Met goeie beplanning kan elke stukkie ruimte van ’n klein plek goed benut word.
Maryke Roberts
As jy die spaarkamer in jou huis as kantoor wil inrig, is daar geen reëls wat sê dit moet vervelig en vaal wees en soos ’n kantoor lyk nie. Anne-Marie Marais van Somerset-Wes het haar spaarkamer as werksplek én luukse klein wegbreek vir haar gaste ingerig deur die mure ’n olyfgroen te verf en toe met draadrakkies en ’n versameling van haar hartsgoed opgetower.
Vyf wenke vir ’n veeldoelige tuiskantoor
1 Kies ’n gemaklike stoel waarop jy kan sit om te werk, maar wat ook deur jou gaste gebruik kan word as hulle poskaarte wil skryf of met ’n boek wil ontspan.
2 Sorg dat die tafel voor die venster is en daar iewers ’n los spieël is, vir genoegsame lig as jy wil werk, maar ook sodat gaste ‘n boek kan lees of grimering kan aansit.
3 Versteek rekenaars, drukkers en ander bonkige kantoorbenodigdhede in ’n kas, wat die kamer netjies hou.
4 Gebruik oulike kennisgewingborde vir jou afsprake en kontaknommers, en vrolik dit op met foto’s, poskaarte, linte en kristalle sodat gaste nie voel hulle slaap in die “kantoor” nie.
5 Hang ’n muskietnet en sit mooi strooikussings op die bed met hul rugkante teen die dwarsmuur, sodat die spaarkamerbed bedags soos ’n dagbed lyk, sou iemand in jou kantoor kom inloer. Wanneer jou gaste kom, skuif jy net die kussings en die bed is verwelkomend en dis weer behoorlik spaarkamer.
SOURCES
Jac Kritzinger