Gee saam met Wilna Myburgh jou liasseerkabinet ’n nuwe voorkoms uit ’n blikkie
Wilna Myburgh
Die klein liasseerkabinet het beslis beter dae geken – dit is gekrap en die kleur is ook nie iets om oor huis toe te skryf nie. Daar is boonop ‘n baie ouliker gebruik daarvoor as om dit vir los papiere te gebruik: Dit is die ideale grootte om dit in ’n CD-kas te verander.
Vir ’n nuwe voorkoms het jy nie veel nodig nie, net ’n bietjie skuurwerk en dan kan jy spuitverf aanwend. Die Rust-Oleum Hammered-spuitverf kos R100 per bottel. Vir hierdie liasseerkabinet het ons net een blikkie benodig, hoewel jy vir ’n standaardgrootte liasseerkabinet twee tot drie blikkies sal moet gebruik. Jy kan beslis verf spaar deur nie die agterkant te verf nie as jy weet dit gaan net teen ’n muur staan.
Voor en ná
Dis altyd nuttig om die webwerf van die produk wat jy gaan gebruik te besoek voor jy begin sodat jy die beste uit die produk kan kry.
WAT HET JY NODIG?
• liasseerkabinet
•1 blikkie hammertone-spuitverf
• 120 grint-skuurpapier
WAT MOET JY DOEN?
1 Begin deur die liasseerkabinet te was om van alle vuilheid of olie ontslae te raak wat sal meebring dat die verf nie kleef nie. Gebruik sommer gewone seep en warm water.
Stap 2
2 Verwyder handvatsels en die derglike wat jy nie geverf wil sien nie. Verwyder enige ou plakkers.
Stap 3
3 Skuur die liasseerkabinet liggies met 120 grint-skuurpapier. Dit is veral noodsaaklik as daar enige roes of verf is wat afskilfer.
4 Was weer die kabinet af om seker te maak dat daar nie stowwerigheid oor is wat afbreuk aan jou eindproduk gaan doen nie. Wag totdat dit heeltemal droog word voor jy verf.
5 As daar enige dele is wat jy nie wil verf nie, kan jy dit met verwersmaskeerband afmerk.
Stap 6
6 Nou is jy uiteindelik gereed vir die eerste laag spuitverf. Begin deur met egalige hale ’n ligte laag oor die hele kabinet te spuit. Maak seker dat jy al die hoeke en rande behoorlik met die verf bedek, so ook enige dele wat meer gebruik gaan verduur.
7 Laat die eerste laag vir een uur droog word voor jy ’n tweede ligte laag spuitverf daaroor spuit. Hierdie laag sal binne 48 uur droog word.
8 Wanneer dit heeltemal droog is, kan jy weer die handvatsels en die derglike vassit.
Spuitverf en Rust-Oleum
Spuitverf is die ideale metode om ’n liasseerkabinet mee te verf. Dit gee ‘n meer egalige eindproduk as wanneer jy dit met ’n verfkwas sou doen. Rust-Oleum is ’n spesiale reeks verf met ’n spesifieke spuitverf wat ideaal is om krapmerke en enige ander foute weg te steek. Dit is ook spesiaal so gemaak dat jy dit oor roes kan verf sonder dat jy ’n onderlaag benodig. Rust-Oleum Hammered is beskikbaar in 12 kleure, insluitend die helderrooi wat hier gebruik is.
SOURCES
Stapfoto’s WILNA MYBURGH