Maryke Roberts
Carolyn Hutton se huis in Gordonsbaai het ’n pragtige uitstalling koekrollers. Die muur waarteen dit hang, kry nie baie lig nie, so ’n prent sou nie tot sy reg kom nie en sy wou ook nie hê kunswerke moet deur stoom beskadig word nie, daarom was die koekrollers die ideale ding om te hang. Die rollers het aan haar ouma behoort en Carolyn se ouers het dit oor die jare vir haar as geskenk gegee en een van hulle het haar pa vir haar gemaak met haar dogter, Hannah, se geboorte.
Ander goed wat jy teen jou kombuismuur kan uitstal:
- Grawe in jou ouma se laaie of bokse in die motorhuis en kyk of jy ’n verskeidenheid items soos ou spanspeklepeltjies, koekiedrukkers of spane kry. In die vyftigerjare het al hierdie implemente houthandvastels wat in die oulikste pastelkleure geverf is, gehad. Hang dit in rye of patrone aan klein hakies wat dieselfde kleur as jou muur is.
- Houtlepels in verskillende groottes en vorms is ook ’n oulike idee en bind jou nie met ’n kleurskema nie. By die natuurlike hout kan jy enigiets anders meng en pas vir kleur.
- As jou muur breër, maar vlakker is as die een op die foto, oorweeg dan ’n vlekvryestaal reling en hang outydse soplepels uit metaal, enamel of hout, met veelkleurige lint daaraan. Maak die linte verskillende lengtes, vir interessante patrone. Vir ’n meer outentieke voorkoms, soek ’n stukkie dryfhout op die strand en maak jou reling daarvan.
- Te jammer om jou ouma se gekraakte teekoppie weg te gooi? Gebruik hakies in dieselfde kleur as jou muur en hang ’n verskeidenheid antieke teekoppies aan linte deur hul ore, teen die muur. Vra vriendinne vir hul sentimentele koppies en omring jouself met hul nostalgiese herinneringe aan vervloë dae.
Staan ‘n kans om 1 van 15 dubbelkaartjies na die Homemakers Expo 25 – 28 Februarie 2016 te wen. Klik hier om in te skryf
SOURCES
JAC KRITZINGER