Werner Stolze is die vierde geslag van die Stolzes wat klaviere bou. Hy gee raad aan voornemende klavierkopers:
- Kyk of daar ‘n bars in die klankbord aan die agterkant van die klavier is. Die bord dien as klankversterker. Dit is in ‘n effense boogvorm. Die hoë spanning waaronder die snare verkeer, trek die klankbord reguit. As daar ‘n bars in die klankbord is, sal die houtbrug wat die vibrasies na die bord oordra, net die deel van die klankbord tot by die bars laat vibreer. Die toon van die klavier word sò benadeel.
- Die hamers moet deeglik ondersoek word. ‘n Hamer bestaan uit ‘n houtvorm wat met tweestroke vilt bedek is. Die boonste laag moenie hard, ingeduik, gesny of stukkend wees op die punt waar dit kontak maak met die snaar nie.
- Luister eers na die klank. Iets wat ratel of rammel kan dalk ‘n los bedekkingsdraad om die snare wees.
- Speel die klavier. As jy hard speel moet dit hard klink en a jy sag speel moet dit sag klink. As die klavier glad speel sal die hamer dadelik terugval as dit die snaar geraak het. Die dempers sal ook dadelik terugval as die klawer gelos word.
- Ondersoek die snare en die stempenne. Vermy ‘n klavier as jy vermoed dat daar met sy stempenne gepeuter is. Ou klaviere roes soms om die snare wat om die stempenne gedraai is. As ‘n stemmer die snare stywer span, kan die snare breek omdat die roes die draad aan die pennetjies “vaslym”.
Kyk ook dat die potyster-raamwerk nêrens gekraak of gebreek is nie. Die klankbord se hout moet nie ‘n bars in hê nie. Die filt onder die klawers moenie met ‘n ander materiaal vervang wees nie. Kyk dat die snare nie verroes is nie en die hamers nie afgeslyt is nie.