Jy het honderde ornamente, mooi kerse en oulike houertjies om jou huis te laat lekker ruik, maar dit lyk altyd onnet. Ohna Mouton Marais van Somerset-Wes het op Pinterest en in tydskrifte gaan rondsnuffel en gesien dis meer effektief as jy dinge groepeer.
Maryke Roberts
• Kies vyf, sewe of nege klein skilderytjies met dieselfde tema, maar verskillende rame en groepeer dit teen ’n muur. Hang hulle naby mekaar en sorg dat dit ’n eenheid vorm, sonder om simmetries te wees.
• Jy kan ’n koffietafel met ’n tema doen. Sit byvoorbeeld vyf of sewe ornamente van jou oorsese reise bymekaar in ’n hoek van jou tafel. Aan die ander kant kan jy ’n stapeltjie interessante koffietafelboeke opmekaar sit en in die middel ’n potplant of vars blomme.
• In die gang kan ’n outydse wastafeltjie of linnekis van ouma baie treffend wees as jy byvoorbeeld jou versameling harte, ou handskoene of ou tiklint-blikkies saam groepeer. As dit klein genoeg is, koop drie of vier glaskoepels en groepeer verskillende groottes saam.
• In ’n gastebadkamer kan jy ’n ou skinkbord van pewter of glas gebruik om oulike sepies, kerse en lyfroom te groepeer. Bind ’n Franse lint om die skinkbord se kante of deur die handvatsels en plak ’n spieël op die bodem wat al die botteltjies en kerse sal reflekteer.
• Gebruik een hoër rak in jou boekrak om oulike ornamente soos antieke vliegtuigies, ou motortjies, klein teddiebere of ou poppies te groepeer. Dit skep interessante hoekies en lyk nie of jy te veel goed het waarmee jy geen heenkome het nie.
SOURCES
Jac Kritzinger