Verwelkom jou gaste met ‘n pragtige kamer
MARYKE ROBERTS
As jou kamers groot genoeg is, probeer om ’n stoel en klein tafeltjie daar in te skuif. Nessa Temlett van Somerset-Wes se hoofslaapkamer het twee stoele, ’n tafeltjie en voetrus vir ekstra gemak. Dis die ideale plek om soggens voor die gejaagdheid gou ‘n offie te sit en drink.
- Vir die spaarkamer is ’n stoel ook belangrik, want nie alleen is dit ’n plek vir jou gaste se jas of handsak nie, dit gee hulle ook ’n rustige plekkie om vroegoggend te sit en lees as die res van die huis nog slaap.
- Maak seker daar is ’n kussing vir die lae rug, ’n leeslampie indien daar ’n kragprop naby is en sit ’n paar tydskrifte of boeke op die tafeltjie vir gaste.
- Plaas die stoele voor die venster vir natuurlike lig sou iemand dalk in die middag wou sit en lees óf dalk ’n uiltjie in die sonnetjie wil knip! In die winter kan jy ook ’n klein kniekombersie oor die leuning hang.
- Om die dekor goed te laat vloei, herhaal die materiaal van die stoele of die strooikussings met die kussings op die bed, of haal elemente van die gordyne uit en herhaal dit in die voetstoeltjie.
SOURCES
JAC KRITZINGER