Maak ‘n metaalnotabord met ‘n mooi raam wat sommer ook as ‘n ekstra aansteekbord kan dien. Dis ideaal vir die kombuis of gang waar almal in die gesin se kunswerke en besige skedules opgeplak kan word
Marlo Kitshoff-Carstens
Metaalnotabord
BENODIGDHEDE VIR NOTABORD
hardebord
metaalplaat (galvanised iron)
breë houtlyste (skirting)
saag met lang lem
45° saagboks
houtgom
donkerbruin houtbeits (stain)
wit kers
wasbare verf van jou keuse
kwas
growwe skuurpapier
maatband
silikon
BENODIGDHEDE VIR VERSIERINGS
verskillende oorskietplakboekpapier
gom, bv Pritt
2 klein ogie-indraaihakies
1,5 m dun tou/lint
metaalvoëltjies of -versierings
klein magnete
sterk gom, bv Superglue
klompie klein indraaihakies
plastiek-aanplaksirkeltjie
30 cm buigbare draad
kasregisterrolletjiepapier
Mates vir die sny van notabord
1 Laat sny hardebord 150 cm x 88 cm groot by winkel waar jy dit koop.
2 Laat sny metaalplaat 132 cm x 70 cm groot, ook by die winkel waar jy dit koop.
3 Koop houtlyste (vloerlyste) met platterige oppervlak wat nie te veel groefies het nie. Dit moet 13 cm breed wees.
4 Sny houtlyste 150 cm x 88 cm lank met 45°-hoek.
5 Jy benodig 2 stukke van 150 cm elk (lengte) en 2 stukke van 88 cm elk (lengte) vir raam.
Hoe om die raam af te werk
1 Verf eers houtlyste met laag donker houtbeits en laat goed droog word.
2 Vryf wit kers op hoeke en op groefies van houtlyste waar jy wil hê die donker kleur moet effens deurskyn.
3 Verf rame met kleur wat jy gekies het. Twee lae werk goed. Laat goed droog word.
4 Gebruik skuurpapier en skuur al op kante en groefies waar kerswas gevryf is totdat jy tevrede is met hoeveelheid kleur wat van onder af sigbaar is.
5 Laat alles goed droog word.
Hoe om die notabord aanmekaar te sit
1 Plaas hardebord op vloer neer.
2 Meet sodat metaalplaat presies ewe ver van al die kante af lê. Merk presiese posisie met potlood.
3 Haal metaalplaat af. Smeer genoeg silikon op houtbord en plaas metaalplaat weer bo-op. Plaas swaar goed bo-op sodat dit netjies kan vasplak en laat oornag so staan.
4 Plaas klaar houtlyste op kante van hardebord sodat dit netjies pas.
5 Smeer genoeg houtgom tussen houtlyste en hardebord en ook op hoeke. Plaas bo-op hardebord en pas hoeke sodat dit netjies lyk.
6 Plaas swaar goed bo-op en laat oornag staan om goed droog te word.
Jy kan ook spieëlhakies aan agterkant van notabord aanbring as jy dit wil ophang.
Hoe om die vlaggies te maak
1 Trek op skoon wit A4-papier groot hoofletter “T” met potlood. Trek boonste lyn 12 cm breed. Trek lyn wat afwaarts wys 15 cm lank. Verbind nou punte sodat dit driehoek vorm.
2 Knip uit. Vou boonste gedeelte 1,5 cm om sodat dit randjie kan vorm waarin toutjie/lint moet deurskuif. Gebruik hierdie as sjabloon om ook nader vlaggies uit plakboekpapier te sny.
3 Vou vlaggies op voulyn om en plak randjie met gom vas.
4 Ryg toutjie/lint deur slootjie wat aan bokant van vlaggie gevorm het.
5 Draai klein ogiehakies in houtrand in en knoop toutjie/lint daaraan vas.
Om die papierrolletjie te maak
1 Steek draad deur kasregisterrolletjiepapier en steek deur plastiekplaksirkeltjie.
2 Kyk hoe lank jy draad wil hê en knip enige oortollige draad af.
Ander versierings
1 Plak magneet met sterk gom op klein metaalvoorwerp vas. Laat droog word. Gebruik as voorwerp om enige papiere mee vas te hou.
2 Draai genoeg klein hakies in houtrand waaraan ekstra items opgehang kan word, van motorsleutels tot laboratoriumbuisies waarin vars blomme geplaas kan word, en enige mooi versierings, bv hartjies.
Versierings te kry by groot kunswinkels of Her-Annies 012 664 3553
SOURCES
Elmarie Knapton