Verpes jy dit om te stryk? Hier is ‘n manier om van dit ‘n prettige takie te maak
Marlo Kitshoff-Carstens
Afstrykpapierkussing
BENODIGDHEDE VIR MOTIEF
50 cm wit materiaal
3 velle A4-afstrykpapier (iron-on transfer)
strykyster
BENODIGDHEDE VIR KUSSINGOORTREKSELS
70 cm denimmateriaal (140 cm wyd)
25 cm bruingrys materiaal
25 cm rooi materiaal
25 cm wit materiaal
bypassende garing
maatband
kopspelde
skêr
materiaalgom
3 m gekoopte skuinsband in kleur van jou keuse
3 m koord
gekoopte kussing (60 cm x 60 cm) vir binne-in
Alle naattoelatings is 1,5cm wyd.
Só begin jy
1 Was alle materiaal voor gebruik.
2 Knip die voorpant 64 cm x 64 cm groot.
3 Knip die twee agterstukke 64 cm x 45 cm groot.
Om motief af te stryk
1 Stryk materiaal glad.
2 Druk ‘n kleurafdruk op afstrykpapier.
3 Sit wit materiaal op strykplank met die regte kant na bo.
4 Stryk die afstrykpapier op regte kant van wit materiaal met die gedrukte kant op die wit materiaal met ‘n strykyster sonder die stoomopsie. Gebruik slegs die gewone strykopsie.
5 Trek die papier versigtig af sodat die motief op wit materiaal kan wys.
WENK Jy kan ook die klaar gewaste en gestrykte materiaal na ‘n foto -ontwikkelingswinkel neem wat die motief direk op materiaal kan druk. Dit is wel ‘n duurder opsie.
Voorkant van kussings
1 Sny klaar gedrukte motiewe met ‘n skêr uit.
2 Plaas die uitgeknipte motiewe op die verskillende kleure kleiner stukkies materiaal soos jy daarvan hou. Knip dit bietjie groter as die motief uit.
3 Plak eers al die motiewe op die groter gekleurde materiaalblokke vas en dan op die voorkant van kussing. Laat goed droog word.
4 Stik nou die motiewe op die voorkant van kussings vas.
WENK Jy kan ook met ‘n permanente pen of materiaalverf wat vir omlyning gebruik word op kussings, iets skryf of ‘n posseëlstempel namaak
Koord
1 Pars gekoopte skuinsstrook oop en sit koord in die middel van skuinsstrook.
2 Vou skuinsstrook toe en stik met naaimasjien so na as moontlik aan die koord deur die skuinsstrook.
Voorkant
1 Sit voorkant met regte kant na bo.
2 Steek die klaar gemaakte skuinsstrook op die buiterand van voorpant met kopspelde vas. Die rafelkant moet teen die rafelrande van voorpant lê. Die geronde kante van skuinsstrook wys na die binnekant van kussing.
3 Stik skuinsstrook op die voorpant vas.
4 Trek kopspelde uit.
Agterkant
1 Vou ‘n 1 cm- en dan ‘n 1,5cm-naattoelating na binnekant aan ‘n lang kant van elke gesnyde agterkant. Stik met ‘n stiksel so na as moontlik aan die gevoude rand.
2 Plaas die 2 agterkante bo-op die voorkant, met regte kante van materiaal na mekaar.
3 Die agterkante moet oorvleuel. Steek met kopspelde in posisie.
4 Stik met naaimasjien rondom die kussing, sodat al die sykante vas is.
5 Knip hoeke skuins af. Draai kussing na regte kant en pars.
6 Plaas gekoopte kussing binne-in.
WENK Jy kan ook jou eie poskaarte of foto’s van oorsese reise vir die kussings gebruik.
Loer op www.vrouekeur.co.za na die oorspronklike motiewe
SOURCES
Elmarie Knapton