Vir kleur is Wessel Vosloo en Ernest Nielsen nie bang nie
MARYKE ROBERTS
Wessel Vosloo en Ernest Nielsen se huis in Melkbosstrand is alles behalwe die norm, maar dis juis hul leuse: speel met jou huis, omring jouself met goed wat vir jou kosbaar is en jou lewe ophelder. Hul stoep is die kuierplek en hier sal jy allerhande oulike houers met lekkergoed kry, waaraan gaste kan peusel as hulle kom kuier.
Ander oulike idees wat jou ruimte meer verwelkomend en uniek sal maak:
Hou jou gunsteling- leë bottels in alle vorms en kleure en maak vars lemonade vir wanneer jou gaste kom kuier. Bedien die lemonade in hierdie versameling bottels met ’n blaartjie of twee ment daarin en veelkleurige strooitjies, of sit vir die pret klein papiersambreeltjies in vir ’n vakansie-gevoel.
Kyk by tweedehandse winkels vir ou koeldrank- of vrugtekratte en spuitverf dit in jou gunstelingkleur. Silwer of goud is lekker feestelik, maar as jy van rooi of swart hou, kan dit ’n treffende agtergrond maak. Gebruik dit as skinkbord, of pak jou glase, kurktrekker en snybordjie met suurlemoen daarop, vir wanneer jou gaste kom kuier.
Ou botteltjies is ’n lekker houer waarin jy blomme, blare en stele uit jou tuin op die tafel kan rangskik. Jy kan linte om die nekke bind, of dit saamgroepeer in jou koeldrankkrat vir ’n lekker geselspunt.
Gebruik ou seep- of lekkergoedblikkies wat goed gewas en in die son drooggebak is en maak hulle vol lekkergoed soos suiglekkers of fudge, pepermente of koekies en sit dit oral in jou kuierplek neer. Dis lekker as jy braai en jou gaste se kake kan beweeg.
SOURCES
JAC KRITZINGER