Kietsie soek ’n spesifieke soort kos en jy koop dit, sy soek ’n spesifiek plek op jou bed en sy kry dit. Hoe kry sy dit reg?
Deur YOLANDA WESSELS
Manipulasie is ’n manier waarop mense kry wat hulle graag wil hê en diere doen dit blykbaar ook, volgens ’n studie deur navorsers by die Universiteit van Sussex.
Katte het ’n doeltreffende manier gevind om met ons te kommunikeer en so ook sommer met ons emosies te speel. Katte gebruik volgens die navorsers ’n “smekende spin” met ’n hoë toonhoogte wat ’n mens of onweerstaanbaar of irriterend kan vind (maar moeilik ignoreer) om hul eienaar se aandag te kry en veral om hul aandag te vestig op die feit dat hulle iets, gewoonlik kos, wil hê.
Hulle manipuleer ons dus om hul sin te kry. Alles ’n geflikflooi. Kateienaars is maar alte bewus daarvan dat katte baie moeilik oorreed word om enigiets te doen – veral iets wat hulle nie wil doen nie. Die eerste teken van spin word waargeneem wanneer die babakatjies soog. Mense vertolk spin as ’n teken van ’n gelukkige, tevrede kat, maar party katte spin ook wanneer dit etenstyd is en hulle aktief vir kos vra.
LEES OOK: Wat sê jou hond van jou?
Die spesifieke stemtoon
Dr Karen McComb, sielkundige aan die Universiteit van Sussex en skrywer van die studie gepubliseer in die joernaal Current Biology, sê haar studie is deur haar eie kat, Pepo, geïnspireer. “Hy maak my soggens wakker met ’n vasbeslote gespin wat werklik baie irriterend is. Ná ’n bietjie navorsing het ek uitgevind dat daar ander kateienaars is wat soggens presies dieselfde situasie met hul katte ervaar.” Die stemtoon wat hulle gebruik, is anders as die tipiese normale, lae frekwensies (-27 Hz). Die ekstra geluid in die spin (met ’n frekwensie van 380 Hz) het ’n hoë toonhoogte, ’n amper dringende, neulende spin, op byna dieselfde frekwensie as ’n huilende baba (300-600 Hz). Waar die smekende spin natuurlik nie dieselfde dringendheid as die gehuil van ’n honger baba het nie, is dit moontlik dat die spesifieke klank eienskappe het wat dit baie moeilik maak om te ignoreer.
Dr Karen het tien verskillende katte wat spin onder verskillende omstandighede opgeneem en dit aan 50 mense teruggespeel. Die vrywilligers het waargeneem dat die spin van ’n kat wat kos wil hê, dringender en minder aangenaam was as wanneer hulle net sit, rus of gestreel word. Die smekende spin was ongetwyfeld dringender. Selfs mense met geen kennis van katte nie het die smekende spin as dringend en onaangenaam ervaar. Die struktuur van die geluide is ontleed en dit is duidelik dat gespin met ’n hoër stemtoon onaangenaam was en ’n optrede vereis het en daarom moeilik geïgnoreer word. Nog ’n feit is dat katte eerder so smekend spin as om konstant te miaau en die risiko te loop om mense te irriteer.
Hoe doen hulle dit?
Wanneer ’n dier ’n geluid maak, beweeg daar lug oor die stembande. Dit sluit op ’n spesifieke frekwensie en die frekwensie van die klank hang af van die grootte, lengte en spanning van die stembande. Katte is in staat om ’n laefrekwensiespin voort te bring deur die spiere van hul stembande te stimuleer om te vibreer. Elke klank word deur verskillende meganismes voortgebring en daarom is katte in staat om ’n klank met ’n hoë toonhoogte met ’n ontspannende gespin te kombineer. Hoe meer energie die kat insit in die klank hoe dringender sal die gespin wees.
Vorige navorsing het ooreenkomste getoon tussen die gehuil/ gemiaau van ’n huiskat en die gehuil van ’n menslike baba – ’n klank waarvoor mense uiters sensitief is. Die kat se gesoebat is gewoonlik vir ’n ekstra versnapering en vorm nie deel van die eetroetine nie! ’n Kat se gespin vind op ’n lae stemtoon plaas, maar hulle is in staat om dramaties te oordryf wanneer hulle sien dit het die regte uitwerking op mense. Katte is privaat diere en dit blyk om meer dikwels plaas te vind wanneer ’n eienaar en kat ’n een-tot-eenverhouding het.
LEES OOK: Katte vs honde
Slim katte
Tesame met hul pote en ander lyfgebare, sal katte probeer om uitdrukking aan hul behoeftes gee, maar omdat mense dikwels nie hul lyftaal verstaan nie, het katte geleer om eerder vokaal te kommunikeer. Wanneer jou kat dus lus is vir nog ’n bietjie pilletjies of aandag en begin spin, veral as hy jou sien roer in jou slaap en by jou kom sit sodat jy sy spin kan hoor, weet maar hy het hierdie kuns bemeester. In ag geneem dat jou kat nie kan praat nie, werk hierdie spin ongelooflik goed en is katte inderdaad meesterlike manipuleerders!