Plakpapier is in al sy glorie terug
As jy te bang is om dit self te probeer, kan meeste verskaffers goeie installeerders aanraai. As jy skrikkerig is vir die eindresultaat, kies een fokusmuur in jou vertrek en begin daar.
Gaan na verskaffers en vra om van hul plakpapierboeke deur te blaai om ’n idee te kry waarvan jy hou. Vra raad oor goedkoper opsies by ander vervaardigers, want soms is daar soortgelyke ontwerpe vir die helfte van die prys elders beskikbaar.
As jy plakpapier in die badkamer, kombuis of selfs kinderkamer wil gebruik, kies een wat spesiaal gemaak is dat jy dit kan was of ten minste met ’n seeplap kan afvee.
Daar is ’n groot verskeidenheid plakpapier met tekstuur wat ’n gevoel van aardsheid en warmte gee. Kyk na grofgedrukte papier gemaak van hemp of graspapier, wat soos geweefde patrone uitstaan en perfek is vir daardie muur wat effe rof afgewerk is.
Maak seker dat die ontwerp op duursame, goeie kwaliteit papier gedruk is. Dit skep ’n baie meer gesofistikeerde voorkoms as blink, gladde papier, wat lyk asof jy geskenkpapier teen jou muur geplak het. Jou treffende fokusmuur kan dan maklik soos ’n seer vinger uitstaan.
Hou altyd die ruimte waarin die papier gebruik gaan word, in gedagte. Lig is ’n groot faktor om mee rekening te hou. As dit donker in die vertrek is, gaan bont en donker plakpapier dalk nie tot sy reg kom nie, tensy jy ’n knus, dramatiese vertrek wil skep. Vra jou verskaffer vir ’n paar voorbeeldstukke en plak dit op verskillende plekke teen die muur, om die effek van die lig daarop te sien.