Gedurende die koeler maande van die jaar kan jy steeds genot uit jou tuin put, veral met groente en kruie.
Gedurende die koeler maande van die jaar kan jy steeds genot uit jou tuin put, veral met groente en kruie. Jy het nie ‘n groot spasie nodig of ‘n spesifieke afgebakende area nie. Wat wel belangrik is, is goeie, ryk grond en baie sonlig.
Roosmaryn, tiemie, meerjarige basiliekruid en laventel is ‘n paar voorbeelde van kruie wat net voor die winter geplant kan word en dwarsdeur die seisoen sal floreer.
Wintergroentevariëteite sluit in wortels, radyse, ertjies, spinasie, beet, winterkool (broccoli), gewone kopkool, boerboontjies, Brusselspruite, seldery en uie. Dink aan wat jy graag in die kombuis gebruik en plant daarvolgens aan.
Sommige tuiniers hou daarvan om hulle eie groente van saad te kweek terwyl ander eerder saailinge plant. Onthou net dat saailinge ten minste ses weke oud is, so jy het ‘n groot voorsprong daarmee.
Nie alle groente kan in saailingvorm aangeplant word nie, soos wortels. As jy saad plant moet jou saadbeddings diep losgemaak word en die grond moet lekker los en fyn wees.
Wees versigtig om nie te veel saad van een variëteit op ‘n slag te saai nie. Sodoende kan jy verhoed dat jy nie te veel van een groentesoort op‘n slag het om te gebruik nie. Moet ook nie die saad te dig op mekaar saai nie. Saai ongeveer drie weke uitmekaar, sodat jy jou oes oor ‘n langer periode kan benut.
Groente floreer as jy wisselbou toepas. Dit is ‘n tegniek wat alombekend is onder groenteboere, maar is net so belangrik vir ons op ‘n baie klein skaal. Met ander woorde – moenie dieselfde groentesoorte elke jaar in dieselfde grond plant nie.
Wissel ook jou groenteaanplantings met peulgewasse soos ertjies of boontjies af, want hierdie plante plaas stikstof terug in die grond.
Tuingroete,
JJ van Rensburg
Tuinboukundige
Garden World