Die somervakansie is om die draai. Wees voorbereid sodat jy dit nie bederf nie
Deur CHRISTA SWANEPOEL
Baie mense vat die lang pad see toe en daar is vooruitsigte van ’n voorspoedige rit en luilekker uitspan op die strand of in die bosveld, maar moenie toelaat dat die vakansie ’n nare nadraai het nie.
1. Sonskade
Volgens Kansa is velkanker die algemeenste kanker in Suid-Afrika wat ongeveer 20 000 nuwe gevalle en 700 sterftes elke jaar veroorsaak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê daar kom jaarliks tussen twee en drie miljoen nie-melanoom-velkankers en ongeveer 132 000 kwaadaardige melanoomkankers wêreldwyd voor. Suid-Afrika is naas Australië die land met die hoogste voorkoms van velkanker. Die goeie nuus is dat dit voorkom kan word.
Sonskerm en hoe dit help
Die SBF (SPF) van ’n sonroom verwys na die beskerming wat dit bied. As jou vel normaalweg binne vyf minute begin verkleur, sal ’n sonroom met ’n SBF van 20 jou vel 20 keer langer beskerm, dit wil sê 100 minute voor dit rooi sal begin word. Alle sonrome moet gereeld aangesmeer word.
Die sonstrale
Ultravioletstrale (UV) is dié deel van die ligspektrum wat die aarde bereik. Die wyer UVB-strale veroorsaak rooi en seer vel, velskade en merke op die vel en uiteindelik velkanker. UVA-strale dring die vel dieper binne en kan die selstruktuur beskadig, wat veroudering en ook kanker kan veroorsaak. Daar word aanvaar dat UVA-strale vir kwaadaardige melanoom verantwoordelik is.
Die risiko’s
Almal kan velkanker kry, maar mense met donkerder velle is minder vatbaar omdat hul velle meer natuurlike melanien bevat, wat teen sonskade beskerm. Mense met ligte velle, veral dié met rooi hare, moesies en velvlekke en mense met ’n familiegeskiedenis van velkanker, of wat aan buitelugsport deelneem of buite werk of ver bestuur, se risiko is hoër om velkanker te kry. Sowat 80% van sonskade kom voor die ouderdom van 18 voor, maar die gevolge word eers later in die lewe gesien. Beskerm jou kinders dus van kleins af.
Wat van sonbeddens?
Soms wil mense nie met ’n wit vel op die strand verskyn nie, of hulle dink hulle beskerm hul vel teen die son deur liefs ’n sonbed te gebruik. Volgens Kansa is daar ’n verband tussen sonbeddens en sonlampe en velkanker omdat dit UVA- en UVB-strale uitstraal. Volgens prof Werner Sinclair, ’n dermatoloog, verdubbel sonbeddens die kans om melanoomkanker te kry.
Let op daai kolle
Ondersoek jou vel elke maand en vra iemand om jou rugkant te ondersoek. Die waarskuwingstekens is:
- A-simmetrie – ’n moesie en merke waarvan die helftes verskil. Normale moesies is rond en simmetries.
- Vreemde randjies – gekartelde of vae rande. Normale moesies het gladde en eweredige rande.
- Kleurvariasie – rooi, swart, bruin, wit en blou. Gewone moesies is een kleur, bruin of swart.
- Deursnee – groter as 6 mm.
Vir meer inligting, bel Kansa se tolvrye nommer by 0800 22 66 22 of stuur ’n e-pos na [email protected]
2. Malaria
Malaria is ’n lewensbedreigende parasitiese siekte en naas MIV-vigs en TB een van die grootste gesondheidsuitdagings in die ontwikkelende wêreld. Sowat 3,4 miljard mense in 106 lande bly in streke waar malaria oorgedra kan word – meestal in subtropiese en tropiese wêrelddele. Daarom is vinnige diagnostiese toetse so belangrik om die siekte onder beheer te bring. As jy dus dié vakansie reis, maak seker of jy in ’n malariagebied gaan wees en tref voorsorg. Wees ook bedag op simptome as jy ná die vakansie terugkeer.
Simptome
Malaria boots aanvanklik griepsimptome na en kan enigiets van sewe dae tot maande later voorkom vandat jy besmet is. In streke waar malaria voorkom, kan mense wat verskeie kere besmet word, die siekte hê en min of geen simptome toon nie. Die graad van simptome kan ook van jou algemene gesondheid en die tipe malariaparasiet waarmee jy besmet is, afhang. Die algemeenste simptome is koors, kopsere, sweet, moegheid, naarheid en braking en dit kan in siklusse voorkom weens die lewensiklus van die malariaparasiet soos dit ontwikkel, voortplant en uit die bloed en lewer in die liggaam vrygestel word. Minder algemene simptome is ’n droë hoes, spier- en/of rugpyn en ’n vergrote milt. In seldsame gevalle kan malaria breinfunksie en die rugmurg beïnvloed en tot toevalle en bewusteloosheid lei.
