Dis nie meer lank nie dan is jy klaar met skool. Hier is wenke vir die laaste skof
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Vir duisende matriekleerders regoor die land is die eindstreep in sig.
Cindy Glass, die direkteur en medestigter van die Step Up-opvoedingsentrums, verduidelik dat eksamen ‘n stresvolle en angstige tyd vir graad 12-leerders en hul ouers is.
Die uitdaging kan oorweldigend voel en die vrees vir mislukking kan die leerproses in die wiele ry. Dit hoef egter nie ‘n negatiewe ervaring te wees nie, sê sy.
Laai ou matriekvraestelle hier af
Cindy sê: “Matriekeksamen mag soos ‘n onoorkomelike berg voel. Begin vandag daaraan werk om die beste te wees wat jy kan wees. Glo in jouself en weet dat jy dit kan doen!”
Cindy gee die volgende wenke:
- Begin vandag. Kry ‘n kalender en skryf al jou eksamendatums neer. Beplan jou studieskedule vir elke dag. Tik elke takie af soos wat jy vorder. Dit sal jou positiewer laat voel!
- Stel doelwitte vir elke vak. Maak seker dat dit realisties is. Plak dit op jou kamermuur sodat jy daaraan herinner kan word en sodat jy gemotiveerd kan bly.
- Werk ou vraestelle deur en maak seker dat jy reg vir die eksamen is.
- Breek groot take in kleiner, meer beheerbare stukke af.
- Maak seker dat jou studieplek gerieflik ingerig is en dat daar nie afleidings is wat jou aandag gaan aftrek nie. Die bank voor die TV is nie ‘n geskikte studieplek nie.
- Die beste manier om te studeer, is om feite neer te skryf. Jy gaan dit dan baie beter onthou. Oefen dit waarmee jy sukkel herhaaldelik.
- Wees goed vir jouself. Eet gesond, oefen, drink baie water en kry genoeg slap.
- Wees gedissiplineerd. Sit jou selfoon af as jy leer en onthou jy werk aan jou eie toekoms.
Besoek www.stepuped.co.za