Suid-Afrika spog met ’n ongelooflike natuurlike flora, maar veral die Wes-Kaap het vir vele treffers in tuine gesorg
Connall Oosterbroek Vertaling: Zerelda Esterhuizen
Ons is gelukkig genoeg om in Suid-Afrika, maar veral die Wes-Kaap, ’n ware tuinbouskatkis te hê.
Dit is veral waar vir ons bollekoninkryk. Ongeveer die helfte van al die bolle wat in tuine regoor die wêreld groei, kan hul wortels na Suid-Afrika herlei. Bolle van die Kaapprovinsie het Engeland teen so vroeg as 1587 bereik. Ten spyte van die rykdom van ons bolflora, is hulle tot ongeveer 1747 nie wyd in Europese tuine gebruik nie.
In daardie tyd het Johan Andreas Auge, ’n Duitse tuinier wat in Nederland studeer het, as assistent-tuinier by die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie in Kaapstad aangestel. Hy het talle reise na die binneland onderneem en sodoende versamelings plante bymekaargemaak om te verkoop. Dit is deur bemanningslede van skepe gekoop. Die skoonheid van die Kaap se flora het sodoende bekender geword en só het dié provinsie ’n gunstelingplek vir botaniste geword.
Hibridisering het groot sukses in die verbetering van blomgrootte en kleurreeks van ons inheemse bolle behaal. Die hibriedvariëteite kan in omgewings buite hul oorspronklike natuurlike habitat groei.
Dit is veral waar vir Ixias, Tritonias, Freesias, Lachenalias en tjienkerientjees.
As hulle gedurende hul groeiseisoen genoeg water kry, sal hulle baie goed in somerreënvalstreke vaar, selfs as hul oorspronklike variëteite in winterreënvalstreke gegroei het.
Hierdie bolle is teen die einde van Februarie tot einde April by kwekerye beskikbaar en moet beplant word wanner die grondtemperature koel is – gewoonlik teen Paastyd.
Ixia
Ixia is ook bekend as die towerstafblom omdat hulle met ’n lieflike 60 cm-blomsteel spog met stervormige blomme. Die kleure is helder, wat wissel van pers, ligpers tot blou, rooi, oranje, pienk, geel, room en wit. Daar is selfs ’n baie ongewone turkoois. Die blomkern het dikwels ’n kontrasterende donker skakering. Hulle blom vir ongeveer ’n maand in die laatwinter tot vroeë lente.
Lachenalia
Hierdie is wonderlike klein plantjies. As hulle eers in die grond is, stoot hulle sommer gou twee breë, donkergroen blare uit wat met maroen kolletjies bespikkel is. In die laatwinter sal die bol stam van 25 cm laat uitskiet waaraan buisvormige blommetjies hang. Die blomme is meestal oranje met kontrasterende bloedrooi basisse en punte. Hulle werk goed in rotstuine en hulle vertoon treffend voor ’n heining.
Tjienkerientjee
Hierdie blomme dra ’n trossie stervormige blommetjies aan die punt van ’n lang 50 cm-blomsteel. Die blomme is oor die algemeen wit en hou lank as snyblomme. Die bol gee ’n roset van vleserige, breë blare. Die blare is gewoonlik teen die grond, maar kan ook effens opstaan. Dis gewoonlik een van die laaste bolle wat blom, gewoonlik so teen Oktober.
Tritonias
Hierdie plante dra kelkvormige blomme, wat op dun, vertakte stamme gedra word, baie soortgelyk aan freesias. Die kleure wissel van helderoranje tot pienk, salmpienk en wit. Hulle blom in die lente ná die meeste ander winter- en vroeë lentebolle geblom het.
Freesias
Hierdie bolle is een van bloemiste se gunstelinge en met rede. Hulle kom in ’n wye verskeidenheid van kleure voor en hul welriekende geur sal enige vertrek opkikker. Hulle groei in spikkel- of halfskadu en sal ‘n heerlike geur aan jou lentetuin verleen, veral as dit in ’n binnehof groei waar hul geur behoue kan bly.
Meer oor inheemse bolle
• Al hierdie inheemse bolle hou van dieselfde groeitoestande. Hulle moet meestal in volle son geplant word behalwe vir freesias wat semiskadu verkies; in grond wat goed gedreineer en bietjie sanderig is.
• Werk goeie hoeveelhede kompos in die beddings in en voeg omtrent ’n 3 cm-lagie molm op die oppervlak. Dit sal die grondoppervlak konstant hou en help om vog te behou.
• Dis belangrik om die voginhoud te monitor. As die grond te droog word, sal die plante baie minder blomme dra.
• Blombolle is perfek vir klein tuine. Jy kan met ’n relatiewe klein tuinuitleg, ’n ongelooflike tuin met vorm, kleur en tekstuur skep. Plant jou bolle in ’n gekonsentreerde massa eerder as om hulle lukraak in beddings in te druk.
• Selfs as hulle nie in die Wes-Kaap geplant word nie, sal hierdie bolle heel maklik in die meeste dele van die land aanpas.
• As jy jou hierdie plante mettertyd wil vermeerder, is dit wys om met ’n voedingsprogram te begin as die bolle klaar blomme gedra het.
• Daar is uitstekende kos vir bolle op die mark en ’n tweeweeklikse dosis sal verseker dat daar aan al die bolle se voedingsbehoeftes voldoen word. Dit is ook noodsaaklik dat jy sal aanhou water gee tot die blare natuurlik doodgaan.
• Wanneer jy dus die volgende keer die groot verskeidenheid bolle in herfstyd sien, onthou die rykdom van ons natuurlike flora. Hoewel tulpe en affodille nooit vervang sal kan word nie, is daar altyd plekke in jou tuin wat net die regte tuiste vir ons eie, inheemse bolle kan wees.
Bron Inligting is deur Hadeco verskaf. Besoek www.hadeco.co.za vir meer inligting