Klein plekkies kan steeds luuks wees. Kry hier idees
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s JAC KRITZINGER
Zania Grobbelaar van Dear Zania Interiors op Somerset-Wes het met die beplanning van Berdy Bishop se woonstel op hierdie interessante draadligte vir die eetkamer besluit, om die oog toe te laat om die leefvertrek as een te ervaar, sonder dat groot lampskerms die uitsig belemmer. Die elektriese draad wat uit die dak aan die skerms hang, is bloedrooi en verleen daardie titsel drama.
Ander idees om die gevoel van ruimte in klein spasies te gee:
- Gebruik baie weerkaatsende bykomstighede soos glas of spieëls. Die lig wat deur die glasobjekte skyn of op die spieël-oppervlaktes weerkaats, sal die gevoel van lig en ruimte versterk. Jy kan selfs ’n hele muur met spieëls vul – of ’n klomp met mooi rame en in verskillende vorms, of maak ’n reuse ou venster staan en vul die gate met spieëls sodat dit lyk of jy na buite kan kyk.
- Hou by een verfkleur vir die mure en plafon, en as jy kan, vir die vloere ook, sodat dit die illusie skep van soomlose vloei en die vertrekke sodoende groter laat lyk.
- Moenie ’n klomp klein goedjies in ’n klein vertrek indruk nie. Kies een groot meubelstuk en maak dit die fokus van die vertrek. Hou dit in ’n neutrale kleur en helder die vertrek op met strookussings, ’n reuse potplant of ‘n interessante oorgooideken. Maar moenie bonkige meubels kies nie; eerder iets wat op dun pote staan, sodat die lig halfpad onderdeur kan skyn.
- Gebruik monochroom kleure, want dit laat die oog maklik gly oor die vertrek en skep ’n gevoel van rustigheid, wat die illusie van ruimte vergroot. Gebruik verskillende skakerings van daardie kleur om diepte en tekstuur te gee.
- Hang gordyne hoër en wyer as die venster-opening. Dit laat lyk die muur groter en die plafon hoër lyk. As daar twee vensters naby aan mekaar is, gebruik een groot gordyn wat oor albei strek, wat onnodige verdeling van die muur uitskakel.