Maak dié lente jou tuin jou apteek en plant ’n klomp van jou gunstelinggroente
Connall Oosterbroek
Om jou eie groente te kweek, is deesdae baie gewild. En wat is nou lekkerder as vars, tuisgekweekte groente uit jou eie agterplaas? Ons wenresep maak dit so maklik.
Dis nommerpas vir dié van ons wat ’n paar kilo’s wil afskud aangesien dit 200 tot 360 kalorieë verbrand deur net elke dag 30 minute in die tuin te werskaf. Maar dis danksy beter groente en die geld wat jy aan voorrade spaar dat so baie mense op die “plant jou eie groente”-wa spring. En makliker kan dit nie wees nie: Volg ons gids en sodra hulle in die grond is, hoef jy net water te gee en jou plante te voed.
Daar is ook kleurryke blomme soos gesiggies en viooltjies wat eetbaar is en jou lenteslaaie woema sal gee. Groentetuine moet heeldag son kry vir optimale groei. As ruimte ’n kwessie is, kan jy jou gunstelinggroentes in ’n vensterboks plant wat goed dreineer of sommer in ‘n pot op die stoep. ’n Paar laaie ontwerperslaaie, eksotiese Oosterse groente of gesonde spinasie en jy kan jou gesin vinnig voed en boonop jou tuin interessanter laat lyk.
BEGIN SO
Hoewel groente van saad gekweek kan word, sal jy by jou plaaslike tuinsentrum ’n klomp saailinge vind wat sommer een-twee-drie geplant kan word. Saailinge het die voordeel dat hulle vinniger geplant kan word en dis ook baie minder moeite vir die onervare tuinier. Daar is uitsonderings soos ‘n paar soorte wortelplante, byvoorbeeld geelwortels en peulgroente wat van saad in beddings gekweek moet word.
Goeie grondvoorbereiding sal gesonde, sterk plante verseker. Begin deur die grond goed om te spit tot ’n diepte van 25 cm. Dis omtrent die lengte van ’n tuinvurk. Breek dan enige harde kluite stukkend en verwyder klippe. As jy in ’n meenthuis woon, moet jy ook op die uitkyk wees na ou bourommel en stukkies sement wat die groei van jou plante kan belemmer. Voeg nou ’n ruim hoeveelheid kompos by en ’n hand vol messtof vir ekstra oemf. ’n Goeie soort is 2:3:2 wat by elke vierkante meter bygewerk kan word. Meng dit alles goed saam en hark oor die oppervlak. Nou is jou bedding reg vir die plante.
SO SORG JY VIR JOU OES
Sodra die groente geplant is, moet jy die grond konstant klam hou totdat hulle gevestig is. Dit beteken jy moet elke dag met ’n spreier water gee. In warm weer sal dit dalk nodig wees om twee keer per dag water te gee. Sodra die saailinge ’n paar sentimeter hoog is, kan jy hulle minder gereeld, maar langer op ’n slag natlei. Wanneer hulle goed groei, moet jy hulle elke vierde en vyfde dag vir so 40 minute water gee. As jy groente of jaarlinge in potte geplant het, moet hulle al om die ander dag nat gemaak word, maar as die weer besonder warm of droog is, moet jy elke dag natlei.
Trek enige onkruid uit, want hulle neem die voedingstowwe uit die grond op wat jou groente nodig het. ’n Skoon, netjiese bedding wat onkruidvry is, sal ook help om die peste weg te hou. Slakke is die vyand! Jy kan gruis oor die grond gooi, want die gediertetjies haat growwe oppervlakke. Of plaas ’n paar slakkroeë (vlak bakkies met bier of sap wat afgegaan het) hier en daarna naby die plante omdat slakke veel eerder dié lekkernye sal kies as jou plante. Gousblomme wat tussen die groente geplant word, lyk nie net mooi nie, dit help ook om peste af te weer en lok voordelige insekte.
Blaarslaai
PLANT Gebruik saailinge. Hulle is mal oor koel toestande in die lente. Wees op die uitkyk vir gemengde plantlaaie. Hulle is baie ornamenteel, kan enige plek in die tuin soos houers of verhewe beddings geplant word.
SPESIALE SORG Pas op vir slakke, want dié peste is mal oor blaarslaai se sagte blare.
OES Elf weke nadat dit geplant is, hoewel individuele jong blaartjies al ná 30 dae gepluk kan word.
KOMBUISWENK Ideaal as die basis van slaaie.
Rissies
PLANT Gebruik saailinge. Ses tot agt soetrissieplante en twee warm rissies behoort genoeg te wees vir ’n gemiddelde gesin se kulinêre behoeftes.
SPESIALE SORG Maklik om te kweek, hulle is nie vol fiemies oor die grond waarin hulle staan nie en pas goed aan in die meeste tuine. Gee die vruggies ’n hupstoot met ’n plantvoeding wat baie potas bevat.
OES Nege tot twaalf weke. Vir ’n lang oestydperk, pluk die vrugte sodra hulle begin kleur kry.
KOMBUISWENK Soetrissies is heerlik in slaaie, as vulsels en om te braai. Gebruik rissies vir geur en skop in enige gereg.
Blaarbeet
PLANT Is ’n goeie alternatief vir spinasie, wat nogal sensitief is vir uitermatige hitte. Gebruik saailinge.
SPESIALE SORG Het ’n bietjie ekstra sorg nodig en wees op die uitkyk na wurms.
OES Pluk individuele blare van aparte plant om ‘n lang oestyd te verseker. Oes dit deur te trek en om te draai.
KOMBUISWENK Blaarbeet is ’n uitstekende bron van minerale en vitamiene.
BONUS Blaarbeet het enorme waarde as ’n ornamentele plant, met party soorte wat pragtige rooi en geel blare en stingels het en dus goed sal pas in ’n gemengde blombedding of selfs in ‘n pot op die patio.
Tamaties
PLANT Plant van saailinge sodra die gevaar vir ryp verby is. Verryk grond met baie kompos.
SPESIALE SORG Ondersteun die plante met stutte sodra die vrugte nie op die grond lê nie. Sny of knip die buitenste takke en stingels af sodat die plant net een hoofstingel het. Gebruik ’n plantvoeding wat baie potas bevat. Skud die blomme liggies om bevrugting aan te help.
OES Agt tot tien weke. Die geur en voedsaamheid van die vrugte is op sy beste as jy hulle aan die plant laat ryp word.
KOMUISWENK Heerlik in slaaie of as ‘n gesonde, soet versnapering. Of maak ’n salsadoopsous met jou sappige sonryptamaties, soet rissies, sprietuie en sout en peper na smaak.
Meer inligting
Inligting verskaf deur die vereniging vir beddingplantkwekers. Vir meer inligting besoek www.lifeisagarden.co.za
SOURCES
CONNALL OOSTERBROEK Vertaling BEATRI KOTZÉ