Juis omdat ander siektes dieselfde simptome het, is dit belangrik dat jy dokter toe gaan as jy ’n malariagebied besoek het en bogenoemde simptome ervaar.
Keer muskietbyte
Muskietweermiddels wat DEET bevat kan jou beskerm as jy buite is. Dit moet aan alle blootgestelde dele gespuit of gesmeer word en elke vier tot ses uur herhaal word. Gebruik dit spaarsamig op kinders en gebruik vir hulle middels wat minder as 10% DEET bevat. Dra langbroeke en langmouhemde in ’n ligte kleur om die blootgestelde vel te minimaliseer. Slaap onder ’n muskietnet, verkieslik een wat met insekweerder behandel is. Maak vensters en deure saans toe en spuit in die vertrek.
Vinnige diagnosering
Dis belangrik om dit so gou moontlik te diagnoseer. In September vanjaar is ’n produk in Afrika bekendgestel wat malaria vinnig in een toets kan opspoor, naamlik die AtomoRapidTM Malaria.
3. Wees nugter
Desembervakansies is die tyd van partytjies en pret en daarmee saam drankgebruik en ongelukkig ook drankmisbruik. Jy hoef egter nie die volgende oggend met ’n kopseer op te staan nie. Só sê dr Osborn Mahanjana, uitvoerende hoof van die Bedryfsvereniging vir Verantwoordelike Alkoholgebruik (BVA). Alkohol is gewoonlik die hoofoorsaak van daai aaklige gevoel ná ’n aand van pret en kosbare vakansietyd word deur ’n babelas verloor. Met ’n bietjie dissipline en beplanning kan jy egter steeds ’n paar drankies saam met vriende en familie geniet. “Voorkoming is beter as genesing en as jy verantwoordelik is wat drank betref, kan jy steeds pret hê en veilig wees,” sê dr Osborn. “Daar is ’n voorgestelde hoeveelheid eenhede wat ‘veilig’ is, maar mense word verskillend deur drank geaffekteer en reageer verskillend daarop.” Vroue moet byvoorbeeld nie meer as twee tot drie eenhede alkohol per dag drink nie. ’n Eenheid is 10 ml suiwer alkohol. 500 ml bier (4% alkohol) = 2 eenhede 25 ml sterk drank (37,5% alkohol) = 1 eenheid 175 ml wyn (12% alkohol) = 2 eenhede Dit neem omtrent ’n uur om een eenheid alkohol te prosesseer (dit hang van jou lengte, gewig en geslag af).
Die BVA verskaf nog waardevolle wenke vir die vakansie:
- Eet voor en terwyl jy drink – veral hoëproteïen- en vetterige kos soos kaas en grondboontjies of ’n burger en skyfies, wat die opname van die alkohol in die bloedstroom vertraag.
- Moenie oop drankies van vreemdelinge aanvaar nie en hou deurentyd jou drankie dop.
- Versprei jou drankies en drink nie-alkoholiese drankies tussendeur om die alkoholkonsentrasie in jou bloed te verlaag.
- Drink baie water voor, gedurende en nadat jy alkohol gebruik om gehidreer te bly.
- Gebruik alkohol versigtig as jy medikasie gebruik. Dit sluit oor-die-toonbank-medikasie soos slaappille, antihistamiene en verkouemedisyne in. Alkohol moet ook vermy word as jy antibiotika en ander voorskrifmedikasie gebruik. Klaar dit eers altyd by jou dokter uit.
Vir meer inligting oor BVA besoek www.ara.co.za
4. Reissiekte
Met ’n onlangse kort wegbreek het ons gesin gaan diepseevisvang. Ek en my dogter het reissiektepille by die apteek gekry, maar ten spyte daarvan was my dogter feitlik van die begin af seesiek en het ses uur lank bleek en flou oor die boot se rand gehang. My ander dogter kan weer in ’n motor skaars op haar selfoon kyk of sy is naar. Hoekom gebeur dit? Dit gebeur wanneer die brein verskillende boodskappe van die oë en die balansorgane in die oor kry.
Raad is:
- Beperk jou inname van ryk kos en alkohol voor en tydens die rit.
- Eet gemmerkoekies of drink gemmerbier omdat gemmer naarheid teenwerk.
- Sit voor in die motor indien moontlik of bestuur self en hou jou oë op die horison.
- Probeer om vars lug in te kry en haal stadig en diep asem.
- Koue yspakke op jou oë of nek kan help.
- Eet olywe voor jy ry – die tannien help om die naarheid af te weer.