit. Raam ‘n graspaadjie met randstene om sny te vergemaklik en die graslote uit die blombeddings hou.
3 Ou tuine het altyd skadukolle waar struike moeilik groei. Eenjarige skaduplante en strukture help. ’n Beeld op die regte plek is ’n oplossing. As die groot boom vlak wortels het of as daar klip is, kan jy iets soos ’n pergola bou waar die gesin ure lank kan kuier en onthaal. Dis ’n welkome koelteplek wanneer die somerdae in die huis te warm word.
4 Verrassings in die tuin voorkom dat ’n tuin te groot voel en lyk. ’n Alternatief vir geboude mure is kliphokke. Gebruik ’n ligte staalraamwerk met draad wat los klippe in plek hou. Alhoewel dit ’n groot tuin op die foto is, kan so ’n hoekie, afgeskaal, ook baie goed werk in kleiner tuine. Die klipstapels is wegkruipplek vir insekte wat voëls en ander diere vir ’n maaltyd lok.
5 Waar ’n groot tuin se vlak verander, kan ’n keermuur en trappe interessant gehou word met potte en fokuspunte. Mos op paadjies is glad en kan ’n mens laat gly. Dit kan met ’n bietjie verdunde bleikmiddel gespuit en afgeskrop word. As jy mos wil laat groei, kan jy jogurt aan die klip, pot of plaveisel smeer en die natuur sal die res doen.
SOURCES
Verskaf