Maak ’n besonderse kolwyntjie-messegoedhouer
wat die aandag sal trek.
Marlo Kitshoff-Carstens
Messegoedhouer
BENODIGDHEDE
1 gekoopte houtmessegoedhouer
donkerbruin houtbeits
fyn skuurpapier
sponskwassies
grys handwerkverf
wit kers
kleurlose spuitvernis
Piouterkolwyntjies
BENODIGDHEDE
natrekpapier
potlood
piouter van ongeveer 30 cm x 40 cm
groot stuk vilt om op te werk
groot stuk glas om op te werk
stukkie Prestik
maskeerband
klein, middelslag- en groot natrekinstrument
papierpotlood van klein tot baie groot
Teflonpuntpen
snypuntinstrument
sintetiese was of byewas
glasdrupper of -spuiter
1 paar plastiekhandskoene
spiritus
watte
patina (vir veroudering van piouter)
sneesdoekies
Brasso
klein stukkie watteersel (batting) vir patina
pioutergom
klein kwassie (vir pioutergom)
donkerbruin skinkbord van 30 cm x 22 cm
Messegoedhouer
1 Skuur messegoedhouer liggies met skuurpapier.
2 Wend houtbeits met sponskwassie aan. Verf ongeveer 2 lae. Laat droog word tussen lae.
3 Trek kers oor kante van messegoedhouer waar jy verouderde effek wil kry.
4 Verf met grys handwerkverf om messegoedhouer te bedek.
5 Gebruik fyn skuurpapier en verwyder grys handwerkverf op dele waar kerswas is.
6 Vee messegoedhouertjie skoon en spuit laag kleurlose spuitvernis aan binne- en buitekant.
7 Laat messegoedhouer goed droog word.
Natrek van patroon op piouter
1 Trek kolwyntjiediagram op natrekpapier met potlood na.
2 Plaas piouter op glasoppervlak en plak hoeke met maskeerband op glasblad vas.
3 Plak natrekpapier met Prestik in elke hoek op piouter vas. Dit keer dat natrekpapier skuif terwyl jy werk.
4 Trek diagram op voorkant van piouter af met natrekinstrument.
Embosseerproses
1 Verwyder natrekpapier wanneer kolwyntjies op piouter nagetrek is.
2 Plaas piouter op vilt. Gebruik papierpotlood in sagte sirkelbewegings om ontwerp te laat uitstaan. Die vilt help om die piouter te embosseer.
3 Draai piouter om na voorkant, verwyder vilt sodat jy op glasoppervlak werk.
4 Gebruik medium grootte papierpotlood en vryf al om randjies om ontwerp te laat uitstaan. Bly op buitelyn.
5 Draai ontwerp weer om na agterkant, met dubbellaagvilt aan onderkant, omdat kolwyntjies dieper oppervlak het om te embosseer.
6 Vryf met groot papierpen in sagte, ronde platterige sirkelbewegings die groter oppervlaktes weer mooi uit.
7 Herhaal stap 2 tot 4 nog twee keer. Onthou dubbellaagvilt vir kolwyntjie-ontwerp. Jy sal sien dat hierdie stappe kolwyntjie “dieper” maak.
8 Draai ontwerp na voorkant om en verwyder vilt.
9 Werk op glasoppervlak en gebruik teflonpuntpen om laaste buitelyne van kolwyntjie na te gaan sodat dit mooi kan uitstaan.
Hoe om met sintetiese was of byewas te vul
1 Smelt was oor lae hitte tot heeltemal gesmelt.
2 Plaas voorkant van piouterwerk na onder sodat holtes na bo wys.
3 Trek gesmelte was in glasdrupper of spuiter en spuit holtes versigtig daarmee vol sodat dit nie oor kante kom nie.
4 Laat was tot heeltemal koud en gestol.
5 Draai kolwyntjie om en gebruik weer jou teflonpuntpen en druk fyner patroontjies op regterkant van wasgevulde motiewe baie liggies terug.
6 Met hierdie stap kan jy fyner werk wat verlore gegaan het, weer terugsit. Onthou net hierdie stap kan nie gekorrigeer word as jy iets hier verkeerd doen nie!
Wend patina só aan
1 Plaas voltooide piouter met voorkant na bo op harde werkoppervlak en plaas koerante daaronder.
2 Trek handskoene aan wanneer patina aangewend word. Patina is giftig.
3 Maak die voorkant met watte en spiritus skoon om dit te ontvet.
4 As daar enige vetkolle op piouter is, sal patina nie daarop vat nie.
5 Gebruik stukkie stoffeersel om genoeg patina so egalig moontlik mee aan te wend.
6 Wend in sirkelbewegings aan. Moenie te veel vryf nie, dit sal piouter brand.
7 Die patina sal piouter heeltemal verdonker.
8 Laat patina droog word (ongeveer 2 minute ). Klad met sneesdoekie.
9 Wend Brasso op watte aan, vryf in sagte sirkelbewegings oor piouter, en vryf dan blink met skoon stukkie watte.
10 Wanneer watte swart word, kan jy weer nuwe stukkie vir beste resultate gebruik.
Uitsny van piouter
1 Plaas voltooide piouterwerk op glasoppervlak en sny met sny-instrument om die kante van kolwyntjies. Werk baie presies.
2 Gebruik pioutergom en smeer dit met kwas op agterkant van uitgesnyde kolwyntjies.
3 Plak eers op een sy van messegoedhouer en laat droog word en doen dan volgende sy.
Ontwerp deur Elna Kleinhans. Besoek www.withpewter.co.za vir voorbeelde van klasse wat elke maand aangebied word of stuur enige navrae aan [email protected]
SOURCES
Elmarie Knapton