Om viltkrale te maak, is ‘n heerlike stokperdjie wat ontspannend en terapeuties is. Dit lyk boonop pragtig en kleurryk wanneer dit gedra word.
Marlo Kitshoff-Carstens
Noudat handgemaakte artikels en ou handwerkstyle weer in die kollig is, is viltwerk baie gewild. Die gekamde en gekleurde rou wol wat gebruik word, is die wol wat baie jare terug gebruik is om mee te spin en te weef.
Vir die verviltingstegniek word gekamde en gekleurde wol gebruik wat in die winkels as “wool rowing/dyed” verkoop word. Jy kry merinowol (van Suid-Afrika) of corriedalewol (van Nieu-Seeland) by verskillende verskaffers. Die “wool rowing” is afvalstukkies wat nie verder verwerk is nie. Die gekamde en gekleurde rou wol word per gram verkoop sodat jy verskillende kleure in klein hoeveelhede kan koop.
Jy kry twee soorte verviltingstegnieke – die nat en die droë metode. In hierdie artikel word die nat metode stapsgewys verduidelik. Die nat metode is so maklik dat selfs kinders dit kan toepas.
Maak viltkrale
BENODIGDHEDE
gekleurde en gekamde rouwol
skottelgoedseep
klein glasbakkie vir warm water
klein handdoek
BENODIGDHEDE VIR RYG VAN VILTKRALE
tapisserienaald
ongeveer 2 m gekleurde waskoord (wax cord) van jou keuse
Kry die wol reg
1 Trek stukkie wol van ongeveer 13 cm x 3 cm uit gekoopte bol.
2 Pluis stukkie wol sodat dit lekker donserig is.
3 Die donserige wol bring mee dat dit ‘n mooi bolletjie vorm. Moenie dié stap uitlaat nie.
WENK Onthou, jy kan kleiner stukkies wol gebruik as jy kleiner krale verkies
Maak so
1 Die wol is genoeg om in die palm van jou hand te pas.
2 Wanneer hierdie wol platgedruk word, sal dit so groot soos ‘n albaster wees.
Water word gebruik
1 Sprei ‘n handdoek op die tafel uit sodat jou werksoppervlak beskerm en ekstra water geabsorbeer kan word.
2 Gebruik baie warm water in ‘n klein glasbakkie.
3 Gooi een tot twee druppels goedkoop skottelgoedseep (wat nie gegeur is nie) in die bakkie en roer tot gemeng.
WENK ‘n Glasbakkie werk goed, want jy kan die water sommer in die mikrogolf verhit wanneer dit begin koud word en dan weer gebruik
Doop in water
1 Doop bolletjie gepluisde wol in warm water en druk oortollige water uit.
Hou aan rol
1 Hou hande bak en rol die wol soos balletjie. Dis ‘n harde bo-arm-beweging. Rol dit oor en oor.
2 Namate die bolletjie droog word, kan dit weer in warm water gedoop word. Druk oortollige water uit. Rol weer totdat mooi ronde bolletjie vorm.
3 So viltbolletjie kan 5 tot 8 minute neem om te vorm. Doop in warm water soos wat nodig is.
4 Dis ‘n wrywingsproses wat meebring dat wolvesels aanmekaar koek om ronde bolletjie te vorm.
Nog ‘n opsie
As die bolletjie nie mooi wil vorm nie, is daar ‘n plan B.
1 Gebruik net baie klein stukkie gepluisde wol en plaas dit soos ‘n jassie oor die reeds gevormde bolletjie.
2 Doop bolletjie weer in water, druk oortollige water uit en hou aan rol sodat netjiese bolletjie vorm.
3 Klaar viltbolletjies kan in skoon warm water uitgespoel word om van oortollige seep ontslae te raak.
Laaste stap
1 Los klaar bolletjies in die son tot goed droog, ongeveer twee dae. Dit moet regdeur droog wees, anders kan dit muf.
2 Ryg ‘n halssnoer en was klaar gerygde halssnoer met wolseep soos Woolite omdat dit ‘n wolproduk is wat ook só behandel moet word sodat viltbolletjies lank mooi kan bly.
Om viltkrale te ryg
1 Koop waskoord (wax cord) in kleur wat by jou klaar viltkrale pas.
2 Meet hoe lank jy die halssnoer wil hê.
3 Gebruik tapisserienaald en ryg waskoord deur naald se oog en dan deur middel van droë viltkrale.
4 Onthou om knoop in waskoord te maak aan begin en einde van elke viltkraal.
DALK IN ‘N KASSIE SAAM MET ‘N FOTO. Dis vir dié wat iets ekstra wil doen.
Nog ‘n opsie: Om detail aan te bring
1 ‘n Verviltingsnaald (filting needle) kan ook gebruik word as jy ekstra detail om viltkrale wil aanbring.
2 Gebruik enkelverviltingsnaald of dubbel- (multiple) naald. Die enkelverviltingsnaald is makliker bekombaar en goedkoper.
3 Strepe kan op klaar viltbolletjie aangebring word deur lang slangetjie vilt om viltbolletjie te draai en dit dan met ‘n vinnige prik-aksie met die naald in klaar viltbolletjie vas te vang. Hierdie aksie word ‘n paar keer herhaal sodat dit nie loskom nie.
4 Kolletjies kan ook op viltbolletjie aangebring word deur ‘n baie klein bolletjie kontrasterende wolkleur op klaar viltbolletjie te plaas en met verviltingsnaald te prik. Maak soveel kolletjies soos jy wil op klaar viltbolletjies.
WENK Jy kan met hierdie manier klaar viltkrale met klein detail versier
Benodigdhede is beskikbaar by Bead Some More in Pretoria, 012 998 8577 of 083 979 6668 of besoek www.beadsomemore.co.za/ [email protected] vir kursusse
SOURCES
Andrea Caldwell