Jy hoef nie ’n vrugteboer te wees om ’n kraakvars appel, ryprooi kersie of sappige piesang uit jou eie tuin te pluk nie. Dit is makliker as wat jy dink!
Elna Rossouw
Uit jou eie tuin
Perskes (Prunus persica) groei aan ’n kleinerige boom met blinkgroen, langwerpige blare. Die donkerpienk bloeisels sal in die lente jou tuin verfraai. Daar is heelwat kultivars beskikbaar.
Kersies (Prunus avium) groei aan ’n regop, sierlike boom wat tot 18 m hoog word. Bloeityd is die boom met klossies spierwit blomme oortrek. Die suurkersie (Prunus cerasus) is kleiner en het ’n spreidende vorm, maar die bloeisels en vruggies lyk soos hul soeter sussies.
Pynappels (Ananas comosus) word tot 1 m hoog en het sterk, amper leeragtige blare. Die plant is teen droogte bestand, maar gevoelig vir ryp. Hulle groei op hul beste in laagliggende dele, veral naby die see.
Papajas (Carica papaya) groei maklik in tropiese en subtropies streke. Onthou dat een manlike boom vir elke 20 vroulike bome geplant moet word.
Piesangs (Musa acuminata) is ’n robuuste plant wat goed in tropiese tuine aard. Piesangs is in groot dele van Afrika en Asië die stapelvoedsel.
Moerbeie (Morus alba, die wit soort en Morus nigra, die swart soort) lok nie net voëls nie, dit is ook ’n moet as jou kind met sywurms wil boer! Moerbeibome hou van ’n matige klimaat.
Appels (Malus domestica) groei aan ’n kleinerige, bladwisselende boompie met wit bloeisels. Appels kom oorspronklik uit Klein-Asië. Daar is letterlik honderde variëteite.
Pruime (Prunus domestica) is ook bladwisselend en dra wit bloeisels. Die vrugte kan groen, geel, rooipers of swart wees.
Kiwivrugte (Actinidia deliciosa) is ’n rankplant en kom oorspronklik uit China. Dié vrug is deesdae baie gesog.
Propvol heilsaamheid
Ben-Erik van Wyk se boek Foodplants of the World is ’n nuttige naslaangids met kort, interessante beskrywings van die wêreld se kosmandjie en waar die plante vandaan kom. Nog ’n lekker ekstra, veral vir die gesondheidsbewustes onder ons, is die opsomming van die voedingswaarde van die groente en vrugte. Hier is ’n paar van die heilsame feite.
- Papaja is ryk aan kalsium, vitamiene A en C. Dit help met spysvertering en wakker eetlus aan.
- Perskes bevat relatief min kalorieë, maar is vol kalsium, yster en vitamiene A, B1, B2 en C. Die voedingswaarde van piesangs is uitsonderlik. Dit bevat ’n wye spektrum minerale en vitamiene.
- Pruime is ’n uitstekende bron van natuurlike suiker en ryk aan kalsium, kalsium en vitamiene.
- Pynappels het ’n lae energiewaarde, maar is ’n goeie bron van vitamiene A, C en E.
- Kiwivrugte is propvol vitamien C. Dié vrugte kan maande lank geberg word en steeds die meeste van hul voedingswaarde behou.
- Soetkersies is ryk aan suiker, minerale en vitamien C. Suurkersies bevat minder suiker, maar meer vitamien A as die soeter soort.
- Swart moerbeie bevat sowat 8% suiker en is ryk aan kalsium en vitamien C.
Perfekte piesangs en papajas
- Plant piesangs so dat dit genoeg son kry. Piesangs groei goed in effens suur leemgrond en die grond moet vogtig bly. Wees ook versigtig om nie die grond om die stam te versteur nie, want piesangs het vlak wortelstelsels.
- Papajas groei maklik van saad wat gewas is en in skadu gedroog is. Saailinge kan in Februarie uitgeplant word. Plant vier tot vyf pitte per gat en bepaal die plant se geslag wanneer hulle blom. Dun dan uit tot een per gat. Hou een manlike plant vir elke 20 of minder vroulike plante.
Snoei só
- ’n Algemene reël is om bladwisselende vrugtebome in die winter te snoei. Tropiese lekkernye soos papajas en mango’s word nie gesnoei nie.
- Vrugtebome word gesnoei om te verseker hulle dra ’n goeie oes en omdat dit peste en plae weghou. Snoei die bome sodat die jong vruggies genoeg son, lig en lug kry.
- Dit is ook beter om vrugontwikkeling te beperk, want dan dra die boom mooier en sappiger vrugte. Dun dus op ’n vroeë stadium nuwe vruggies uit.
- Snoei help ook om ouer bome te verjong en hul vorm te verbeter.
Plant reg
- Vrugteboompies in plastieksakke kan enige tyd van die jaar geplant word. Hou kwekerye dop vir die jongste voorraad wat gewoonlik vroeg lente beskikbaar is.
- Maak ’n gat sowat ’n halfmeter diep en wyd. Hou die bogrond eenkant en spit die grond onderin die gat goed om. Meng die bogrond met 1 kg superfosfaat of beenmeel plus ’n bietjie kompos. Gooi terug in gat.
- Plant die boompie op presies dieselfde hoogte as wat dit in die sakkie gestaan het.
- Vul die gat met vrugbare bogrond uit ’n ander deel van die tuin en trap goed vas. Maak die gat vol water.
SOURCES
Verskaf